Aan alles is daar ‘n einde
elke dag het net vier en
twintig uur
so storm ons voort
sonder huiwering of stuit
daar is nie tyd
om te stop
te kyk
wat wie het jy
almal plat getrap …
tot dat die son
op die westerkim
in goudglorie groet
die dag stil raak
en jou dwing
om ook tot stilstand te kom
dan land jy
soms ook
soos die doring boom
op die rand van ‘n stroom
en skrik jy vir
die mens
in die water
moeg gejaag na wind
ongevoelig teenoor God se kind
sien jy die spore
van die verwoesting
wat jy alleen aangerig het
met jou woorde
met jou dade
met jou ongevoeligheid
en ongeduld
die dowe doodse spoor
weerkaats vanuit jou oë
tot hier in die water voor jou
soos ‘n Raka van ouds
kom dit uit die water na jou
lag jou uit
tart jou uit
kla jou aan
jy wat jouself so besig hou
met die wêreld se gewoed
sien jy jou dooie gees
na jou terug staar
hoor jy die woorde
van die wyse Salomo –
alles is ‘n gejaag na wind -
veraf in jou ore weergalm
soos ‘n eggo oor die velde
wyl die goueglorie van die son
jou alleen agterlaat
om te wroeg
oor die lyke
wat jy lewend
agtergelaat het
om te ly …
hoe het jy die ure
van hierdie dag gevul
het jy ook lewende lyke
agtergelaat
of kan jy saam
met die goudgloedglorie
van die son
gaan rus
jou spieëlbeeld
in die water
een wat vredig na jou glimlag
want hierdie dag
het jy geloop
in Jesus se omgee spore
Sy vrede het met sononder
soos die stilte oor die vlaktes
diep in jou hart kom lê
het jy vandag geleef
dat jy jouself in die oë kan
kyk
met vrede in jou hart?
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking