Dinsdag 19 September 2023

God alleen voorsien


Môre Vriende,


Hoop dit gaan goed met julle almal en dat die koue darem nou al afgeneem het by julle. Hier by my is dit heerlik warm en die voëltjies baljaar in my massiewe moerbyboom. Nee, ek gaan nie een moerby daarvan eet nie. Hoekom nie hoor ek jou vra, baie eenvouding, die voëls eet dit op terwyl dit groen is en nie een kry die kans om ryp te raak of my hande te bereik nie. Dit is ook goed, dit is God se manier om in hierdie tyd vir hulle te sorg en hulle oorvloed te gee.
Dit bring my bie die boodskap van vandag. Die Skrif gedeelte is Prediker 2:24-26 waar koning Salomo, die wyse man van God aan die woord is.

Prediker 2:24-26
24Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is. 25Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? 26Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is.
Ook hier kom dit dus tot niks.
Dit is 'n gejaag na wind.


Ons het al voorheen daaroor gepraat dat ons so geneig is om te dink dit wat ons het, is omdat ons so hard gewerk het. Dit wat ons het is omdat ons so ‘n goeie werk het en ons baas so goed betaal. Dit is alles onwaar. ‘n Baas, werkgewer, jyself sal nooit enigiets hê omdat jy so hard gewerk het nie, ons het dit net omdat God vir ons voorsien.
Hy gebruik verskillende maniere om vir ons te voorsien. Soms is die ‘n werkgewer, soms is dit ‘n besigheid, soms is dit ‘n stuk grond of soms voorsien Hy op maniere wat ons nie verstaan of weet hoe dit moontlik is nie.
Ons het niks om op te roem nie, en dit vertel Salomo so duidelik vir ons in vers 24. Eers wanneer ons tot hierdie besef kom dat ‘n werkgewer, ‘n besigheid, my harde werk op my plaas nie die rede is hoekom ek het of oorvloed het nie, kom daar dankbaarheid in ons harte en word ons vrygemaak.
Soveel werkgewers behandel hulle mense so sleg, en veral alleen vroue word baie uitgebuit: ‘want kyk jy het hierdie werk nodig, jy sal vrek van die honger as ek jou nie betaal nie,. Met Covid het dit weer duidelik geword waar mense se lojaliteit lê – by hulle eie sakke. Sommige mense se salarisse is gehalveer, Covid was die verskoning. Nou is Covid al byna twee jaar iets van die verlede, maar daardie persone se salaris is steeds so laag, dit het nooit weer opgegaan nie. Steeds moet hulle elke dag gaan werk, steeds moet hulle hul beste gee. Is dit nie uitbuitery nie?
Wanneer ons besef dat God alleen ons voorsiener in alles is – gesondheid, vergifnis, genade, finansies, guns, oorvloed – raak ons vry. Dan begin soek ons na ons Vader se wil, dan begin werk ons asof ons vir Hom dit doen en Hom daardeur wil eer. Dan kan ons selfs dit reg kry om vir daardie werkgewer te bid wat ons so sleg behandel en God sal hoor en hulle harte verander. As dit nie in God se plan is nie, sal Hy ‘n ander deur vir jou oopmaak.
Op die einde kom Salomo tot die slotsom – alles wat ons dink vir ons voorsien, is eintlik net ‘n gejaag na wind. Hoe oneindig waar is dit nie. Ek kan beslis daarvan getuig.
Vir jare het ek as alleen vrou gewerk tot 2 uur in die oggend. Soms so vroeg soos 3 uur in die oggend al begin ry om in ‘n ander dorp uit te kom en betyds te wees vir ‘n vergadering. Niks was te veel gevra. My baas was nooit vir hierdie vergaderings betyds nie, al het sy net 30km van die kantoor gebly, sy het altyd ‘n verskoning gehad. Sy was nooit in die kantoor as ek tot 2 uur in die oggend gewerk het nie. Sy was wel die een wat drie maal soveel as ek verdien het … om in ‘meetings’ in restaurante en koffiewinkels te wees die hele dag.
Daar is net een Voorsiener, Hom sal jy nie in ‘n koffiewinkel of restaurant of besig om stokkie te draai kry terwyl sy kinders Hom probeer behaag nie. Nee, Hy sal self daar met jou wees, jou aanmoedig, jou help en vir jou voorsien.
Geen werkgewer is jou voorsiener nie, dit is net die manier waarop God vir jou voorsien. Raak vandag vry van daardie idee. Daardie frase wat so baie mense so graag gebruik – ‘ek is dankbaar dat ek darem nog ‘n werk het, al is ek so ongelukkig daar’ – regtig! Dink jy dit is God se wil vir jou? Nee, praat met ons Vader, hoor by Hom wat sy wil vir jou is en Sy belofte staan vas, Hy sal voorsien.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...