Goeiedag Namakwalaners,
Genugtig en daar het julle die alle deure oop vergeet en waai ons byna weg hier in Windhoek gister namiddag en aand. Vanoggend is dit toe skielik weer winter, maar darem draaglik.
Vanoggend lees ek in my Bybeldagboek ‘n vers, wat ek sowaar as vet nog nooit raak gelees het of van vergeet het en dit is ‘n baie kosbare vers.
Dit gaan oor armoede en rykdom. En weer soos al voor heen word ons gewaarsku oor rykdom. Dit is nie dat God nie vir ons rykdom gun nie, maar Hy het ons immers geskape en ken ons sondige natuur. Hy weet reeds dat as ons rykdom het, ons selfsugtig en selfvergenoegd sal wees. Soos gekke sal glo dat ons niks van Hom nodig het nie.
Praat ek die waarheid? Ek weet van julle sal dit ontken, maar dit is so. As ons gemaklik is, genoeg van alles het, sit ons terug en dink ons is nie afhanklik van God nie. Dit is egter nie waar nie, dit wat ons het, is van Hom en Hy kan dit net so vinnig weer wegneem.
Jakobus 1:9-11
Arm en ryk in die gemeente
9 'n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, 10 en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos 'n veldblom. 11 As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan.
As ons in oorvloed het, is die ons verantwoordelikheid om aan die te gee wat nie in oorvloed het nie. Wat wil jy met die oorvloed doen? Dit in jou kis laat pak as jy sterf? Of agter los vir iemand wat nie dit waardeer nie en gaan verkwansel op ‘n losbandige lewe soos die verlore seun.
Selfs in die gebed wat Jesus self sy dissipels leer, word ons geleer om net vir ons daaglikse brood te bid. Ons mag dalk ander finansiële behoeftes hê, soos water en krag of erfbelasting. Daarvoor het ons ook ‘n belofte in die Woord.
Paulus skryf in Filippense 4:19 – My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbare rykdom in Christus Jesus.
My kop duisel as ek dit lees. Hoekom? Omdat dit vir my klein verstand te oorweldigend is om te besef dat die Almagtige, die God wat die heelal in net ses dae geskape het Hom sowaar oor my water en ligter rekening bekommer en sal voorsien as ek Hom vra en glo.
Gaan sit vir ‘n sekonde en dink aan hierdie laaste stelling van my in die vorige paragraaf. ‘n Water en ligte rekening is deel van die meeste van ons se lewens, ‘n nietige ding, maar tot so ‘n nodige ding vir ons. Hy weet dit … en al het dit gee impak op Hom, gee hy vir ons om. Hy het nie water en ligte nodig nie, maar weet ons het.
Gaan so met jou rykdom om dat jy wanneer verdwyn, op ‘n vaste fondament staan en jy nie net in die niet sal verdwyn soos die veldblom as die warm wind daaroor waai nie.
Ons wat glo ons is arm, dat ons ons Vader dank vir hoe ryk ons eintlik in Hom is, en dat rykdom hom glad nie beïndruk nie, want alles behoort reeds aan Hom.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking