Dagsê Vriende
Die dag het ook al aan beweeg, maar soms roep plig mos maar en moet ons toegee. Vanoggend het ek eers my huisie bietjie bederf en alles weer mooi skoon gemaak. Stok flou, rug seer, maar gelukkig.
Vandag wil ek met julle ‘n ware storie deel wat besig is om nou te gebeur. Sowat twintig jaar gelede het ek met ‘n man uitgegaan wat ek in die gimnasium ontmoet het. ‘n Man wat net spiere is en sowat nege jaar ouer as ek maar hy lyk twintig jaar jonger as ek.
Ons was albei fiksheidsmal daardie tyd. Ek het elke dag vyf uur in die oggend vir twee ure gaan oefen, en ek bedoel oefen. Hy was bekend in fiksheidskringe, het al aan wêreldkampioenskappe deel geneem en weet hoe om ysters en baie swaar ysters daarby op te tel.
Dit is nie al nie, hy eet ook net presies kosse wat gesond is. Hy eet nie vet, suiker, stysel, junk food, nie. Hy is vandag al sewentig jaar oud en vir die laaste sewentien jaar het hy sy eie gym by sy huis dat hy ongeveer drie tot vyf ure ‘n dag kan oefen.
Gisteraand kry ek ‘n boodskap van ‘n vriendin wat ons afgerig het jare gelede. ‘Eric kry môre ‘n baie groot hartomleiding. Bid asseblief vir hom.’
Was ek verstom? Ja beslis. Hier is ‘n man wat gemiddeld drie ure ‘n dag oefen en reg eet sy hele lewe lank. Hy drink nie, hy het nie ‘n vrou of kinders wat hom bekommernisse kan gee nie. Ons kyk van buite en is van mening die man moet so goed soos nuut wees.
Ek kontak hom toe en al wat ek kan sê ek was verstom vir hoe God se planne werk.
Al drie sy hoof slagare wat na sy hart gaan is toe … nie vernou nie, toe! Die kardioloog is verstom dat hy nog leef. Dat hy nie eers ‘n hartaanval nog gehad het nie. Vanoggend het hy ‘n driedubbele hartomleiding gekry.
Wat het ek hieruit geleer? Ons kan oefen, ons kan reg eet, maar as God se plan anders lyk, sal dit so gebeur. Ons dink ons kan ons lewens beheer, ons lewenskwaliteit beheer, maar dit is nie so nie, ons Skepper is in beheer. Niks wat ons kan doen, kan ons een uur of een dag of een jaar langer laat leef as ons tyd wat God bepaal het nie.
Ons kan spook en stoei, maar as ons nie ons lewens in God se hand sit nie, sal ons gespook en gestoei niks oplewer nie. Nie jou geld, jou posisie, jou plaas, jou familie agtergrond, of wat ook al beteken vir jou iets as jy nie vir God het nie. Salomo was nie verniet die wysste man op aarde nie – sy woorde is werklik waar, want hy het hulle immers van God self gekry – sonder ons Drie-enige God, is ons niks en is alles ‘n gejaag na wind.
Hierdie man het geld, hy het geglo hy het gesondheid, hy het op sewentig die lyf van ‘n dertigjarige jongman, hy wil nie kinders en ‘n vrou hê nie want hy wil niks nonsens in sy lewe hê nie – maar wat het dit hom gehelp? Niks.
Ek is dankbaar om te kan sê dat hy wel intussen vir Jesus aangeneem het. My woorde aan hom gisteraand was: God het beslis nog ‘n plan vir jou lewe, dit is hoekom jy nog leef met drie toe slagare.
Ons Vader se genade verbyster my elke dag. Al wat ons kan doen is dankbaar wees en elke oggend nuut ons lewens oorgee aan Hom.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking