Woensdag 14 Februarie 2024

Liefde van ouers en kinders

Dagsê Vriende,

Nog ‘n pragtige nuwe môre na die heerlike reën wat ons gister gehad het. Die amptelike dag van liefde wat die wêreld proklameer het is vandag. Die besigheidswêreld glimlag breed vir al die geld wat mense vandag gaan spandeer om hul geliefdes te bederf.

Ons is besig om die hele week al na liefde te kyk. En vandag kyk ons na ons liefde vir ons kinders.
Vader God het ons as sy eie kinders aangeneem deur die offer van Jesus sy Seun aan die kruis. Verder het Hy besluit om ons te seën met kinders van ons eie.

“Toe het God hulle geseën:“ ‘Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op die land.’” Gen. 1:22.

Watter groter vreugde is daar in die lewe as om jou pasgebore eersteling in jou arms te hou? Ek onthou nog goed toe my oudste seun gebore is. Ek het vir die eerste week of meer na hierdie klein, volmaak geskape wesentjie gekyk en gekyk en gekyk. In my hart kon ek net nie by die gedagte verbykom dat God hierdie kindjie in my liggaam laat groei het nie. So pragtig en so volmaak.

Kinders is ‘n geskenk van God –

“Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
Psalm 127:3.

Kindskinders is 'n kroon vir grysaards,
en vir die kinders is hulle vader 'n eer.
Spreuke 17:6

Kinders bly nie klein nie, en in vandag se lewe is dit ‘n uitdaging om kinders groot te maak. Daar is soveel bose elemente waaraan hulle blootgestel word. Hoe sal ons dit regkry om ons kinders in God se weë op te voed?

Eerstens moet ons ‘n voorbeeld wees vir ons kinders. Daardie storie van: Moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê – dit moet glad nooit uit jou mond kom as ouer nie. Jy moet God hou jou verantwoordelik om die voorbeeld vir jou kind te leef wat jy wil hê hy of sy moet volg. Want die Engelse gesegde is baie waar: Monkey see, monkey do. Kinders volg hulle ouers van baie, baie jonk af na.

Ek sal nooit vergeet hoe my jongste seun, pas begin praat een oggend ‘n groot duisendpoot gesien het en ewe kordaat proklameer het: ‘Mamma kyk die fokkelolo’ – hoekom want hy het gehoor dat sy vader die shongololo so noem, en nie eers gereeld nie, miskien het hy dit net eenmaal gehoor. Dit is hoe die vyand werk, dit wat jou kind nie moet hoor en sien nie, sien hy eerste. Ons is so naive om te glo dat kinders so jonk soos twee en drie niks verstaan en niks weet nie. Hulle is juis soos sponse en neem alles in.

In my eie lewe kan ek so ver terug as my derde jaar dinge baie, baie goed onthou.

Ons moet dus die voorbeeld van liefde, van eerlikheid, van vrede, van opregtheid, van eerbaarheid, van lojaliteit, van betroubaarheid en nog meer vir ons kinders leef. Dit vir hulle wys, want dade spreek ver harde as woorde. Maar ook die woord van waarheid wat in die Bybel opgeteken is van jongs af by hulle inskerp.

“Hierdie gebooie...moet jy inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut.6:6–7).

My oorlede skoonma, waarvoor ek ontsettend lief vas, het altyd vertel van haar oom en sy vrou wat besluit het om nie hulle kinders te tugtig nie, maar wel om die regte voorbeeld vir hulle te wys deur hoe hulle leef.

Dan het sy vertel watter model kinders die oom en tante groot gemaak het.

Want sien die kinders het gesien hoe lief hulle ouers mekaar en God het, hulle het gesien hoeveel respek daar vir mekaar in die huis is, hulle het gesien hoe eerlikheid en lojaliteit lyk. Niemand kon hulle anders oortuig dat dit ander moet lyk nie, want hulle het elke dag die voorbeeld gesien wat hulle moet volg.

Jesus het ook vir ons die voorbeeld kom gee van hoe ‘n kind se liefde vir sy Vader of aardse ouers moet lyk. Hy het in gehoorsaamheid aan sy Vader geloop en geleef en selfs gesterf.

Dit is wel so dat ons ons kinders moet tugtig, maar ons kan net ons kinders oor dinge tugtig wat ons hulle deur ons voorbeeld van leef gewys het en hulle nie navolg nie. ‘n Kind wat alles kry, en nooit getugtig word nie is een wat jy vir die verderf grootmaak, en dit is nie in God se wil nie.

Spreuke  22:6
Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.
Die sot verag die tug van sy vader,
maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.

Spreuke 15:5
Ons as ouers sal deur God verantwoordelik gehou word vir ons kinders. Soos wat God ons Vader ons Hoof is, so is die Pappa in die huis die hoof deur God aangestel en die Mamma in die huis deur God as die versorger aangestel.

Die kind het ook ‘n verantwoordelikheid teen oor sy ouers. Die woord is duidelik daaroor. Ek plaas hier die voorskrifte van ouers en kinders uit Efesiers 4.

EFÉSIËRS 6
1 KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.
2 Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met 'n belofte —
3sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.
4En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.
5 Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus;
6nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen
7en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie,
8omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman.
9En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.

Die woord is ook duidelik oor die opdrag aan kinders oor bejaarde ouers.

Spreuke 23:22 ”Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie”

Livitikus 19:32 Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van 'n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die Here.

Nie net respek word van kinders teenoor hulle ouers verwag nie, maar ook voorsiening in broodnodige lewensmiddele.

1 Timótheüs 5:4
Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.

Baie sterk is die woorde uit die Woord as kinders nie hulle bejaarde ouers of gesin versorg nie.

1 Timotheus 5:3-4,8
As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy gesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige”

God seën ons met kinders, ons versorg hierdie kinders en dan seën God daardie kind deur sy ouers te spaar om hul wysheid aan hul kinders oor te dra.

Sonder God sal ons nooit ons kinders groot kry nie, sonder God sal ons kinders nooit die waarde van ons as ouers kan insien nie.

Die opdrag staan steeds: Wees lief vir mekaar en respekteer mekaar. Dit sal ons net kan doen as ons in die voetstappe van Jesus volg. Ons is kinders van God, daarom moet en kan ons Sy liefde uitleef teen ons kinders en teen ons ouers.

Dan sal daar nie soveel kinders wees wat vir die vyand leef nie en ook nie soveel vereensaamde ouers nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...