Vrydag 29 September 2023

Wat weerspiëel jou lewe?


Goeiedag Vriende,

Die week se uurglas het byna uitgeloop, en dit klink my of die storm daar in die Wes-Kaap hulself ook uitgewoed het. In Windhoek is dit ‘n heerlike lente dag met temperature van 28 wat later 31 raak.
So op die begin van die naweek wil ek die vers van die Bybel App van gister en ook een van die pastore waarna ek luister se oordenking vanoggend met julle deel.

Paulus is hier aan die woord uit die tronk.

Filippense 4: 9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Hierdie is ‘n groot stelling om te maak, om so seker te wees dat jy in ons Vader se weë wandel dat ander jou kan volg en seker wees hulle doen God se wil. Dit is hoe dit behoort te wees met ons as kinders van God.

Tog wil ek die vraag vra, wat leer mense as hulle na jou lewe kyk, na jou luister, en wat dink hulle van Vader God wat jy propageer jy dien?

Is jy ‘n waardige beelddraer van die lewende God met hoe jy optree, wat jy praat, wat jy skryf op sosiale media? Kan jy soos Paulus met ‘n oop gemoed vir mense vra om te doen, te praat, op te tree soos jy en hulle kan vir seker wees dat hulle God se hart sal behaag?

Ons vergeet so maklik dat ons God ons Vader se ambassadeurs hier op aarde is. Dat ons so moet lewe dat mense na ons kan kyk en Hom kan sien.

Onthou daar is altyd iemand wat na jou kyk, wat luister wat jy praat, wat kyk hoe jy optree vir leiding om by God uit te kom.

Mense wil so graag belangrik wees … watter meer belangrike titel kan jy dra as beeldhouer van God, kind van God, ambassadeur van die almagtige lewende God?

Kom ons tree op waardig om hierdie skoene vol te staan dat mense as hulle na ons kyk en luister geen twyfel sal hê oor vir wie ons verteenwoordig hier op aarde nie. Kom ons hou daardie woorde wat op ‘n tyd deur almal op ‘n bandjie om hul arm gedra was – WSJD – Wat sou Jesus doen? – ‘n vraag wat ons gedurig deur ons dag moet vra, om seker te maak dat ons handeling en woorde aanneemlik is vir Hom.

Deur hierdie naweek het jy baie geleenthede om langs die braaivleisvuur, waar jy saam met familie is, of wat jy ook al doen, te doen en te praat tot eer van jou Skepper. Dit is nie net ‘n naweek opdrag nie, maar ‘n lewensopdrag vir ons as kinders van God. Ons wil en moet Hom eer met ons hele lewe.

Mooi loop en lekker rus.

Donderdag 28 September 2023

Wat het jy gemaak met die dag


 Aan alles is daar ‘n einde

elke dag het net vier en twintig uur

so storm ons voort

sonder huiwering of stuit

daar is nie tyd

om te stop

te kyk

wat wie het jy

almal plat getrap …

 

tot dat die son

op die westerkim

in goudglorie groet

die dag stil raak

en jou dwing

om ook tot stilstand te kom

 

dan land jy

soms ook

soos die doring boom

op die rand van ‘n stroom

en skrik jy vir

die mens

in die water

 

moeg gejaag na wind

ongevoelig teenoor God se kind

sien jy die spore

van die verwoesting

wat jy alleen aangerig het

 

met jou woorde

met jou dade

met jou ongevoeligheid

en ongeduld

 

die dowe doodse spoor

weerkaats vanuit jou oë

tot hier in die water voor jou

 

soos ‘n Raka van ouds

kom dit uit die water na jou

lag jou uit

tart jou uit

kla jou aan

jy wat jouself so besig  hou

met die wêreld se gewoed

 

sien jy jou dooie gees

na jou terug staar

hoor jy die woorde

van die wyse Salomo –

alles is ‘n gejaag na wind -

veraf in jou ore weergalm

soos ‘n eggo oor die velde

wyl die goueglorie van die son

jou alleen agterlaat

om te wroeg

oor die lyke

wat jy lewend

agtergelaat het

om te ly …

 

hoe het jy die ure

van hierdie dag gevul

het jy ook lewende lyke agtergelaat

 

of kan jy saam

met die goudgloedglorie

van die son

gaan rus

jou spieëlbeeld

in die water

een wat vredig na jou glimlag

want hierdie dag

het jy geloop

in Jesus se omgee spore

 

Sy vrede het met sononder

soos die stilte oor die vlaktes

diep in jou hart kom lê

 

het jy vandag geleef

dat jy jouself in die oë kan kyk

met vrede in jou hart?

 

© Marsofine Krynauw

Geloof ...



Vriende,


Vir die eerste oggend in ‘n hele rukkie, is dit ‘n windstil oggend en ek hoor die voëltjies kuier in my moerbyboom. Ek hoop daar by julle is die weer ook minder stormagtig en dat almal veilig is.
Vanoggend kom gesels ek bietjie oor geloof. Pastoor Des Wessels het vanoggend ‘n waarheid in sy oggend oordenking gedeel waarby nie een van ons gaan wegkom nie.
Ons weet almal dat dit vandag die 28 September 2023 is, dat dit Donderdag is en dat die tyd nou min of meer 10:57 is. Ons glo dit vas, ons aanvaar dit as die waarheid.


H O E K O M ?


Hoekom weet jy dit is Donderdag? Omdat die kalenders so sê? Omdat jou selfoon so sê? Omdat sosiale media so sê?
Hoekom glo jy dit is die 28 September 2023? Hier kan ons dieselfde vrae vra as bo, en so ook met die tyd.
Het jy al vir iemand ooit gevra om vir jou te bewys dat dit ‘n seker dag is? Of ‘n seker tyd is? Of ‘n seker maand in die jaar is?
Het jy al met mense geredineer en vas gestaan op jou punt dat jy hulle nie glo dat dit Donderdag is, of September is of ‘n seker tyd is, ten spyte van die feit dat alles om jou so sê?
Wel ek glo op al my vrae bo, is almal se antwoorde nee. Nie een van ons het nog een dag opgestaan op enige dag van die week, in enige maand, op enige tyd en betwyfel dat dit die dag, maand of tyd was nie.
Nou kom ons by die uitklophou van vanoggend!
Hoekom nie? Hoekom glo jy hierdie dinge wat jy geen bewyse van het nie?

M A A R

DIE BYBEL, DIE WOORD VAN GOD, GEINSPIREER DEUR SY HEILIGE GEES – DIE GLO ONS NIE!

Hebreërs 11:1 DIE geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

Hebreërs 11:1 is die definisie van geloof uit die Woord van God.

Ons verskoning is so baie maal, maar hoe weet ek dit is alles waar? Ek kan dit nie sien nie …
Sien jy die dag, maand en tyd. Wie het jou gewys waar dit hul oorsprong het? Tog glo jy vas dit is reg.
Het ons Almagtig God jou nie al die jare gedra, jy soveel kere geseën, jou bewaar, jou vertroos, en meer nie. Het jy dit gesien, gevoel, ervaar? Waar kom dit vandaan? Dit is beloftes wat Hy in sy woord aan ons gee wat waar word.

Ons kan Hom nie in persoon sien nie, maar ons sien Hom daagliks deur mense wat sy wil in ons lewens laat gebeur. Baie meer konkreet as ‘n dag, maand of tyd sou ek dink.

Gaan dink bietjie daaroor, ons verskoning om nie vir God onvoorwaardelik te vertrou nie, het vandag gesneuwel. Jy glo reeds aan iets wat jy nie kan sien nie, nie weet waar die oorsprong daarvan is nie … Donderdag, 28 September 2023.

Maar die Een wat alles formeer het in ses dae. Wat steeds dit alles elke sekonde van elke dag wat jy leef, wat almal voor jou geleef het, en wat nog na jou gaan leef in stand hou – die kan jy nie sien nie en daarom glo jy nie in Hom of in sy Woord nie.

Vriende, ek dink ons is uitgeboul vir ‘n ses … ons verskonings het vandag opgeraak. Of ons moet baie domastrant wees om hierdie feite nie te erken nie.

Glo my – die God Almagtig se bestaan, en beloftes is baie meer waar, baie meer eg, baie meer sigbaar en beproef as enige dag se naam, maand se naam, of tyd.

Ons hou aan wind vas, maar die Rots ontken ons, wil ons nie onvoorwaardelik vertrou nie … ek dink ons sal weer moet gaan dink en ons uitkyk vinnig en drasties moet verander.

Woensdag 27 September 2023

Die son hang




Die son het in die versamelvoëlnes vas gehaak
wyl die spore van die wild
wat daglank hier
in die skadu van die doringboom
vertoef het
die enigste getuie is
van die dag se bestaan
wit wolkies kuier
teen die asuur blou hemel
die Kalahari horison lê swaar
met die belofte van reën
en die mens is vandag hier
maar môre dalk weg
die skilderdoek sal dieselfde bly
of verander
soos die seisoen
se bui
net die mens
sal vandag hier wees
en môre weg
koop die tyd uit
leer van die seisoene
niks bly vir ewig dieselfde nie
wees die beste jy vandag
terwyl die son nog
in die doringboom
in die versamelvoëlnes hang ...
(C) Marsofine Krynauw

Dawid, 33 jaar


Die trane loop

min …

tog bewe my binneste

soos iemand wat wil verkluim

kan dit wees

dat ek na 33 jaar

steeds die warmte

van jou babalyfie

teen my mis …

 

of is dit daardie

warm babaglimlaggie

wat so knus

in my hart kon lê

se afwesigheid

wat my binnegoed laat bewe

 

vandag

sien ek jou in my onthou

skoppend, laggend

soos daardie laaste oggend

so tevrede

so opgeruimd

so jy …

 

en dan

net voor tien

die dag nog besig om spoed te vang

gaan my hele wêreld

staan

saam met jou hartklop

saam met jou liggie

meteens uitgedoof

oorval die duisternis

helder oor dag my

tas ek rond in ongeloof

sit ek alleen

soos ‘n drenkeling

op ‘n eiland - verlore

met my enigste metgesel

smart …

 

Genade onbeskryflik groot

het my daar kom haal

my Sy liefde gewys

my trane jaar na jaar

afgedroog

totdat Hy die donker gat

gevul het met Sy lenteblomme

van dankbaarheid

die seer … ja dit is nog daar

maar dankbaarheid

keer sy val

en demp sy slag

en voel ek net die trillings

wat hardloop deur my hart

die herinnering

dat jy daar

in die lentetuin

in my hart skaterlag

nog vandag …

© Marsofine Krynauw

 


Doen wat jy kan, opgee is nie 'n keuse!


 Goeiedag Vriende,

Ek hoop dat almal veilig is. Ek het gister die video’s van die oorvloed water in Garies gesien. Tog is ek dankbaar vir die water wat daar in ons Namakwaland geval het.

Vanoggend wil ek gesels oor ons kragte en wat ons kan doen.

So dikwels veral as ons ouer raak en sukkel om te loop, of selfs nie meer kan loop nie, as ons nie meer kan doen wat ons ons lewe lank gedoen het nie. Dalk is dit in die tuin werk, dalk is dit ons eie huis skoonmaak, dalk is dit gemeenskapswerk, wat ook al, glo ons ons kan niks meer doen nie. Ons is nou nutteloos vir almal en vir onsself.

Dit is egter nie waar nie. In Prediker kom leer Salomo ons ‘n ander les.

Prediker 9

4Want solank as iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop; want 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu.

Wat wil hy hiermee vir ons vertel? Dat jy en ek dalk nie meer so sterk is soos wat ons was nie. Nie meer wêrelde kan versit fisies nie, maar ons lewe nog. En dit is ‘n genade gawe. Dat ons nie leeus hoef te wees om iets te kan verrig nie. 

Hy gaan verder en maan ons om te doen wat ons hand vind om te doen in vers 10.

10Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.

Die wysheid is dikwels vir ander beter as vir die besitter.

Nou hoor ek jou vra, maar wat kan ek doen, ek sit net hier, en kan nie eers loop nie, of het nie meer krag nie. In hierdie tyd is daar min van ons wat nie selfone het nie. Ja en dit kan ‘n euwel wees, maar ook net so ‘n groot seën as ons dit reg gebruik.

Bel daardie persoon wat op jou hart lê en bemoedig hom of haar. Stuur ‘n boodskappie of ‘n Whatsapp van bemoediging of stuur ‘n christelike bemoediging wat jy ontvang het aan. Stuur daardie oggendoordenking wat jy van iemand ontvang het aan.

Salomo daag ons uit om wat ook al ons nog kan doen, te doen met oorgawe. Daardie boodskap, oproep, Whatsapp is dalk net wat iemand nodig het om weer te kan aangaan. Om weer te onthou dat God Almagtig is en hulle nooit sal verlaat nie.

Maak die verskil met dit wat jy kan doen, en ons almal kan iets doen.

Verder wil ek julle bemoedig met Job 42:2.

2Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Baie van ons wat vir ‘n deurbraak, mag dit finansieel, gesondheid, in ‘n verhouding wees. Ons voel dit gebeur net nie. Ek wil graag saam met hierdie vers net vir julle ‘n lied hieronder aanheg. Gaan luister asseblief daarna.

Dit sê so mooi dat ons ongeag of die deurbraak kom, moet bly op God vertrou, want Hy is altyd goed en sy tyd is altyd reg. Hy sal jou dra, ongeag.

Kom ons doen wat ons kan, en terwyl ons wag op ‘n deurbraak, laat ons u onvoorwaardelik vertrou en U dien, nie vir wat U vir ons doen nie, maar vir wie U is.

https://www.youtube.com/watch?v=TY-jh4RS_I0

Dinsdag 26 September 2023

Hoe lyk dankbaarheid?


 

Hoe lyk dankbaarheid

sonder om te dink

sou jy my kon vertel

dit is nie iets konkreets

jy kan nie daar vat

en selfs nie eers sien …

tog wil ek van jou verskil

dankbaarheid is as jou oë

die stil en rustig

na die sonsondergang

oor ‘n Etosha watergat kan staar

jy kan voel hoe

die hemelse skildery voor jou

jou siel voed

 

as jy daardie pakkie oopmaak

binne is ‘n boek of twee

met jou naam op

woorde vir jou deur God gegee

 

die waardering van ‘n mens

wat jy nie eers ken

wat jou hande werk

daardie fyn hekel doilie

waaraan jy ure

stekie vir stekie gewerk het

oor opgewonde raak

 

die voorsiening van jou Vader

wat jou net weer kom verras

met die wonder van Sy liefde

jou kom herinner

dat Sy beloftes

vas geanker

in Sy Godelike wese staan

 

dit is dankbaarheid

tasbaar, sigbaar, onverdiend

maar

soos ‘n toniek vir die hart …

 

wie se hart

 

Vader se hart

maar ook my eie

wat warm klop

vir Sy getrouheid

waarvan die vrug

net dankbaarheid

kan kweek …

Daar is reeds 'n perfekte plan vir jou lewe


Goeiemôre Vriende,


Die wind waai nog steeds en gaan blykbaar nog die hele week waai en net sterker raak. Gelukkig gaan ons temperature op en gaan ons nie koud kry nie. Ek dink vreeslik baie aan die mense daar in Suid-Afrika wat deur die vloede getref is, ons bid dat ons Vader vir hulle uitkoms sal gee.
Salomo in al sy wysheid kom herinner vir ons dat God ons reg gemaak het, volmaak gemaak het, maar ons eie planne het ons in sonder laat val en doen dit steeds. God se plan vir ons is nog steeds perfek.

Prediker 7: 29
29Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.


Wat nou gemaak? Ons kan elke dag vir God vra om jou in sy perfekte plan te laat loop, om jou te lei in sy plan. Dan kan ons in Godelike wysheid leef. Ons moet net ons planne en idees aan Hom voorlê en hoor wat sy gedagtes daaroor is.
Ons eie planne misluk meesal. God se plan sal altyd in oorwinning uitloop.
Jy gaan nou vir my vra, is dit so maklik? Nee dit is nie. Kom ons kyk na God se beloftes.

In Filipense 4:13 is een van die bekendste beloftes van God:

Filipense 4:13
13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Kom ons kyk in praktyk na die belofte. Almal is nou besig om Wêreldbeker rugby te kyk, en die arme bokke te oordeel as hulle nie wen nie.
Saterdag het Libbok ‘n wit band om sy arm gedra waarop Filippense 4:13 gestaan het. Hy het op God vertrou en ons weet almal wat gebeur het Saterdag. Hy het alles reg gedoen en twee skoppe mis geskop. Steeds het die hele wêreld op hom afgekom en sal hom vir lank nog daaroor oordeel.
Wat dan van die belofte van God wat hy op sy arm gehad het? God se beloftes bou ons karakter, en hierdie belofte was beslis nie vir Saterdag nie, maar dit het sy karakter gebou dat hy al die kritiek van die wêreld wat skielik op hom neergekom het sal kan dra. Dit maak hom sterk. Soos Linda Randall so mooi sing: For the God of the mountain, is also the God of the valley.
God rus ons toe deur sy woord as ons op sy beloftes staan om in Sy plan vir ons te wandel, ongeag of dit goed of sleg gaan. Hy maak ons sterk, hy berei ons voor en daarna dra hy ons deur.
Kom ons los vandag ons plannetjies, en ons vra na God se plan vir ons elke dag. Hy vra algehele oorgawe, algehele geloof – hoekom sal ons dit nie gee nie? Hier praat ons van die Skepper God wat miljoene jare gelede hierdie aarde geskep het in ses dae, en vandag nog elke mens op hierdie planeet ken, weet hoeveel hare hul op hul kop het, weet wat hulle dink elke sekonde van die dag. Dink ons vir een sekonde dat so ‘n magtige Vader nie vir ons die regte plan het nie!

Maandag 25 September 2023

Is jy nie meer werd nie?


Goeiedag Vriende,


Sekerlik is daar van julle wat nog die langnaweek en Erfenisdag geniet, maar sekerlik is daar boere wat reeds weer in die tuig is. Die weer hier by ons is baie onstuimig, maar ook weereens nie naasteby so onstuimig soos by julle nie. Hier waai ‘n sterk, koue wind. Ek sal vandag so min as moontlik my kop by die deur uitsteek.
Vanoggend kom my Bybelstudie uit Matteus 6:25 – 31. Dit gaan oor ‘n onderwerp waaroor ek baie graag praat en ek glo ook ons Vader naby aan die hart lê juis omdat ons nie Hom daarmee vertrou nie – voorsiening!
Matteus 6:25-34
Die sorge van die lewe
(ook Luk. 12:22-34)
25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?
31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Nadat ek hierdie gelees het in die woord, gaan ek by my voordeur uit en al wat ek hoor is die wind in die groot moerbyboom voor my deur. Nie ‘n voëltjie van ‘n dag oud daar vanoggend nie. Net daar val dit my op wat in hierdie gedeel te so mooi uiteengesit is.
Ander dae as die wind nie so woed nie, baljaar en sing en vreet die voëltjies lustig in my moerbyboom. Vanoggend is die wind seker vir hulle te sterk of hulle hou net dood eenvoudig nie daarvan nie, net soos ons. Tog hoef hulle nie die wind te trotseer om kos te kry vandag nie, want hulle Vader, wat ook ons Vader is, het reeds voorsien.
Dit is net ons mense wat soos afkop hoeders elke dag aangaan oor voorsiening. As elke vrou, gesels ek gereeld met ander enkel vroue. Soms weduwees, soms geskeide vrou, soms vroue wat nooit ‘n maat gevind het nie. Baie van hierdie vrou is al oor die sestig, maar werk steeds vir base wat hulle nie so goed behandel nie. Hoekom?
Voorsiening!
Hulle glo dat daardie werkgewer hulle voorsiener is. Hulle kan nie glo en ten volle die Vader vertrou dat Hy vir hulle sal sorg as hulle net eendag besluit nou kan hulle dit emosioneel nie meer maak nie. Soms verval hulle in depressie. Soms in eensaamheid. Geluk is hulle nie omdat hulle elke maand alles kan betaal met daardie salaris nie, want hulle het nie ‘n lewe nie. Hulle is die slaaf van die baas wat hulle moet betaal.
Soms is dit nie net die baas nie, dit kan ook die man waarmee jy getroud is wees wat jou so gevange hou. Jy is afhanklik van hom. So dikwels hoor jy dit – ‘waarheen sal ek gaan, ek het nie geld nie, nie ‘n motor nie, niks nie.’ So nou bly jy maar dat hy jou geestelik en liggaamlik mishandel tot hy jou eendag vermoor. Hoe? Het ek gehoor jy noem dat jy ‘n christen vrou is?
As jy gebid het dat die Vader jou man moet verander, jare en jare. Hy besluit het om nie te verander nie, dan is dit tyd dat jy weer dink, weer gaan kyk na God se woord.

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?


God se belofte is vir ons elkeen – ook in daardie scenario. Die mens wat vir my vertel dat dit God se wil is dat man of vrou geestelik of liggaamlik mishandel moet word, sal ek beslis nooit mee saam stem nie. Ons dien ‘n liefdevolle Vader.
Gaan lees wees hierdie gedeelte, neem dit ter harte en laat ons ophou bekommerd wees oor môre. Laat ons ophou ons self bluf met daardie nes eier wat ons moet hê, God is groter as jou nes eier. Sy oorvloed baie beter en konstant.
Kom ons vertrou op God. As jy werk en gelukkig is, en dit geniet – glimlag Hy, want dan is dit hoe Hy vir jou voorsien. Maar as jy in die posisie beland dat jy daardie werk moet opgee, kan jy my glo, sal Hy steeds vir jou kan sorg. Hy is immers almagtig en weet wat jy nodig het. Bid en vra dat die Heilige Gees jou sal bystaan om onvoorwaardelik te vertrou op die Een wat ons nog nooit gefaal het nie.

Vrydag 22 September 2023

'n Goeie naam!


 
Goeiedag Vriende, hier ‘n stil rustige dag. Ek hoop julle kry al minder koud, maar gelukkig is die naweek voor waar julle nie so vroeg hoef op te staan nie. Lekker rus en loop maar so bietjie in die veld tussen die blomme vir my, buk en kyk en besef hoe groot en almagtig ons Skepper is.

Vanoggend wil praat ons oor ‘n goeie naam. Nou ek weet nie of dit net daar waar ek groot geword het is wat grootmense soveel klem op ‘n goeie naam gelê het nie, want dit lyk my dit is al raad wat koning Salomo vir ons opgeteken het onder leiding van die Heilige Gees eeue gelede.

Ek onthou baie goed hoe dikwels ons as kinder van die grootmense moes hoor, gedra julle, kyk wat jy kwyt raak, onthou wat ons jou geleer het, want jou naam is belangrik en as dit sleg geraak het, sal jy dit nooit weer goed kry nie.

Dan toe ons begin tieners raak, het ons meisies dikwels die preek gekry waarin vir ons vertel is dat ons goeie naam meer as goud werd is. Dat ons so moet optree dat ons gerespekteer en met ‘n skoon gewete kan leef. Dat ons nie moet toelaat dat ‘n man of seun ons name in oneer bring nie.

Natuurlik is daar ook nog die goeie naam van ‘n familie, en kyk daaroor was die ou mense nou eers moeilik. As een van die kinders dit sou waag om nonsens droog te maak en daardie naam in oneer gebring het, gedorie waar dan was daar moeilikheid.

Blykbaar het dit alles in tussen verander. Kinders word toegelaat om saam te bly. Hulle word toe gelaat om alles wat teen die woord van God is te doen en dit is alles reg en wel. Wat het geword van ‘n goeie naam?

Dit is wat Salomo daarvan sê:

PREDIKER 7:1a

'N GOEIE naam is beter as goeie olie, …


Nou kom ons by my eintlike vraag, as jou familie dan nou nie meer omgee oor hoe jy lewe of jouself handhaaf nie, wat sê jou lewe vir ander as jou as skepsel van God?

Eer jou lewe God, jou Skepper? Eer jou lewer Jesus en wys dit dankbaarheid vir dit wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het? Eer jou lewe die Heilige Gees … God met ons? Of gee mense bloot net nie meer om nie? Is ons so selfsugtig dat ons net oor ons eie begeertes en eie wil gepla is en om ‘n lewe van plesier te hê?

Alles word regverdig. Christen families laat toe dat daar helloween gevier word deur hulle kinders – dit is niks, dit is net vir die pret.

Watse pret is dit:

Halloween het ‘n heidense oorsprong waar die magte van die dood en die duisternis, m a w die duiwel en

sy duiwelse magte, vereer word.

Sataniese vloeke word teenoor Christene, kerke en

families uitgespreek.

Halloween is dus ernstige besigheid vir Sataniste en Sataniese hekse. Wanneer kinders dan deelneem aan die gebruike van Halloween, neem hulle onnadenkend deel

aan die verering van die Sataniese magte!

Gaan lees gerus meer: https://www.bergsigdv.co.za/wp-content/uploads/2009/10/HALLOWEEN.pdf


Dit is nie die enigste onheil wat as niks afgemaak word nie. Alles om die vrede te bewaar, of om mense nie te na te kom nie!

Wat het van ons goeie naam in Christus geword? Hoekom gee ons nie meer om daarvoor nie?

Dink ons regtig dat die lewe net hier op aarde is, of dat ons Vader tevrede sal wees met wat ons besig is mee en dit net sal oorsien?

Sy woord is baie duidelik – Hy haat sonde en die straf vir die sonde is die dood. Ja, Hy is ‘n Vader vol liefde wat ons in sy woord bly maan, bly wys, bly leer – maar as ons daardie waarheid nie wil aanneem en leef nie het ons mos self die keuse gemaak.

Wil jy ‘n goeie naam voor die wêreld hê of voor God ons Vader?

Mooi naweek.

Donderdag 21 September 2023

Tel jou woorde


 
Goeiedag Vriende,

Heerlike stil, lentedag hier by ons. Ek glo julle kry nog koud, maar as dit darem so nou en dan reën is dit mos ook goed. Kyk so daarna, dan het die boer darem ‘n rede om so ‘n ekstra paar keer die huis in te kom vir ‘n koffie en geselsie met mamma. Niks is ooit net negatief nie, dit hang van ons af hoe ons daarna kyk.

Vanoggend luister ek na een van die Pastore en hy praat uit Prediker 5 oor die mense wat so maklik praat. Wat so maklik beloftes maak aan God wat ons nie hou nie. Wat so maklik ander seermaak en afbreek met woorde.

Ek het nog gewonder of dit die boodskap is wat ek vandag moet deel om ons Vader se Naam groot te maak, toe onthou ek van ‘n gesprek wat ek gister met een van my baie naby vriendinne waarmee ek van skool af saam kom gehad het.

Dit is juis gegaan oor woorde. In haar skoonfamilie is daar ‘n vrou wat baie gesteld daarop is dat sy ‘n christen is. Sy vertel dit vir almal wat wil luister. Tog dieselfde vrou is die een wie met haar mond elke keer as hulle bymekaar kom woorde sal uiter wat afbreek, wat seer maak, wat weg dryf.

My reaksie daarop was – wat die hart van vol is loop die mond van oor. As jy ander afkraak en afbreek en seermaak, is dit beslis nie die Drie-Enigheid wat heers in jou hart nie. Dan kan jy maar vir die wêreld vertel dat jy ‘n christen is, maar dit is net leë woorde.

Kom ons kyk na wat die wyse Salomo in Prediker 5 sê van ons woorde en hoe ons daarmee moet omgaan.

PREDIKER 5

Lewenswysheid.

1WEES nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou 'n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.

2Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.

3 As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.

4Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.

5Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?

6Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!


Buiten die feit dat jy iemand seer gemaak het, kan ons maar vir seker wees dat ons Vader rekenskap sal eis vir ons woorde. Daarom moet ons mooi dink voor ons praat. Sal dit wat ek nou wil sê tot eer van God wees? Sal dit opbou? Sal dit reflekteer dat ek die Heilige Gees in my hart het? Indien nie, bly dan eerder stil.

My dierbare geliefde tante wat my grootgemaak het, het altyd gesê: ‘my kind as jy niks goeds van iemand of iets kan sê nie, bly dan eerder stil’. Watter wyse woorde is dit nie.

As jy iemand is wat die wêreld probeer oortuig dat jy ‘n kind van God is, wees baie versigtig oor wat oor jou lippe kom. Jy kwes nie net die mense om jou nie, jou bring ook God se naam in oneer. Gaan doen introspeksie en vind die oorsprong van jou lelike, bitter, afbrekende woorde, want glo my daar is altyd ‘n oorsprong wat jy diep weg bêre en uithaal as jy ander wil seermaak omdat jy seer het waarvan niemand weet nie.

‘n Druiwe boom sal nooit gifappels dra nie – net so min sal ‘n ware kind van God ander met hulle woorde kwes.

Woensdag 20 September 2023

Sononder in Etosha


 
Voor die goue bal

agter die horison

van die Etosha val

kwas dit die westerkim

in spookasem pienk en blou

sag op die oog

van die een

wat kyk deur die lens



dan loer die son

geeloog deur

die takke van die doringboom

om vir laas die dag

oor die panne te groet



‘n heilige stilte daal

neer oor die vlaktes

olifant, zebra, springbok en vlakvark

drink saam by die watergat

en die mens

agter die lens

staan in verwondering

oor die grootsheid

van die skeppingswerk

van sy God.

© Marsofine Krynauw

Fokus ...


Goeiedag Vriende,

Ek verneem julle bibber nog steeds, hier by my is dit ook koeler as gewoonlik, maar darem nie naasteby so koud soos by julle nie. Bly warm en gesond asseblief. Ek is saam met julle dankbaar vir die reëntjie wat ook uitgesak het, elke druppel is ‘n gawe uit ons Vader se hand, en ons glo ook dat Hy die koringoes sal seën.
Ons gaan aan met koning Salomo se wysheid in Prediker 3.

Prediker 3
Elke ding het sy tyd soos God dit bepaal.
1ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd:
2'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is,
3'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou,
4'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van vreugde rond te spring,
5'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing,
6'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi,
7'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek,
8'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede.
9 Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei?
10Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
11Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
12So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.
13En ook — dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God.
14Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.
15 Alles wat is, was alreeds; en wat sal wees, was alreeds; en God soek weer op wat verbygegaan het.
16Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg — daar was onreg, en die plek van geregtigheid — daar was onreg.
17Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk.
18Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.
19Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.
20Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.
21Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?
22So het ek dan gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug in sy werke nie, want dit is sy deel; want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?


In hierdie gedeelte noem Salomo dat daar ‘n bepaalde tyd vir alles in ons lewens is. Dat God ons laat werk dat ons kan die vrug van ons arbeid geniet, maar dat ons oë nie hul blind moet staar na die tydelike dinge nie, dit is net deel van ons leer proses. Dit berei ons voor vir die ewige heerlikheid wat ons Vader vir sy kinders het.
Deur die dinge wat jy op aarde deurmaak, en doen, moet jou oë altyd op God ons Vader gevestig wees. Moet jy altyd besef, hierdie is ‘n bitter klein deeltjie van jou bestaan, die deel waar ons saam met ons Vader en Jesus gaan wees is verewig. Sy heerlikheid het Hy vir ons bestem verewig.
Daarom waarsku Salomo ons om nie vasgevang te word in die dinge hier op aarde nie, maar met ons hand in die van ons Vader te wandel elke dag.
Laat ons ons dus nie laat onderkry oor die uitdagings van die wêreld nie, en dit oorgee aan ons Vader wat weet presies wat ons nodig het. Laat ons onsself nie diskwalifiseer vir die ewige heerlikheid wat aan ons belowe is deur ‘n Vader wat nie leuens vertel en leë beloftes maak nie.
Kom ons volg die raad in hierdie pragtige lied.
https://www.youtube.com/watch?v=7Ka7bVQmbnk

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...