Dagsê Vriende,
Die dag het met my weggehardloop, maar ek is nie bang nie, want ek het die wêreld se tyd. Dit was ook alles vir ‘n baie, baie goeie doel. ‘n Vriend van my wie se getuienis ek die voorreg gehad het om vir hom voor te berei om in boekvorm uit te kom, was hier.
Hy het die gewoonte om net op te daag en van my hek te bel en te sê: Ouma maak oop, ek is lus vir koffie. Hierdie keer moes ek hom eintlik verwag het, want net gister het ek vir die Vader gevra om hom na my toe te stuur dat ek bevestiging kan kry oor iets waaroor ek twyfel.
Getrou soos ons Vader is, sonder dat ek Christo gebel het, kom hy vanoggend hier aan vir koffie. Dit is hoe getrou ons Vader is as ons Hom vra.
Op hierdie trant wil ek dit wat ons Vader op my hart gelê het met julle deel vandag. Die skrif kom uit Habakuk 3 en ons ken dit sekerlik almal.
Habakuk 3:17Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
18nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
19Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Die naweek gesels ek met ‘n vriendin van my daar teen die Olifantsrivier. Haar man is ‘n druiwe boer soos so baie van die mense daar wat ek ken en ook my eie broer.
Ek hoef nie vir julle te vertel dat die rivier hierdie jaar twee maal hewig oorstroom het nie. Dat die boere wat teen die rivier grond het, se grond twee maal vir lang periodes onder water was nie. Ook nie dat een van daardie kere juis was toe die druiwe moes bod nie.
Sy vertel my hoe hulle die druiwe omgery het, en sy so van ver af sien hoe pragtig die bome bod, dit is net groen loof waar jy kyk. Toe hou haar man stil en hulle klim uit en gaan na die bome – verstom was sy toe sy sien dat daar aan die mooi groen bome geen vrugte was nie.
Dadelik het dit my aan Habakuk laat dink. Hoeveel van ons is daar waar ons nie ‘n oes het of gaan hê nie. Tog leer Habakuk ons, dit is juis dan wat ons ten volle op ons Vader moet vertrou.
Dit sluit toe so mooi aan by die gesprek wat my vriende en ek vanoggend gehad het. My vraag aan hom was, moet ek nou die versekering en polisse stop? Die oes is oral swak. Sê ek nie deur dit te stop dat ek nie op ons Vader vertrou nie?
Sy antwoord: “Jy moet dit stop, want in die eerste plek in die versekering en polisse net jou eie planne om te probeer sorg vir die toekoms. Jy met God ten volle vertrou vir vandag en die toekoms, en nie jou eie agterdeure probeer oop hou nie.”
Dit laat my dadelik aan hierdie selfde man se getuienis dink – hoe hy toe en tot vandag toe God onvoorwaardelik vertrou. Hoe hy elke dag in alles die vraag wat God Hom bly vra: “Hoeveel is jy bereid om My te vertrou?” bly antwoord deur sy doen en later met ‘n ‘ten volle Vader, altyd ten volle’.
Ek het gevra dat hy met kom koffie drink, God het hom gestuur. God het hom die antwoord gegee wat ek moes hoor – steeds is die finale handeling in my hande. Gaan ek God vertrou en hierdie polisse en versekering kanselleer?
Vriende, so baie kry ons die antwoorde wat ons soek, maar die besluit bly in ons hande. God sal voorsien, vir die boer aan wie se wingerde daar byna geen oes is nie, en ook vir my en jou – ons moet net gehoorsaam wees en Hom ten volle vertrou.
Vra jy vir die antwoord en weier dan om te doen wat God jou vra? Gee oor, onvoorwaardelik, Hy belowe om jou te dra, dat Hy jou belange op sy hart dra en glo my Hy doen.