Dinsdag 10 Oktober 2023

Glo!


Môre, môre Vriende,


Vanoggend in Windhoek is dit die tipe weer wat ons as Namakwalanders baie opgewonde maak, want daar is ‘n belofte van reën in die lug. Hier by ons is dit bietjie anders as daar in ons Namakwaland, hier is dit heerlik warm, maar betrokke en die bome se takke wieg so saggies in die windjie.


Ek het ‘n goeie vriende, wie se getuienis ek die voorreg gehad het om te skryf. Hy het jare gelede ‘n ongeluk gehad in sy werkswinkel waar ‘n staal petroltenk in sy gesig ontplof het. Hy moes dood gewees het, maar God het ‘n plan met sy lewe. Sy hele gesig se bene was vergruis, daar is ‘n kraak in sy oogholte, deel van sy brein is beskadig. Met dit alles moes hy dan as hy sou oorleef, ‘n ‘vegetable’ gewees het wat niks vir homself kan doen nie, nie weet wat om hom aangaan nie.


Hierdie man het binne ‘n week vandat die ontploffing gebeur het, en die dokters ‘n sewe ure operasie op hom gedoen het, uit die hospitaal gekom. Hy is 100% normaal, al wat hy van hierdie verskriklike ongeluk oorgehou het, is dat hy geen reuk het nie. Die dokters en chirurge is vandag 15 jaar later nog steeds geskok dat hy lewe, wat nog te sê dat hy normaal is en mens glad nie kan sien dat sy gesig in ‘n ontploffing was nie en dit sonder enige plastiese chirurgie.


Hierdie man het ‘n vraag wat hy my geleer het om elke dag te vra: Hoeveel is ek bereid om God te vertrou met my lewe?


Kom ons gesels vandag bietjie weer oor geloof.


In Konings sukkel Elia met die volk wat baäl aanbid. Hy vra vir God om wondertekens te doen om hulle te oortuig. Ons Vader so getrou soos hy is, doen dit. Die volk erken dat Hy God is, maar tog is daar die wat nog altyd twyfel.


Elia, besluit om vir ‘n laaste maal hulle God se krag en getrouheid te wys, maar hier lees ons ‘n situasie wat ons baie goed ken.


Soms bid jy ook vir uitkoms, en glo as die nuwe dag aanbreek sal alles anders wees. Die nuwe dag breek dan aan en alles is dieselfde. Jy hou aan bid en glo, maar teen die vierde of vyfde dag begin jy twyfel. Hoor God my dan nie? Wat gaan aan? Dit is presies waarvoor die vyand gewag het. Nou kan hy jou met leuens begin voer, leuens wat jy so gemoedelik glo.


Lees wat het hier gebeur, en weet dat dit nie net met my en jou is wat dit so gebeur nie.


1 Konings 18:43 Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, 43sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.”
Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.”
Dit het sewe keer gebeur. 44Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.”
Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”
45Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak.


Die man moes sewe maal gaan kyk vir die reën en toe was hy steeds nie oortuig dat dit gaan reën nie, want die wolkie was maar baie klein wat hy gemerk het.


Tog het Elia opgetree in geloof, want hy weet dat die God wat ons dien, getrou is en dat Sy tyd nie altyd ons tyd is nie. En hy was reg.


Ons moet ophou om ongeduldig te wees met God. Ophou om te dink dat ons as mense beter weet as Hy, en begin vertrou soos Elia.


Dan kry ons vir Abraham, en ons ken almal die storie hoe God hom gevra het om sy enigste seun waarvoor hy so lank moes wag te gaan offer.


Ons sou summier in opstand gekom het. Hoe kan God so iets van ons verwag? Abraham daar in teen, het op God vertrou om te voorsien en God het. Hy was gehoorsaam, nie teen staande die feit dat die opdrag eintlik onmoontlik gelyk het.


Ek kom vandag vir jou vra: Hoeveel is jy bereid om God vandag, en elke dag met jou lewe te vertrou?
Al word jou gebed nie dadelik beantwoord nie, God is steeds dieselfde as wat Hy in Abraham se tyd was en sal altyd dieselfde bly. Hy het nog nooit Sy beloftes verbreek nie, op grond waarvan wil ons Hom dan nie onvoorwaardelik vertrou nie?


Begin elke dag hierdie vraag vir jouself vra. Begin om in Sy woord te lees wat sy beloftes is. Begin om te leer deur die leiding van die Heilige Gees om die Almagtige God wat Homself jou en my Vader noem onvoorwaardelik te vertrou met jou HELE lewe.


Gee Hom die eer vir alles wat jy het. Gee Hom die eer vir alles wat jy vermag met die gawes wat Hy jou gegee het.


Ek en jy is net hier deur ons Vader se liefde en genade en alle eer in die hemel en op aarde kom Hom elke dag heel dag toe.


Kyk na die roos hieronder en vra vir jouself - is daar iets wat die Skepper van hierdie wonder skone perfeksie nie kan doen nie?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...