Donderdag 19 Oktober 2023

Vat jy raad?


Vriende,


Hoop by julle is alles wel. By my is dit presies soos ek daarvan hou, somer en oorgenoeg om my mee besig te hou.


Vanoggend wil ek kyk na iets wat ek glo baie mense sal raak. Ons is almal vreeslik gewillig om raad uit te deel aan ander, maar neem jy ook raad van ander?


As ons na ons vriende en familie en soms net kennisse luister, en ons hoor hulle sukkel met iets, dan is ons soms vinnig om raad te gee. Daarbenewens voel ons hulle moet ons raad neem, anders is hulle dwaas.


Is jy net so ontvanklik vir die raad van ander as wat jy is om dit uit te deel? Luister jy na jou vriende, jou vrou, jou man, selfs jou kind se raad? Of maak jy dit net af as nonsens?


Selfs die groot manne van God in die Woord soos Paulus, Dawid, Moses wat wys was en naby aan God geleef het, moes raad neem van vriende by tye.


Spreuke 19: 20Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees.
21 Baie planne is in 'n man se hart, maar die raad van die Here, dié sal bestaan.


Soms is ons so in die situasie dat ons nie kan sien wat om te doen nie, maar die mense daar buite sien. Dit is wanneer hulle jou kan bedien met raad omdat hulle dalk nie emosioneel betrokke is nie. Self Salomo, die wysste man op aarde het gevoel dat ons moet weet dit is wys om raad aan te neem.


Natuurlik moet ons daaroor bid en hoor of dit God se goedkeuring wegdra. Dit kan ons eers doen as ons geluister het, en dit oorweeg om daardie raad te gebruik.


Hierdie begrip kan ook deurgetrek word na ander dinge in ons lewens. Is jy die een wat altyd met almal besig is om te terg, ‘n grap te maak, ‘n poets te bak? Hoe tree jy op as hulle dit met jou doen?


Die begrip – as jy dit uitdeel, moet jy ook bereid wees om dit te vat kom na my. Dikwels dink ons nie wat ons uitdeel aan ander nie, maar as een van hulle dieselfde aan jou doen, is jy ontsteld.


Laat ons vandag bedag wees daarop om nie ander te wil dwing om ons raad te neem, om okei te wees met die grap, om die poets te moet aanvaar, terwyl onsself dit dalk nie sal kan hanteer as hulle dit doen nie. Kom ons vra onsself voor ons optree, voor ons praat, as die situasie omgedraai was, sou ek dit geniet het?


Baie mense kan nou aanvoer dit is hulle geaardhede – jy bepaal hoe jy optree – onthou asseblief vandag en elke dag dat elke mens waarmee jy in aanraking kom deur God na sy beeld geskape is, dan hulle so kosbaar vir Hom is dat Jesus, ons Koning vir hulle aan ‘n kruis moes sterf. Mense is almal kosbaar vir God, ongeag wat jou mening oor daardie mense is. Daarom moet ons baie sagkuns met ons medemens omgaan.


Laat ons nie die selfsugtige, impulsiewe, ongevoelige mense wees wat onsself daarop roem dat dit van ons gesê kan word: "fools rush in where angels fear to tread".


Ek laat julle vir die dag met die baie bekende Matteus 11:25 - “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”
As Jesus ons Verlosser se juk sag en las lig is, wie is ons dan om sy mense anders as met respek te behandel?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...