Weereens ‘n heerlike koel oggend, met nuwe beloftes uit ons Vader se hand. Hier by my loop die woorde en ek is in my element.
Vandag kom daar ‘n vermaning uit die Woord na ons. Ons vind dit in Handeling 12. Ek dink ons sal almal wat die Woord lees, en ons Vader ken daarmee saamstem dat ons in die laaste dae leef.
Nou dit is ‘n begrip wat verskillende mense verskillend interpreteer. Ons weet almal dat God se begrip van tyd en ons s’n nie dieselfde is nie. So die term ‘in die laaste dae’ interpreteer ons dalk verkeerdelik as in die volgende maand of jaar. In ons Vader se tyd kan dit in die volgende tien jaar dalk wees. Die Woord is baie duidelik dat niemand sal weet nie. Ons kan dit net aan die tekens in die wêreld sien wat in die Woord opgeteken is vir ons.
Dit gesê, beteken dit vir ons as kinders van God dat ons altyd gereed moet wees. Dit is waar die vermaning in Handeling vandag inkom.
Petrus is in die tronk, Herodes is van plan om hom te laat dood maak die volgende dag en hy word swaar bewaak.
Handeling 12:
6En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak.
7En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.
8En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my!
God is getrou en doen ‘n wonderwerk vir sy profeet. Tog as Petrus nie die Engel gehoorsaam het nie, nie opgestaan het en gedoen het presies soos hy beveel was nie, sou dit alles niks gehelp het nie. Hy sou steeds daar in die tronk gesit het al was die kettings los. Herodes sou hom steeds doodgemaak het.
Wat is die les wat ons hieruit moet leer?
Baie, baie belangrik. God kan vir ons hoeveel wonderwerke stuur, hoeveel deure oopmaak, maar as ons nie gehoorsaam is en tot aksie oorgaan nie, sal ons steeds in die tronk bly.
Ons kan na hoeveel lewensveranderende preke luister, hoeveel ervarings met die Heilige Gees beleef, maar as ons nie opstaan en dit gaan doen wat die Woord ons beveel nie, sal ons nooit die hemel sien nie. God verwag van ons om gehoorsaam te wees, om nie net hoorders van die Woord te wees nie, maar daders soos Sy opdrag in die Woord ook uitdruklik is.
As jy vandag hoor dat jy ‘n miljoen rand gewen het, en dit jou lewe kan verander, maar jy bly net daar waar jy is en doen niks om daardie geld in die hande te kry nie, sal jou omstandighede ook nie verander nie. Net deur te hoor dat jy dit gewen het, gaan niks aan jou omstandighede verander nie.
Jesus was nooit lank op een plek nie, hy was gedurig besig om dit wat Sy Vader, ons Vader vir hom gevra het om te doen te gaan doen. Hy was besig om te bid, besig om mense te leer uit die woord, besig om aan mense liefde, barmhartigheid en vrede te leer, besig om mense te genees, besig om ons gehoorsaamheid tot die dood te leer.
As die Koning van die wêreld, die Een wat daar was aan die begin, die Een wat ons Verlosser is, wat self God is nie net gehoor het nie, maar gedoen het – het ons dan nie die perfekte voorbeeld nie? Moet ons dan nie net in Sy spore volg en doen soos Hy gedoen het nie?
Kom ons luister nie net nie, maar leef Jesus.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking