Goeiedag Namakwalaners,
Die Kapenaars en elders vries, by ons is dit koelerig in die aande en oggende, maar vandag weer ‘n heerlike 29 grade.
Ons lewe in ‘n wêreld wat op sy kop gedraai is deur die mens. Die mense wat daaroor aangestel is, die mens wat dit moet versorg en oppas.
Elke dag hoor jy van moord, van verkragting, van mensehandel, van kinderontvoering, van prostitusie, van gesinne wat in plakkerskampe woon met geen inkomste nie en so kan ek vir lank aanhou.
Wat nou gemaak?
Jy en ek het die kragtige wapen van gebed, maar wat van die persoon self? Sy situasie is vir hom of haar hopeloos, hulle is mismoedig.
Ons enigste hoop is in die Een wat alles kan, wat alles onderhou, wat elke dag ons laat opstaan en ons krag en genade gee vir ‘n nuwe dag. Terwyl Hy dit nog doen het Hy nog ‘n doel met my en jou.
Ons moet hoop hê en die hoop behou. Maar hoe sal jy my vra. Deur naby God te bly en dit doen ons deur sy woord te lees, sy beloftes daar te sien en te weet dat ons nog steeds daarop kan staan, omdat Hy nooit verander nie.
Romeine 15:13 Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Ek vind dat die beste manier om hoopvol te bly is om jou af te sluit aan al die mense se menings om jou. Om op te hou luister na almal wat wil raad gee, maar nog nooit in jou skoene gestap het nie. Om alleen jou oor en hart aan God en sy Woord uit te leen. Om in gesprek met ons Vader te bly, waar jy ook al alleen is. Om te vra na sy hart en wil vir jou.
Moet ek werk soek, dit is die mense se mening. Die werklikheid is egter – as ek aansoek doen vir enige pos in die veld waarin ek gewerk het, doen 900 ander meisies wat almal baie jonger as ek is ook aansoek. Net een kan die pos kry. Wat nou?
Nou doen jy aansoek – en gee dit in ons Vader se hande. As jy daardie werk moet hê, as dit is hoe Hy vir jou wil voorsien, sal jy die kry ongeag. As nie, sal Hy op ‘n ander manier vir jou voorsien.
Gee jou elke dag se vier-en-twintig uur aan God oor, onvoorwaardelik. Vra Hom as jy wakker word om jou deur die Gees te lei in wat jy vandag moet doen om jou situasie te verbeter, en gee dit verder vir Hom. As Hy nie wil hê jy moet iets doen nie, sal jy dit weet en jy kan rus en hoop in die wete Hy is reeds besig.
Ons moet nooit hopeloos raak nie, hoe kan ons? Ons Vader is die Skepper, ons Verlosser is die Koning en ons Trooster is met ons – God self met ons. Kom ons hou op soek na oplossings daar buite, dit is net by ons – praat met jou Vader.
Vandag gee ek spesiaal uit my eie tuin vir julle 'n pragtige volmaakte pienk Amarilla. Soos die woord ons leer, as God so vir die natuur sorg, hoekom sal Hy nie vir jou en my ook so sorg nie - laat ons ons hoop, vreugde en vrede in Hom vind.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking