Vrydag 27 Oktober 2023

Blywende vreugde ...


 Goeiemôre Vriende

Nog ‘n week se uurglas het uitgeloop en vanoggend is dit koeler, want die windjie roer so bietjie. Hierdie naweek is een waaroor baie ontsettend opgewonde is – die Bokke speel eindstryd. Julle moet dit geniet en mag die beste span wen.

Vanoggend kom deel die Prediker sy wysheid met ons in Prediker 2:1-10 en wil ek dit graag met julle deel, want ek glo ons was al almal op die plek waar ons soos die Prediker geglo het.

PREDIKER 2

Vreugde en rykdom gee geen geluk nie.

1EK het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs.

2Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?

3Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik — terwyl my hart my met wysheid sou lei — en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae.

4Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant.

5Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.

6Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei.

7Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het.

8Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte.

9En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly.

10En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.

11Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

12Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat lankal gedoen is!

13Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die lig die voorkeur het bo die duisternis:

14die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.

15Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is.

16Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse net soos die dwaas!

17Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind.

18En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat ek dit moet oorlaat aan 'n mens wat ná my sal kom.

19En wie weet of hy 'n wyse sal wees of 'n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook dit is dan tevergeefs.

20Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.

21Want daar is 'n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei het; tog moet hy dit as deel oorgee aan 'n mens wat daaraan geen moeite bestee het nie. Ook dit is tevergeefs en 'n groot euwel.

22Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son?

23Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.

24 Dit is nie 'n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.

25Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?

26Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.

Net om soos die Prediker te vind dat alles ‘n gejaag na wind is en ons steeds nie blywende geluk geniet nie.

Dat nie ons rykdom, vriende, besittings, partytjies, ontugtige lewe ons plesier verskaf nie.

Ons hoogste goed en ons enigste blywende vreugde lê in ons Drie-enige Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons kan eers gelukkig wees, as ons tevrede is met dit wat God ons elke dag mee seën, of dit baie of min is. Ons geluk lê nie in ons besittings, of bank balans nie, net in ons God.

Wanneer ons die naweek waar ook al met wat ook al besig is, kom ons vra onsself … bring hierdie vir my blywende geluk? Eer dit my Vader, die Een wat my elke oggend wakker maak? Gee ek die tyd aan Hom wat my lewe gee wat ek aan aarde dinge en genietinge gee? En wat bring dit my in die sak?

Kom ons vind ons vreugde in die Here. Hy het my vanoggend wakker gemaak met die ou bekende liedjie – Al die veld is vrolik in my kop. Asof ek dit gister nog gesing het het die woorde deur my gedagtes gedraal en ek het net geweet, my Skepper God is groot en almagtige en net in Hom kan ons vreugde vind.


Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;

al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.

Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;

hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.



Selfs die vissies spartel teen die kafferskuil;

in die groot ou eikeboom droom ‘n oupa-uil.

Oral in Karooland is ‘n ruik versprei:

boegoeblom en appelkoos–kan jy beter kry?



Bind vir my tesame katjiepiering wit,

bobbejaantjies blou en bont, rose in gelid,

varings van die klippe, oral, ai só mooi,

rooi kalkoentjies uit die vlei–blomme uitgestrooi.



Vrolik is die wêreld, vrolik rant en vlei!

Elke koggelmannetjie het sy maat gekry.

Elke gons’rig’ goggatjie is getroud of vry:

vrolik is die wêreld hier, vrolik veld en vlei!



Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!

Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!

Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–

dis tog so prettig! Wie dans met my?

Al in die rondte, vrolik en bly!

Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!

Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–

dis tog so prettig! Wie dans met my?

Al in die rondte, vrolik en bly!



Woorde: C. LOUIS LEIPOLDT



Mooi loop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...