Goeiemôre Vriende,
Vir die wat in kantore werk, is dit die laaste werksdag van die week, vir ons ander tyd om darem so bietjie stadiger te gaan as in die week. Tyd is kosbaar, moenie uitstel om daardie persoon te bel, of te gaan besoek nie. Ons tyd is nie in ons eie hande nie.
Net gisteraand vertel iemand by die Bybelstudie dat sy laas week ‘n dringendheid gevoel het om ‘n vriendin te bel en met haar te gaan koffie drink. Sy het toe gebel en daardie koffie gaan drink iewers voor die naweek. Sondagoggend lui haar foon terwyl sy besig is om reg te maak vir kerk. Dit is die vriendin se ma … Annelie is so pas oorlede.
Die vrou was volgens haar man en familie gesond. Sy het net in haar badkamer inmekaar gesag Sondagoggend, morsdood aan ‘n hartaanval en sy is glad nie eers oud nie.
Neem vandag en hierdie naweek en elke dag wat jy tyd het, of maak tyd om vir die mense om jou te vertel dat jy omgee, dat jy hulle lief het, dat hulle vir jou kosbaar is. Sal dit maak dat jy hulle minder mis as hulle weg is? Nee, maar dit sal maak dat jy weet jy het seker gemaak hulle het geweet jy gee om.
Vanoggend praat pastoor Des Wessels oor genade wat minder word en ongeregtigheid wat meer word.
Wat beteken dit? Dit beteken daardie man/vrou wat hulle lewens maat bly verneuk, of bly rond kuier met hul vriende en nie die aandag en liefde aan die een gee waarmee hul getroud is nie, gaan eendag huis toe kom en vind hulle is nou alleen – die genade van die ander het uitgehardloop.
Die kind of persoon wat besig is met dwelms en dit nie wil los nie, eendag gaan daardie persoon OD, want die genade het uitgehardloop.
So kan ons aangaan. In die Woord van God word ons gewaarsku dat ons Hom moet soek terwyl Hy nog te vinde is.
JESAJA 55:6-7 AFR53
Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.
Ons leef in die laaste dae en die laaste dae kan ‘n dag, ‘n maand, ‘n jaar of meer wees. Tog moet ons die êrens van hierdie saak begin verstaan. In Romeine 6 vra Paulus die vraag wat hy self dan antwoord.
ROMEINE 6:1-4 AFR53
WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.
Daar is nie meer tyd vir rondspeel nie. Dit het tyd geraak om God te soek, met alles wat in jou is en in alles wat jy doen. Die tyd dat ons God net op ‘n Sondag vir ‘n uur in die kerkdiens tyd gegun het om met ons om te gaan, is lank reeds verby. Ons weet lankal van beter, weet dat Hy ons liefhet, dat hy elke dag in al ons besluite, in al ons handelinge wil deel wees van ons lewens. Hy het ons die lewe verniet gegee deur Jesus, is ons nie ondankbaar om nie Sy liefde te beantwoord nie?
Dink bietjie daaroor. Hoe ontstel jy as ouer raak as jy jou kind alles gee, maar hy of sy weier om gehoorsaam te wees, weier om die goeie waardes wat jy hulle probeer leer te volg. Is die hele tyd net besig met nonsens en dinge wat hulle in die moeilikheid kan laat beland. Hoe laat dit jou as ‘n aardse vader of moeder voel?
God is heilig, hoe dink jy moet Hy voel oor ons wat nie sy liefde aanvaar en in gehoorsaamheid wil wandel nie?
Mooi loop.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking