Goeiemôre Vriende,
Lekker om weer vanoggend met julle te gesels. Ek hoop julle het almal ‘n wonderlike naweek gehad. In Windhoek is dit weer terug na Lente, die vinnige koue is verby en ons is baie dankbaar.
Vanoggend so aan die begin van ‘n nuwe week wil ek graag gesels oor die Heilige Gees – God met ons. Soms as gevolg van ons geestelike opvoeding en soms as gevolg van onkunde, dink en verkeer ons nie vreeslik met hierdie wonderlike Persoon van die Drie-enigheid wat God vir ons gestuur het nadat Jesus opgevaar het nie.
Waar ek vandaan kom, is daar nooit oor die Heilige Gees gepraat nie. As daar wel deur ander denominasies daaroor gepraat is, is dit gesien as nie normaal nie, of nie waar nie.
Vandag is ek oneindig dankbaar dat my onkunde deur God self reggestel is. Dat ek weet dat God werklik binne my woon, by my is deur sy Heilig Gees wat ons almal nie net vertroos nie, maar ook bemoedig en lei op die regte weg.
Soms is ons mismoedig, hartseer, teleurgesteld en het ons nie woorde om te bid nie. Dan is dit nog steeds die Heilige Gees wat vir ons pleit, volgens die wil van ons Vader. Beter as wat ons dit self kan doen, want die Gees ken ons Vader se hart en pleit nie vir dinge wat nie volgens ons Vader se wil is nie.
Daardie tye wat jy voel jy is te swak op te bid, te oorweldig om te bid – pleit die Gees vir jou en elke dag. Buiten dit sit ons Koning, Jesus aan die regterhand van die Vader en Hy tree elke dag vir ons in by ons Vader.
Romeine 8: 26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Besef ons ooit, dink ons ooit daaraan hoe geseënd en gelukkig ons is. Selfs as ons nie weet of nie voel om te bid nie, is ons saak nooit hopeloos nie, omdat God se Gees self vir ons pleit. Besef ons hoe lief God ons het? Besef ons hoe spesiaal ons vir Hom is? Staan ons nie in verwaandheid nie, maar in God se outoriteit wat Hy ons deur Jesus gegee het op teen ons alledaagse probleme.
God deursoek jou en my harte, en weet presies wat ons nodig het. So weet die Heilige Gees – God met ons ook. Vandag kom vra ek, as die Heilige Gees, Jesus en Vader God so baie moeite met jou doen, wat doen jy om ‘n lewende verhouding met HULLE te bou?
‘n Verhouding sal julle almal weet is iets waaraan twee persone moet werk vir dit om ‘n sukses te wees. As ek dit so kyk, het ons Vader al oor en oor sy deel aan hierdie verhouding gedoen, maar wat het ons al gedoen?
Ken ons Sy woord, want dit is waar ons Hom leer ken, uitvind hoe Hy dink, waarvan Hy hou, wat vir hom afstootlik is, ens. Hoe bou ons hierdie verhouding? Hoe het jy jou verhouding met jou man/vrou gebou? Jy kon nie genoeg tyd met haar of hom spandeer het nie, jy wil die hele tyd alles met hom of haar deel. Jy wil saam met hom of haar lag of huil, planne maak, dinge geniet.
Dit is niks anders met ons Vader, Seun en Heilig Gees se verhouding met ons nie. Hulle wil ook met ons tyd spandeer, elke dag, ook met ons lag en huil en ons vertroos, ons optel as ons val, ons bemoedig, saam met ons planne maak – ons moet dit net met Hulle deel. Vir ons Vader se wil vra, alles wat ons begin beplan aan Hom gee, en vra wat wil HY vir ons hê. Verhouding kan nooit werk as alles net van een kan kom nie en dit lyk my of ons ver agter is om ons kant in hierdie wonderlike goddelike verhouding te bring.
Die Almagtige Drie-enigheid wag vir jou om vandag jou hand in Syne te sit, saam met Hom te stap, en wanneer jy swak is, sal Hy self vir jou smeek en intree by ons Vader.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking