Maandag 11 September 2023

Ek hou jou hand


 
Goeiemôre Vriende,

Hier waai so ‘n skraal windjie en ek vermoed julle het dit spesiaal vir ons gestuur. Ai ek het gehoor hoe koud julle gekry het, maar ook hoe lekker dit plek plek gereën. Ek hoop wat die weer ook al die naweek by julle was dat julle lekker gerus het ook.

Ons is aan die begin van ‘n nuwe week en almal oud genoeg om te weet dat elke dag en elke weet genoeg van sy eie uitdagings het. Dit is in die tyd van die jaar waar mense moeg is, en moedeloos raak. Die selfmoord syfer bewys dit elke jaar.

Hoekom?

Daar is net een antwoord, omdat ons nie altyd op ons Vader se beloftes staan nie. Omdat ons nie ons Vader se beloftes glo nie. Omdat ons steeds probeer om met ons beperkte vermoëns ons eie sake uit te sorteer.

Kyk bietjie na die belofte in Jesaja 41.


Jesaja 41:8 - 20

Ek hou jou vas

8Maar jy, my dienaar, Israel,

Jakob vir wie Ek uitverkies het,

afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet,

9jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het,

van sy uithoeke af geroep het,

vir jou het Ek gesê: Jy is my dienaar,

Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie.

10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.


11Almal wat teen jou te kere gaan,

sal teleurgesteld staan en die aftog blaas.

Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom.

12Jy sal dié soek wat teen jou veg,

maar hulle sal nêrens te vinde wees nie;

dié wat teen jou oorlog maak,

sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie.

13Ek is die Here jou God,

Ek vat jou hand,

Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,

Ék help jou.

14Moenie bang wees nie,

al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob,

al is jy klein, Israel.

Ék help jou, sê die Here jou Verlosser,

die Heilige van Israel.


15Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande;

jy sal berge dors en fynmaal,

jy sal van rante kaf maak.

16Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai,

die stormwind sal hulle verstrooi;

dan sal jy jubel in die Here,

jy sal roem in die Heilige van Israel.

17Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie;

hulle versmag van dors.

Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor,

Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

18Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring,

en in die laagtes fonteine laat uitborrel.

Ek sal woestyngebied in rietvlei verander,

dor land in fonteinwêreld.

19Ek sal in die woestyn seders laat groei,

doringbome, mirte en olyfbome.

Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei

saam met platane en denne.

20Dan sal die mense sien en erken,

almal sal begryp en insien

dat die Here dit gedoen het,

dat die Heilige van Israel dit geskep het.

Julle kan niks doen nie

Wat ‘n wonderlike belofte? Hierdie belofte staan nog steeds vir God se kinders. Die God wat hemel en aarde in net ses dae geskape het gee ons hierdie belofte.

Ja die uitdagings sal kom, ja die storms sal woed, maar Hy belowe dat hy jou hand styf in syne sal hou. Hy sal die storm saam met ons deur gaan, keer dat ons ondergaan.

Hy vra net een ding van ons – om Hom onvoorwaardelik te vertrou. Om te glo dat Hy die God van hemel en aarde se mag en krag ver bo ons verstand is, en dat ALLES in sy vermoë is.

Kom ons dra hierdie belofte hierdie week soos ‘n mantel om ons. Elke keer as jy mismoedig wil raak, elke keer wat jy voel of jy wil verdrink, gaan staan stil, dink aan hoe groot God is. As jy nie weet hoe groot Hy is nie – dink aan hoe groot die heelal is, dink aan wat alles daarop is, dink aan hoe dit elke dag onderhou word en in net ses dae geskape is. Kry jy nou die prentjie. Jy as boer moet net jou lappie grond bewerk en dit is soms vir jou te veel – God bewerk die hele aarde se natuur, elke dag. Elke diertjie of voëltjie wat gebore word, elke boom of plant wat groei, vrugte dra en blom, alles onderhou hy elke dag elke sekonde vir eeue en eeue al.

Hoekom dink jy jou probleem is vir Hom te groot, werklik?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...