Donderdag 26 Oktober 2023

Meel is sleg, maar beskuit is heerlik!



Goeiemôre Vriende,


Laat ons wikkel terwyl die dag nog koeler is, want somer is hier in Windhoek as julle gewonder is waar sy is. Daarby is sy hard aan die werk, maar steeds is ek dankbaar dat ek in Windhoek woon en nie in Vredendal nie. Ek sal daardie drukkende, klam hitte in my hele lewe seker nooit vergeet nie. Tog verkies ek steeds somer ver bo winter.


Vanoggend kom deel ek graag met julle ‘n gebed wat ek ontvang het wat vir ons elkeen ‘n les of twee in het.


‘n Boer se bed ...


Die nuwe dominee op die dorp word uitgenooi na 'n manne-ontbyt saam met 'n groep boere. Hulle vra een van die ouer boere om die seën vir die ete te vra.
"Here" begin hy.
"U weet hoe ek karringmelk haat.
Die dominee is geskok.
Hy loer onderlangs na die boer.
Hy is ongemaklik, hy weet nie wat om te dink nie.
"Here ek haat varkvet"
bid die boer voort.
Die dominee is geskok. Hy loer weer onderlangs na die boer.
Hy is ongemaklik, hy weet nie wat om te dink nie.
"En Here, U weet dat ek rou koekmeel nie kan vat nie", bid die boer voort.
Die dominee loer weer en sien dat van die ander boere ook ongemaklik raak.
Die boer bid voort:
"Maar Here, wanneer ons dit alles saamgooi, dit meng en bak, kry ons die lekkerste beskuit.
So, Here, wanneer dinge gebeur waarvan ons nie hou nie, wanneer die lewe druk en ons sukkel om te verstaan wat U vir ons wil sê, help ons om te ontspan en op U te wag, terwyl U die bestanddele meng en beskuit bak.
Ons kan nie wag vir die beskuit nie.
Daar is baie dinge waarvan ons nie hou nie en die mengproses is nie altyd lekker nie, maar kom ons ontspan en fokus op die eindproduk. Kom ons sien met verwagting uit na dit wat God vir ons wil gee.
My "beskuit" is in die Here se oond!!
Ek kan nie wag nie . . !
Amen ...


Hierdie het my laat besef, hoe dikwels ons vaskyk in die dinge waarvan ons nie hou nie, en die deurbraak mis waarvan dit deel is. Ons fokus op die negatiewe, en sien nie die positiewe wat God besig is om te doen nie.


Dit kom net weer terug daarna dat ons elke dag aan ons Vader moet oorgee – algeheel en Hom ten volle moet vertrou met waarmee Hy besig is in ons lewens.


Ons mag Hom vra om ons deur sy Gees vrede en rustigheid en geduld te gee om te wag op Sy uitkoms wat die beste vir ons is.


Terwyl ons wag moet ons waak daarteen om gedurig dood oor onsself te spreek. Soos bv. ‘ek weet nie hoe ek my rekening gaan betaal nie’ of ‘ek gaan nooit uit hierdie gemors kom nie’ of ‘ek sal nooit gesond word nie’. Ons besef dit nie, maar baie van die dinge wat in ons lewens deurmekaar is, is ons eie woorde wat ons gespreek het.


Gaan sit vandag en dink aan die dinge wat jy oor jouself spreek. Daardie klaagliedere, daardie ontevredenheid. Begin spreek lewe in jou lewe, want dit is wat God vir jou het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...