Donderdag 21 September 2023

Tel jou woorde


 
Goeiedag Vriende,

Heerlike stil, lentedag hier by ons. Ek glo julle kry nog koud, maar as dit darem so nou en dan reën is dit mos ook goed. Kyk so daarna, dan het die boer darem ‘n rede om so ‘n ekstra paar keer die huis in te kom vir ‘n koffie en geselsie met mamma. Niks is ooit net negatief nie, dit hang van ons af hoe ons daarna kyk.

Vanoggend luister ek na een van die Pastore en hy praat uit Prediker 5 oor die mense wat so maklik praat. Wat so maklik beloftes maak aan God wat ons nie hou nie. Wat so maklik ander seermaak en afbreek met woorde.

Ek het nog gewonder of dit die boodskap is wat ek vandag moet deel om ons Vader se Naam groot te maak, toe onthou ek van ‘n gesprek wat ek gister met een van my baie naby vriendinne waarmee ek van skool af saam kom gehad het.

Dit is juis gegaan oor woorde. In haar skoonfamilie is daar ‘n vrou wat baie gesteld daarop is dat sy ‘n christen is. Sy vertel dit vir almal wat wil luister. Tog dieselfde vrou is die een wie met haar mond elke keer as hulle bymekaar kom woorde sal uiter wat afbreek, wat seer maak, wat weg dryf.

My reaksie daarop was – wat die hart van vol is loop die mond van oor. As jy ander afkraak en afbreek en seermaak, is dit beslis nie die Drie-Enigheid wat heers in jou hart nie. Dan kan jy maar vir die wêreld vertel dat jy ‘n christen is, maar dit is net leë woorde.

Kom ons kyk na wat die wyse Salomo in Prediker 5 sê van ons woorde en hoe ons daarmee moet omgaan.

PREDIKER 5

Lewenswysheid.

1WEES nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou 'n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.

2Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.

3 As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.

4Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.

5Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?

6Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!


Buiten die feit dat jy iemand seer gemaak het, kan ons maar vir seker wees dat ons Vader rekenskap sal eis vir ons woorde. Daarom moet ons mooi dink voor ons praat. Sal dit wat ek nou wil sê tot eer van God wees? Sal dit opbou? Sal dit reflekteer dat ek die Heilige Gees in my hart het? Indien nie, bly dan eerder stil.

My dierbare geliefde tante wat my grootgemaak het, het altyd gesê: ‘my kind as jy niks goeds van iemand of iets kan sê nie, bly dan eerder stil’. Watter wyse woorde is dit nie.

As jy iemand is wat die wêreld probeer oortuig dat jy ‘n kind van God is, wees baie versigtig oor wat oor jou lippe kom. Jy kwes nie net die mense om jou nie, jou bring ook God se naam in oneer. Gaan doen introspeksie en vind die oorsprong van jou lelike, bitter, afbrekende woorde, want glo my daar is altyd ‘n oorsprong wat jy diep weg bêre en uithaal as jy ander wil seermaak omdat jy seer het waarvan niemand weet nie.

‘n Druiwe boom sal nooit gifappels dra nie – net so min sal ‘n ware kind van God ander met hulle woorde kwes.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...