Goeiemôre Vriende,
Die wind waai nog steeds en gaan blykbaar nog die hele week waai en net sterker raak. Gelukkig gaan ons temperature op en gaan ons nie koud kry nie. Ek dink vreeslik baie aan die mense daar in Suid-Afrika wat deur die vloede getref is, ons bid dat ons Vader vir hulle uitkoms sal gee.
Salomo in al sy wysheid kom herinner vir ons dat God ons reg gemaak het, volmaak gemaak het, maar ons eie planne het ons in sonder laat val en doen dit steeds. God se plan vir ons is nog steeds perfek.
Prediker 7: 29
29Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.
Wat nou gemaak? Ons kan elke dag vir God vra om jou in sy perfekte plan te laat loop, om jou te lei in sy plan. Dan kan ons in Godelike wysheid leef. Ons moet net ons planne en idees aan Hom voorlê en hoor wat sy gedagtes daaroor is.
Ons eie planne misluk meesal. God se plan sal altyd in oorwinning uitloop.
Jy gaan nou vir my vra, is dit so maklik? Nee dit is nie. Kom ons kyk na God se beloftes.
In Filipense 4:13 is een van die bekendste beloftes van God:
Filipense 4:13
13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Kom ons kyk in praktyk na die belofte. Almal is nou besig om Wêreldbeker rugby te kyk, en die arme bokke te oordeel as hulle nie wen nie.
Saterdag het Libbok ‘n wit band om sy arm gedra waarop Filippense 4:13 gestaan het. Hy het op God vertrou en ons weet almal wat gebeur het Saterdag. Hy het alles reg gedoen en twee skoppe mis geskop. Steeds het die hele wêreld op hom afgekom en sal hom vir lank nog daaroor oordeel.
Wat dan van die belofte van God wat hy op sy arm gehad het? God se beloftes bou ons karakter, en hierdie belofte was beslis nie vir Saterdag nie, maar dit het sy karakter gebou dat hy al die kritiek van die wêreld wat skielik op hom neergekom het sal kan dra. Dit maak hom sterk. Soos Linda Randall so mooi sing: For the God of the mountain, is also the God of the valley.
God rus ons toe deur sy woord as ons op sy beloftes staan om in Sy plan vir ons te wandel, ongeag of dit goed of sleg gaan. Hy maak ons sterk, hy berei ons voor en daarna dra hy ons deur.
Kom ons los vandag ons plannetjies, en ons vra na God se plan vir ons elke dag. Hy vra algehele oorgawe, algehele geloof – hoekom sal ons dit nie gee nie? Hier praat ons van die Skepper God wat miljoene jare gelede hierdie aarde geskep het in ses dae, en vandag nog elke mens op hierdie planeet ken, weet hoeveel hare hul op hul kop het, weet wat hulle dink elke sekonde van die dag. Dink ons vir een sekonde dat so ‘n magtige Vader nie vir ons die regte plan het nie!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking