Dinsdag 17 Oktober 2023

Is jy in die Geheimediens?


Dagsê Vriende,


Ek dink julle moet baie, baie besige mense wees. Hoekom dink ek so? Omdat daar ‘n paar duisend mense op die blad is waarvan net twee of drie ooit groet of deelneem. Het dit miskien daarmee te doen dat ons groot gemaak is dat mens nie oor die Woord van God praat nie? Ek hoop werklik nie so nie, want dan is ons almal in die moeilikheid.


‘n Pastoor het eendag gevra: Is julle ook van die Geheime Diens? Wat het hy daarmee bedoel? Of ek en jy ook van die is wat glo ons moet ons geloof geheim hou. Niemand mag daarvan weet nie. Ons mag nie daaroor praat nie. Net soos die agente van die Geheime diens.


Vriende, dit tyd is hier dat ons elke geleentheid moet gebruik waar ons kennisse, vriende, familie, wie ook al van Jesus se goeie nuus moet vertel. Anders hoe gaan ons Sy opdrag uitvoer dat almal kan weet wie Hy is, wat Hy vir ons gedoen het en wat dit vir ons beteken.


Daar is baie sulke onderwerpe wat taboe was toe ek opgegroei het, soos byvoorbeeld seks. Maar niemand is vandag meer bang om daaroor te praat nie. Hoekom kan hulle daaroor praat, daaroor hulle mening gee, maar nie oor die blye boodskap van Jesus nie?


Die blote waarheid is, dit gaan jou dalk uit die hemel hou. Die Woord is duidelik dat die begeertes van die vlees die dinge is wat tussen ons en ons Vader staan. Die eie wil, die eie begeerte.
Die waarheid is baie duidelik in die Woord:


LUKAS 9:26 AFR53
Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.


Dit is en bly ons opdrag tot die dag dat ons Koning Jesus kom om ons te kom haal. Moenie jouself flous met die gedagte dat ‘n ander mens se saligheid jou nie aangaan nie. Dit is ‘n leuen, want die Woord gee ons in meer as een plek die opdrag om soveel mense as wat ons moontlik kan na God te lei.


Net so min as wat jy jou kind kan sien steel en hom of haar nie daaroor aanpraat nie, net so min kan jy iemand anders sien in die verderf beland as jy iets daaraan kon doen deur hom na Jesus te lei.


Weereens hoef ons nie nou in vrees en bewing te staan omdat ons mense moet nader en hulle van Jesus vertel nie, maar ons kan rus in die wete dat Hy ons sal lei deur Sy Gees, Hy sal jou wys, jou die woorde en die ‘boldness’ gee. Jy moet net jouself gewillig verklaar. Daardie stemmetjie wat so in jou oor fluister: doen goed aan die persoon wat jy daar voor jou sien loop in die dorp – dieselfde stemmetjie sal jy ook lei.


Kom laat ons vissers van mense word, dit is immers ons opdrag van ons Vader.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...