Donderdag 05 Oktober 2023

Ons moet gaan ...






Goeiemôre Vriende,

Heerlike oggend hier, met ‘n windjie wat net die blare roer. Ek hoop daar by julle gaan alles ook goed en is die weer ook mooi, dat julle kan doen wat julle hand vind om te doen.

Wie van ons hou nie van reis nie? Ek dink daar is min mense wat kan sê hulle hou nie daarvan om te reis na ander dorpe, ander stede, ander plekke waar hulle nuwe mense kan ontmoet, of die mooi van die natuur kan sien nie. Van ons het nog net die voorreg gehad om in ons eie land te reis, ander het al die hele wêreld vol gereis.

Deur my werk het ek die geleentheid gehad om so bietjie in die wêreld in te reis. Ek was bevoorreg om die Grand Canyon te sien in al sy grootsheid en glo my dit is massief. Dit is so diep en wyd dat helikopters daar onder rond vlieg en dit lyk soos speelgoed helikopters. Ek het ‘n ‘road runner’, daardie voëltjie op Tom en Jerry wat so neep-neep maak en hardloop in lewende lywe gesien. Ek het regte rooihuide gesien, ‘n dorpie uit die vorige era wat ‘n regte ‘cowboy’ dorpie was, alles is nog net so. Soos ons dit in die western movies sien, die Saloon, die Sherif se kantoor, met die tralies van die tronk en voor dit die galg, die herberg, kompleet. Ons is selfs geleer hoe om ‘n vangtou te gebruik, dit was pret.

Daar is nou net een vang plek, wat doen ons as ons so reis? Want ons as kinders van die Lewende God het ‘n opdrag wat Jesus vir ons gelos het in van sy laaste woorde op aarde.

Markus 16:15
15Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Is is beveel om te gaan … wat is reis anders as om te gaan? Maar voer ons die tweede deel van die opdrag ooit uit?

Vergeet jy van God die oomblik wat jy by die voordeur uit loop, op pad om te gaan reis? Jou opdrag is om daar waar jy reis ook die evangelie te verkondig. Nee, jy hoef nie op die straathoek te gaan staan nie. Net daar waar jy tuisgaan, daar waar die portuur jou bagasie indra, daar waar die skoonmaakster jou kamer skoonmaak, daar waar jy in die restaurant eet, of saam met ander op ‘n vliegtuig sit vir ure.

ROMEINE 10:14-15 AFR83
Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

Kom ons gesels oor hierdie vers: Die woord preek kan bloot met vertel vervang word, en as jy vashaak by ‘gestuur’ – Jesus het ons almal gestuur, net net die predikante, pastore, en wat kerklike herders ook al nog genoem word, nie. Dit is ons almal se opdrag en verantwoordelikheid.

ROMEINE 10:17 AFR83
Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.


Dit is heel eenvoudig, as iemand jou nie van iets vertel nie, sal almal weet, en jy nie. So is dit ook met die goeie nuus dat Jesus vir ons gesterf het, en opgewek is uit die dood. Dat Hy ons sondes versoen het en ons uit liefde en dankbaarheid nou in gehoorsaamheid aan Sy wil moet leef.

1 KORINTIËRS 9:16 AFR83
As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

Hier kom ons broer, Paulus en maan ons dat ons nie ‘n keuse het nie. Dit is ‘n opdrag van ons Verlosser.
Vriende, wanneer jy weer reis, na ‘n ander dorp, binne jou omgewing, na ‘n ander stad, of oorsee – jy het ‘n opdrag. Hoe anders sal die wêreld weet van die goeie nuus as ons wat dit reeds weet, beleef en leef nie aan ander dit vertel nie.

Jy hoef ook glad nie ver te reis nie, jy kan net van jou huis tot by die winkel reis, daar sal iemand op jou pad wees wat hierdie nuus moet hoor. Is jy bang dat jy nie sal weet wat om te sê nie? Wel, ons Vader is ‘n liefdevolle vader wat aan alles gedink het, Hy sal jou deur sy Heilige Gees die woorde gee.

Reis so al wat jy kan, maar moet nooit vergeet om jou opdrag uit te voer wat Jesus jou self gegee het nie.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...