Goeiedag Vriende,
Nouja, vanoggend behoort ‘n besonderse goeie oggend vir die meeste van julle te wees, want die Bokke het gewen. Hoekom verbeel ek my dan ek hoor ‘n gebrom wat klink soos ‘wat sal die Bokke se wen nou aan ons uitdagings verander?’ As ek reg is, is ek bly.
Hoekom is ek bly as julle so presies dit brom?
Voor en na die rugby, het ek baie gewonder, en het die Heilige Gees gedurig die vraag op my hart gelê. Hoe is dit dat mense so mense kan aanbid? So kan aangaan oor mense, so kan toelaat dat mense hulle hele lewe en gemoedstoestand oorheers.
Hierdie rugby het vir ‘n baie lang tyd die aandag en tyd van miljoene mense in beslag geneem. En glo my ek weet dat hierdie boodskap op baie tone gaan trap, maar ek is die boodskapper wat graag hierdie boodskap uitstuur.
Mense het laat wakker gebly, hulle dood gestres, kwaad geraak, geskree en gegil op vyftien mense oor wie se doen en later hulle geen beheer het nie. Steeds het hulle vas bly staan agter hierdie mense, hulle vertrou om die Wêreldbeker vir Suid-Afrika huis toe te bring.
Die vraag is, doen ons soveel moeite vir ons Vader? Spandeer ons soveel tyd in Sy woord om vas te stel wat sy wil en sy wense vir ons is? Spandeer ons soveel tyd in gebed vir ons land, vir ons mens, vir ons siele?
Dit was baie opmerklik dat die kerk gister weereens baie leeg was, want sien almal het mos Wêreldbeker gekyk en seker daarna gevier. Dus is hulle moeg.
God moet eers wag tot ons weer reg is en weer Hom nodig het. Waarmee is ons besig? Is ons besig om die mens en sy dinge so te aanbid, dat ons nie by God uitkom nie? Dat ons net na Hom gryp as ons hom nodig het?
Vandag moet jy met jouself eerlik wees, want sien jou antwoord gaan my nie beïnvloed nie, net my eie antwoord kan en daaraan moet ek self werk. Die Vader ken reeds jou antwoord.
1 KONINGS 8:27 AFR83
“Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!
Hierdie vers het vanoggend my asem weg geslaan. Dit is die beste beskrywing van ons Almagtige Drie-Enige God wat ek nog gelees het in Sy Woord.
Tog is dit dieselfde Vader, vol van liefde, vol van genade, vol van barmhartigheid, vol van voorsiening, wat ons so maklik eenkant toe stoot vir die mense en dinge van hierdie wêreld.
Vanoggend is die Wêreldbeker gewen, die opwinding is verby … lyk dinge anders in jou lewe? Nee, want dit is nie die ding wat jou voortbestaan en vreugde kan waarborg nie. Dit is net ons Vader wat dit kan doen.
Vriende, hoekom is dit so moeilik vir ons om tyd te spandeer met die Een wat ons lewe in Sy hand hou? Ons al vir soveel jare dra. Ons liefhet, ons belange op die hart dra. Hoekom wil ons Hom nie beter leer ken nie?
Het dit nie tyd geword om voorraadopname te hou van jou lewe nie, en daarna met die Een te begin ‘n verhouding bou wat so lank al wag, steeds getrou was al was die verhouding net so eensydig van Sy kant af.
Mag ons eerlik met onsself wees, en ons tyd so begin spandeer met die Een wat dit ewigheidswaarde kan gee.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking