Goeiedag Vriende,
Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand – in C Louis Leipoldt se woorde. Ek is heeltemal bewus dat dit dalk by julle nou eers lente raak, want die seisoene is heel op hulle koppe, maar steeds kan ons nie die mooiheid mis kyk nie. Hier in Windhoek is dit Somer, ons het gister ‘n heerlike 34 grade gehad. Die voëltjies hou fees in my moerbyboom, die amarillas blom en ek is dankbaar.
Vanoggend wil ek gesels oor hoe baie ons van onsself dink. Dit is ‘n baie gevaarlike onderwerp. Soos ons al baie gehoor het – moet nou net nie ‘n grootkop kry nie.
2 Korinthiers 12:11 kom Paulus en hy deel met ons ‘n groot wysheid, wat elkeen van ons se behoud kan wees.
11 AL roemende het ek dwaas geword. Julle het my daartoe genoodsaak. Want ek moes deur julle aanbeveel geword het; want ek het niks by dié uitnemende apostels agtergestaan nie, al is ek niks nie.
Wat bedoel Paulus met hierdie woorde? Dat omdat hy homself aan menslike standaarde moes laat geld, vir hulle moes bewys dat hy geskik is om die woord uit te dra volgens hulle standaarde, moes hy roem op wat hy weet, wat hy al gedoen het.
Ken ons nie almal daardie situasies nie? Jy doen aansoek vir ‘n werk, of jy bied aan om iets by die kerk of basaar te doen. Die eerste vraag is: Kan jy dit doen? Het jy dit al gedoen? Vertel ons van jou ondervinding?
Jy beter reg wees met ‘n lofprysing oor jouself wat jy kan boekstaaf met dokumente. Niemand gaan jou glo as jy antwoord met: Ek het dit nog nie voorheen gedoen nie, maar ek weet dat my Vader my die wysheid en insig sal gee om dit te kan doen.
In ons dag en tyd moet jy die hele dag jouself besing op Facebook dat mense kan weet hoe oulik jy is, hoe goed jy is, watter wonderlike dinge jy kan doen en al bereik het.
Dit is ongelukkig nie God, Jesus en die Heilige Gees se standaarde nie.
Ons Drie-enige Vader, se standaarde is: as jy My wil volg, My wil wil doen, moet jy totaal en al oorgee. Dan is dit nie meer jy, jy, jy, nie, maar Ek deur jou.
Kom ons kyk na ‘n paar skrifte uit die Woord na hierdie stelling.
Jesaja 41:14. “Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel. Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande; jy sal berge dors en fynmaal, jy sal van rante kaf maak.”
Ons is niks, ons in niks meer as ‘n wurm nie – tot verhef God ons deur Jesus se kruisdood tot Koningkinders.
Johannes 15:4-6.'Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.'
Baie duidelik is dit van hierdie verse, dat as ons nie in Christus bly nie, ons niks is nie, ons niks kan uit ons eie nie.
Romeine 6: 11 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.
Romeine 6:11So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
12Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.
13En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.
Ons is net lewend deur Jesus Christus. Dus het ons niks om op te roem nie. Dus jou selfverheerliking sessie op Facebook is nie van God nie. Dit is alles net genade, jy het geen deel daaraan nie. God het jou ‘n gawe gegee, om Hom mee te verheerlik, nie om jou eie beuel mee te blaas nie. Die eer kom Hom alleen toe. Hy deur jou!
Al hoe jy hierdie kan gebruik en op Facebook plaas, is as jy alle eer vir God gee. Dit baie duidelik maak dat dit alles Sy goedheid en guns en gawes is. Dat Hy jou net gebruik en daarvoor is jy dankbaar.
Wie is ek en jy?
Ons is niks sonder Christus nie. Hoe gouer ons dit besef en Hom die eer begin gee wat Hom toekom, hoe beter vir ons saligheid. Wie is ons in Christus? Koningkinders, want ons Vader, Redder en Trooster is die Drie-enige God en Koning van die heelal.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking