Dinsdag 20 Februarie 2024

Rentmeesterskap en vertroue


 

Goeiemôre Vriende,

Hier in die middel van die week hoop ek dit gaan goed met julle elkeen. Dat die hitte darem al gebreek het. By ons is dit maar baie drukkend, maar ons vertrou dit is die voorloper tot die reën, so ons vat dit graag.

Vandag wil ek bietjie gesels oor rentmeesterskap en vertroue.

Ek dink die beste voorbeeld daarvan in die Bybel is in Lukas 21:3. 

Lukas 21

Die klein gawe van die arm weduwee.

1EN toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.

2En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.

3En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.

4Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.

So dikwels is ons onder die indruk dat ons nie kan gee nie, want wat ons het is te min. Of wat ons het moet ons gebruik om self van te lewe, want daar is nie eers genoeg daarvoor nie.

Hierdie spreek dink ek veral ons wat reeds afgetree is aan, maar tog glo ek onder alle ouderdoms groepe is dit ‘n probleem.

God kyk nie na hoeveel ons gee nie, maar na die gesindheid waarmee ons gee. Hierdie weduwee het werklik alles gegee wat sy gehad het. Vir haar was daar nie ‘n vraag van: as ek nou my laaste gee, waarvan leef ek verder nie?

Sy het onvoorwaardelik gegee en onvoorwaardelik vertrou.

Jare gelede toe ek nog op skool was daar in Lutzville en met kategese besig was elke Sondagoggend het daar iets gebeur wat ek nooit tot die dag van my dood sal vergeet nie.

Een van my maats, was van ‘n baie, baie arm huis. Die meeste van ons het dit nie breed gehad nie, maar hulle was vyf kinders en dus het dit daar maar regtig broekskeur gegaan. Daardie jare was daar kollekte opgeneem aan die einde van die Kategese. My vriendin het haar sente en twee sente wat sy gebring het in die bordjie gegooi en die predikant van daardie tyd het haar aangekyk en gesê: Wat dink jy doen jy? Hierdie is nie ‘n kerk van sente en twee sente nie!

Wat dit aan daardie kind gedoen het, hoef ek nie aan julle te verduidelik nie, want julle sal self dit kan uitwerk. Dit is gelukkig nie ons Vader se hart nie. Dit wys Hy duidelik vir ons in Lukas 18:3.

Die volgende keer wat jy dus wil gee, of dit nou jou dankoffer in die kerk is, en of dit nou kos of klere of ‘n bemoedigende woord vir iemand is wat minder as jy het – onthou dit – God kyk nie na hoeveel jy gee nie, maar na die gesindheid van jou hart.

Is jy bereid om jou laaste te gee vir God? Glo jy dat Hy jou nooit honger sal laat nie, maar sal voorsien?

Ons God bereken nie ons omgee en gee in geldwaarde nie, maar in ewigheidswaarde. Gee dus uit jou eenvoud en min wat jy het, dit verbly Sy hart meer as die wat uit hul oorvloed gee, omdat hulle genoeg het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...