Dinsdag 06 Februarie 2024

Wees gereeds vir die Bruidegom


Goeiemôre Vriende,

Hier is dit ‘n heerlike koel oggend, met die belofte van reën. By ons in Namibië is dit mos meesal donderweer reën. Gisteraand was die weer baie swaar in die omgewing van Okahandja en ‘n jongman wat ek net twee en ‘n half maande gelede nog mee gesels het is deur die weerlig dood geslaan. Dit het my net weer laat besef dat ons tyd nie in ons eie hande is nie. Hy is die derde persoon wat ek ken wat vanaf Saterdag oorlede is. Die verskil is, hy was jonk en gesond en volgens ons menslike standaarde moes hy nog lank gelewe het.

Daar is nie tyd om te mors nie vriende, ons moet elke dag leef asof dit ons laaste dag is. Dit is al hoe ons by Jesus se voete kan bly.

Moenie vir eendag wag voor jy vir die mense om jou vertel dat jy hulle lief het nie. Moenie vir eendag wag voor jy die pad met Jesus begin loop nie – soms hoor jy jongmense sê dat hulle eers hulle lewe wil geniet en dan hul harte vir Jesus sal gee. Wat as jy die een is wat vandag kom haal word?

In Matteus 25 lees ons die gelykenis van die tien maagde, vyf wie se lampe vol olie was en gereed was toe die Bruidegom gekom het en vyf wie moes gaan olie soek en uitgesluit is toe die Bruidegom gekom het en hulle nie daar was nie.

Moenie so opgevang word in die dinge van die wêreld dat jy sonder olie gevang word nie. Maak dood seker dat jy elke dag gereed is om die Bruidegom te ontvang as Hy sou besluit om te kom.

Môre is nie vir enigeen van ons belowe nie, nie vir die wat jonk en gesond is nie, ook nie vir die wat al hul lewens geleef het nie. Om te lewe is ‘n voorreg uit ons Vader se hand elke liewe oggend.
Leef so dat jy gereed is en wag met opgewondenheid op die Bruidegom.


Ongeag watter tipe blom jy is, of jy 'n kosmos langs die pad is en of jy 'n roos in die koningin se tuin is - een of ander tyd gaan jy verwelk en dood. Blom vandag!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...