Goeiedag Vriende,
‘n Lekker somersdag hier in Windhoek en die temperatuur gaan draai vandag by 34 grade. Dit mag dalk warm klink, maar as ek so na my vriendin in Hamburg, Duitsland luister en sy vertel hoe vriesend koud dit daar is, dan voel ek dankbaar.
Vanoggend luister ek na ‘n nuwe pastoor se oordenking wat een van my dierbare vriendinne aangestuur het en dit is so waar en treffend.
Hy kwoteer die alombekende gesegde: Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei.
Daarna kom die uitklop hou. Ons ken almal sulke nuus wat so versprei. Ons weet almal dat dit gewoonlik ‘n skinderstorie oor iemand of die verval van die wêreld of een of ander slegte nuus is wat so versprei. Mense kan nie wag om dit te versprei nie.
Die vraag is, hoekom kan dit nie goeie nuus wees wat ons so versprei nie? Hoekom kan ons nie die evangelie so versprei nie. Evangelie beteken goeie nuus.
Die goeie nuus dat Jesus mens geword het, vir ons gesterf het dat ons die ewige lewe kan hê, ‘n verhouding met ons wil hê elke dag, nog steeds elke sekonde van die dag vir ons intree my Vader God.
Ken jy iemand anders wat bereid sal wees om in jou plek te sterf?
Ek ken nie ...
Ken jy iemand anders wat jou sal bly liefhê en seën al ken hulle jou diepste donkerste geheime?
Ek twyfel sterk.
In Romeine 1 groet Paulus ons deur te vertel dat hy geroep en afgesonder is om die Evangelie van God te verkondig. Hy herinner ons daaraan dat ons net soos hy geroep is, nie noodwendig om ‘n apostel te wees nie, maar om as kind van God die Evangelie soos ‘n veldbrand te versprei aan mense wat ons op ons lewenspad teë kom.
Romeine 1
Opskrif en seëngroet.
1PAULUS, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God —
2wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte,
3aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid
4en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here,
5deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam,
6onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus —
7aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
Kom ons leef uit wie ons in Christus is, kom ons wees Sy ambassadeurs, wat bemagtig word deur Sy bloed. Kom ons kweek ‘n leefwyse waar ons die goeie nuus soos ‘n veldbrand gaan laat versprei tot God se eer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking