Dagsê Vriende,
Heerlike koelerige oggend in Windhoek met ‘n luggie wat so wil-wil stoot. By my gaan alles klopdisselboom en ek geniet my nuwe baba katjie baie. Hy is die hele huis vol en vol manewales. Verder skryf ek heerlik aan my volgende boek, die woorde loop mooi.
Vanoggend gesels een van die pastore oor dat ons Vader nie moedswillig ons laat wag nie en net daarna praat my dagstuk oor dat God soms vir ons nee sê vir ‘n rede. Kom ons kyk bietjie daarna.
Soms voel dit vir ons asof ons Vader dinge vertraag, asof Hy uitstel om ons te antwoord. As ons kyk na Lazarus se verhaal, dan het sy suster ook gedink dat God te laat was.
Eintlik is Hy glad nie besig om enigiets te vertraag of sal ook nooit laat wees nie, miskien volgens ons menslike standaarde, maar nie volgens Sy volmaakte plan nie.
Met Lazarus wou Hy ‘n spesifieke werk doen, en daarvoor moes hy in mense oë laat wees. Hy wou nie net vir Lazarus lewend te maak nie, maar Hy wou ook die mense wat dit aanskou het se lewens verander.
Kyk na die belofte in 2 Petrus 3.
2 Petrus 3:8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.
Jy bid dalk al lank oor iets en jy voel of Hy nie op nie. Hy wil homself openbaar in ‘n manier wat ons Hom nog nie ken nie. As Hy dan opdaag doen Hy dinge groter as wat ons ooit kon dink.
Hy wil maksimum impak maak ook op jou mense om jou. Hy sal opdaag, Hy is lankmoedig en hy wil ‘n spesifieke ding vir jou doen.
Dit sluit aan by die vers in Psalm 39:13 waar Dawid tot God smeek vir hulp en voel dat God nie opdaag nie.
Soms vra ons Hom dinge wat nie vir ons eie beswil is nie, uit ons eie selfsug en begeertes. Dan is sy antwoord dalk soos vir Dawid ‘nee’, want Hy kan die groter prentjie sien en ons nie.
Psalm 39:13 13Hoor tog my gebed, Here,
luister na my hulpgeroep;
moet tog nie koud staan teenoor my trane nie,
want ek is net op u beskerming aangewese;
U alleen sorg vir my, soos vir al my voorvaders.
14Neem tog u straf van my weg,
dat ek weer bly kan wees
voordat ek heengaan en nie meer daar is nie.
Jy en ek mag ook voel dat God ons nie hoor nie of nee antwoord en voel Hy gee nie om nie. Maar eintlik is Hy besig om genadig te wees, om ons nog ‘n kans te gee, om iets baie groter vir ons voor te berei.
Net soos wat ons as ouers nie altyd vir ons kinders ‘ja’ sê nie omdat ons die gevare van die lewe ken, net so dra God ons as sy kinders se belange op Sy hart en dit beteken dus dat Hy soms vir ons sal moet ‘nee’ sê om ons te beskerm.
Daarom: Don’t give up, you are on the brink of a miracle. Trust in God, the One that holds your future in His hand.
Ons vra Hom een roos, maar Hy het vir ons 'n hele roostuin!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking