Donderdag 12 Oktober 2023

Gee oor, wag, vertrou!


 Vriende,

Die week lê op sy rug, tog is dit nog ‘n mooi dag uit ons Vader se hand. Vir my om ‘n mooi dag te hê beteken dat daar net een nuwe blommetjie in my tuin moet oopgaan en my hart sing vir die res van die dag. Vir iemand anders is dit dalk baie meer …

Ek gesels gister met een van my vriendinne wat in Suid-Afrika bly. Die gesprek gaan oor dat sy haar bekommer oor dit en oor dat en nog wat en dat dit haar vermoei. Dit neem haar tyd op omdat sy besig is om planne te maak. Die verhoed haar om haar God gegewe talent uit te leef, want sy is geseënd met ‘n groot kreatiewe talent.

Julle wat my nou al leer ken het hier, sal dadelik weet wat my antwoord aan haar was, maar kom ek noem dit weer.

My reaksie: “Vriendin, dit is nie jou stryd nie, dit is ons Vader se stryd. Hy het reeds ‘n plan. Gee alles oor. Hou op om jou eie plannetjies te maak wat jou besighou en tot niks kom nie. Jy moet algeheel oorgee en op God vertrou.”

“Ek weet, ek weet, maar dit is soms so moeilik. Ek gee dit vir God, maar as ek weer sien het ek dit teruggeneem.”

Is dit nie wat ons almal doen nie? Is ons nie almal so ongeduldig soos my dierbare vriendin nie?

As iemand ons te na gekom het, wil ons dadelik dit regstel, maar Salomo gee ons die regte raad:

Spreuke 20:22 Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die Here, dat Hy jou help.

Vir seker kan jy weet dat Hy dit op die regte manier sal uitsorteer. Nie in ‘n vlaag van emosies waar daar meer skade as goed gedoen word nie.

Dan kom ons by die dinge waaroor ons bid, bekommer, nie raad voor het nie. Stoei en spook met planne. David het vir ons raad in Psalm 27.

Psalm 27: 14Vertrou op die Here!

Wees sterk en hou goeie moed!

Ja, vertrou op die Here!

Gee dit oor, al moet jy dit honderd maal op ‘n dag oorgee. Bly dit oorgee, glo en vertrou. Gaan aan met jou dag en jou dinge en vergeet daarvan. God, die Almagtige het dit!

Jesaja het vir ons wat oorgee, ons gehoorsaam is aan God se opdragte en op Hom alleen vertrou – wat ons almal moet wees – ‘n wonderlike belofte.

Jesaja 40: 31

Maar die wat op die Here wag

Sal hulle krag vernuwe;

Hulle sal opstyg met vlerke soos arende,

Hulle sal hardloop en nie moeg word nie,

Hulle sal loop en nie verslap nie.



Maar dit is nie al belofte wat daar in die Woord is vir ons hieroor nie.

Klaagliedere 3: 25

Die Here is goed vir die wat op Hom wag,

Aan die siel wat Hom soek.



Spreuke 3: 5-6

5 Vertrou op die Here met jou hele hart,

En steun nie op jou eie insig nie;

6Ken Hom in al jou weë,

En Hy sal jou paaie gelyk maak.


Hierdie belofte in Spreuke is ook die vers wat ek jare gelede gekry het, in Lutzville se kerk van Dominee Van den Heever toe ek voorgestel en aangeneem is.

Hier maan Salomo ons om nie op ons eie krag en eie insig te steun nie. Hoeveel kere het jy al gevind dat dit nie werk nie? Daarna gee hy ons die belofte dat as ons op God vertrou, hy ons paaie sal gelyk maak.

Dink julle nie dat ons almal niks het om te verloor deur te wag nie? Daar is nog vele meer beloftes in die Woord, en een ding is vir seker – God is nie ‘n mens wat leë beloftes maak nie – sy beloftes kom Hy na op sy tyd.

Kom vriende, dat ons ophou om ons moeg te stoei, soos ‘n vis aan ‘n lyn. Dit terwyl ons ‘n goeie, genadige, liefdevolle Vader het wat wag dat ons dit vir Hom moet gee en hom moet vertrou en geduldig op Hom moet wag en Hy sal dit vir ons oplos.


Gee oor, raak besig met jou dagtaak, en vergeet van jou sorge – ons Vader het dit!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...