Na gister se heerlike harde bui reën, is alles bietjie afgekoel en vars. Hoop daar by julle is dit ook ‘n mooi dag.
Vanoggend luister ek na een van die pastore waarna ek elke dag luister en hy praat oor negatiewe mense in ons lewens en watter effek dit op ons lewens het. Hoekom ons dit nie moet toelaat nie.
Ons het almal ten minste een so ‘n persoon in ons familie, vriendekring of kennisse. Hoe nader dit aan jou is, hoe moeiliker is dit.
Ek het ook so ‘n persoon baie naby aan my, gelukkig kan ek in my motor klim en na my eie huis gaan waar daar vrede is.
Alles is moeilik, alles is verkeerd, die meeste ander mense is volgens hulle ondraaglik om mee oor die weg te kom. Daar is niks om voor te lewe nie. Ek het niks ontspanning nie. My lewe is so ‘terrible’. Dit is maar ‘n paar van die frases waaraan ek al te gewoond is.
Intussen is die waarheid, die persoon het ‘n werk met alle voordele waaraan jy kan dink. Die persoon is gesond. Die persoon het ‘n groot huis. Die persoon het twee voertuie. Die persoon het ‘n bankrekening wat sterk is.
Kyk wat is Paulus se raad aan ons:
Filippense 2: 14Doen alles sonder kla of teëpraat. 15Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16deur die woord van die lewe uit te dra.
Ek glo almal wat met sulke negatiewe mense te doen het, sal weet dat hulle jou kan uitput tot so ‘n mate dat jy nie kan beweeg nie. Dat hulle jou moedeloos en moeg vir die lewe kan maak. Dat hulle jou kan aftrek na hulle vlak en jy moet spartel en spook om net weer op te kom.
Die antwoord is net een woord – D A N K B A A R H E I D.
Sekerlik het jy al as dit vir jou te veel raak, weg getrek en al die seëning wat die persoon het genoem en hulle attent gemaak daarop daarop dat jyself nie een van daardie het nie, maar dat jy oneindig dankbaar is dat vanoggend deur ons Vader wakker gemaak is.
Dit help vir so ‘n paar dae … en dan gaan ons weer aan met die jeremiades.
Hoekom is hierdie mense in ons lewens?
Dit is die vyand se manier om jou en my aandag af te trek van die dinge wat belangrik is. Ons is die hele tyd besig om die negatiewe persoon te probeer akkommodeer en kry nie tyd om positief ons Vader se woord uit te dra, Sy waardes aan ander uit te leef nie. En die vyand verlekker hom daarin, want nou kan ons nie Jesus se opdrag uitvoer om uit te gaan en die wêreld van Hom te gaan vertel nie. Nie kans kry om Sy liefde, genade, voorsiening en guns aan ander te vertel nie.
Wat moet ons dan nou doen?
Efesiërs 5: 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.
Hier maan Paulus ons om nie ons tyd te mors nie, ook nie met negatiewe mense nie. Om elke geleentheid wat ons het liewer positief aan te wend vir die koninkryk van God.
Nou hoor ek jou vra: Hoe stap ek net weg van die persoon, ek gee tog om.
Daar is niks wat jy en ek kan doen of sê wat hierdie persoon gaan laat verander nie. Ons kan hoe probeer om hulle tevrede te hou, hulle sal na iets negatief soek en dit nog vind ook. Al wat ons kan doen, is bid. Ons Vader vra om hulle denkwyse te verander. Net God kan hulle verander, hulle denkwyse, hulle harte, hulle lewens.
Daarvoor het ons nie nodig om gedurig ons self bloot te stel en ons kosbare tyd te laat mors deur die mense in ons lewens wat negatief is nie – ons kan net daar in ons eie veilige spasie vir hulle bid.
Ons weet presies hoe moeilik dit is om van so ‘n persoon weg te loop – maar dit raak makliker en ek sal nie ophou bid totdat ons Vader hom/haar verander het nie. Maar myself blootstel, dit doen ek al baie makliker.
As jyself hierdie persoon is wat negatief is oor alles en almal, gaan sit asseblief iewers waar jy alleen is. Neem ‘n boek, maak twee kolomme, een vir die goeie volgens jou en een vir die slegte. Begin skryf en onthou gesondheid is genade, ‘n dak oor jou kop is genade, ‘n familie is genade, net vir ingeval jy nie geweet het nie. Kyk dan hoeveel dinge jy werklik het om voor dankbaar te wees. Elke dag as jy voel jy raak negatief, of praat negatief, herinner jouself aan daardie lys.
Ons Vader is net te vol liefde, genade, omgee en almag dat ons negatief moet wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking