Die trane loop
min …
tog bewe my binneste
soos iemand wat wil verkluim
kan dit wees
dat ek na 33 jaar
steeds die warmte
van jou babalyfie
teen my mis …
of is dit daardie
warm babaglimlaggie
wat so knus
in my hart kon lê
se afwesigheid
wat my binnegoed laat bewe
vandag
sien ek jou in my onthou
skoppend, laggend
soos daardie laaste oggend
so tevrede
so opgeruimd
so jy …
en dan
net voor tien
die dag nog besig om spoed te vang
gaan my hele wêreld
staan
saam met jou hartklop
saam met jou liggie
meteens uitgedoof
oorval die duisternis
helder oor dag my
tas ek rond in ongeloof
sit ek alleen
soos ‘n drenkeling
op ‘n eiland - verlore
met my enigste metgesel
smart …
Genade onbeskryflik groot
het my daar kom haal
my Sy liefde gewys
my trane jaar na jaar
afgedroog
totdat Hy die donker gat
gevul het met Sy lenteblomme
van dankbaarheid
die seer … ja dit is nog daar
maar dankbaarheid
keer sy val
en demp sy slag
en voel ek net die trillings
wat hardloop deur my hart
die herinnering
dat jy daar
in die lentetuin
in my hart skaterlag
nog vandag …
© Marsofine
Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking