Goeiedag Vriende,
Ek verneem julle bibber nog steeds, hier by my is dit ook koeler as gewoonlik, maar darem nie naasteby so koud soos by julle nie. Bly warm en gesond asseblief. Ek is saam met julle dankbaar vir die reëntjie wat ook uitgesak het, elke druppel is ‘n gawe uit ons Vader se hand, en ons glo ook dat Hy die koringoes sal seën.
Ons gaan aan met koning Salomo se wysheid in Prediker 3.
Prediker 3
Elke ding het sy tyd soos God dit bepaal.
1ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd:
2'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is,
3'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou,
4'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van vreugde rond te spring,
5'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing,
6'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi,
7'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek,
8'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede.
9 Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei?
10Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
11Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
12So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.
13En ook — dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God.
14Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.
15 Alles wat is, was alreeds; en wat sal wees, was alreeds; en God soek weer op wat verbygegaan het.
16Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg — daar was onreg, en die plek van geregtigheid — daar was onreg.
17Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk.
18Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.
19Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.
20Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.
21Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?
22So het ek dan gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug in sy werke nie, want dit is sy deel; want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?
In hierdie gedeelte noem Salomo dat daar ‘n bepaalde tyd vir alles in ons lewens is. Dat God ons laat werk dat ons kan die vrug van ons arbeid geniet, maar dat ons oë nie hul blind moet staar na die tydelike dinge nie, dit is net deel van ons leer proses. Dit berei ons voor vir die ewige heerlikheid wat ons Vader vir sy kinders het.
Deur die dinge wat jy op aarde deurmaak, en doen, moet jou oë altyd op God ons Vader gevestig wees. Moet jy altyd besef, hierdie is ‘n bitter klein deeltjie van jou bestaan, die deel waar ons saam met ons Vader en Jesus gaan wees is verewig. Sy heerlikheid het Hy vir ons bestem verewig.
Daarom waarsku Salomo ons om nie vasgevang te word in die dinge hier op aarde nie, maar met ons hand in die van ons Vader te wandel elke dag.
Laat ons ons dus nie laat onderkry oor die uitdagings van die wêreld nie, en dit oorgee aan ons Vader wat weet presies wat ons nodig het. Laat ons onsself nie diskwalifiseer vir die ewige heerlikheid wat aan ons belowe is deur ‘n Vader wat nie leuens vertel en leë beloftes maak nie.
Kom ons volg die raad in hierdie pragtige lied.
https://www.youtube.com/watch?v=7Ka7bVQmbnk
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking