Goeiemôre Vriende,
Vanoggend groet ek julle met ‘n nog meer dankbare hart en heeltemal in verwondering oor ons Vader se guns, seën en liefde op my woorde. Gisteraand is twee van my boeke as boekpryse tydens die Prysuitdeling van Lutzville Hoërskool aan die matriekleerling gegee wat die beste punte in Afrikaans behaal het. Ek is nederig dankbaar vir hierdie voorreg om terug te ploeg in my alma mater waar ek my liefde vir Afrikaans ontwikkel het.
Vanoggend luister ek na die oordenkings, en dit val my weereens op dat die boodskap van twee pastore dieselfde is.
Albei moedig aan om te volhard. Om soos Matteus 7:7 ons ook vertel om te doen, aan te hou vra, aan te hou soek, aan te hou klop en ons Vader sal jou verhoor.
Matteus 7: 7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
As jou kind weg raak, gaan jy net by jou bure soek? Nee, jy gaan beslis die hele wêreld omkeer en soek en aanhou soek totdat jy jou kind kry. So vasberade moet ons ook vir God en sy seëning soek.
Opgee is nie ‘n opsie nie. Daardie saak wat jy al so lank oor bid, moenie opgee nie. Die vyand wil hê ons moet opgee. Maar jou deurbraak is op pad. Ons Vader is groter as die uitdagings van die wêreld.
Dit is tyd dat jy die werke van
die vyand bind. Sonder jouself af en bid tot ons Vader.
Daar is vandag mense wat nie weet hoe om die rekeninge te betaal nie, wat nie weet hoe oor hul huwelik nie, nie weet hoe oor hul kinders nie. Roep uit tot ons Vader, Hy hoor jou.
Wat ook al jou berg, weet dat God jou nooit sal begewe en verlaat nie. God sal jou deur jou verlies dra. Hy sal jou deur jou matriek eksamen dra. Hy sal jou deur jou finansiële uitdaging dra. Hy sal jou deur wat ook al dit is wat jou hopeloos maak, dra.
Matteus 11: 28Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
Bid, en weet dat God nog nie klaar is met jou nie. Hy het jou lief, Hy sal jou nooit los nie.
Gaan hierdie naweek in met die
wete wat ook al jou situasie, God weet. Opgee is nie ‘n opsie nie, bid
geduring!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking