Goeiemôre Vriende,
Ek het vroeg vanoggend al verneem dat die Bolanders weer vandag gaan uitbrand met 'n moontlike 39 grade in die Paarl. As julle ander ook so warm gaan kry, baie sterkte. Hier in Windhoek is die temperature heel draaglik.
Kom ons rek maar die maand van liefde se omgee so bietjie uit, geniet die hart blomme-krans.
Nouja net so laaannkk as wat Januarie vir almal voel, net so kort is Februarie en dit is al weer ver oor die helfte.
Terwyl ek so wonder waaroor ek met julle sal gesels so aan die begin van die week, kom die woord 'misbruik' by my op. Ons is mos in die maand van liefde, en hartseer soos dit is hoor ek in soveel vrouens en mans se lewens die begrip van misbruik raak.
Dit is so dat niemand van ons gemis bruik wil word nie, tog is dit lyk dit my heel dikwels so dat mense in verhoudings in gaan en dan na 'n rukkie besef een van die twee partye het dit net vir eie gewin gedoen en as die persoon se behoeftes klaar voorsien is in, beweeg hulle aan. Baie, baie hartseer.
Ongelukkig, is dit nie net in liefdes verhoudings wat dit gebeur nie, maar ook in vriendskappe en in besigheid.
Soms kom die een wat misbruik word dit nie agter nie, want dit is dalk nie finansieel nie. Die persoon se tyd word dalk misbruik van gemaak, of die persoon se gasvryheid. Of die persoon se vriendekring. Wanneer die ander persoon dan kry waarvoor hulle soek of hul doel bereik, verdwyn hulle net uit jou lewe en jy voel gekul, misbruik en gebroke.
Mense wat misbruik word, is dikwels mense met harte van goud, wat net gee en gee en gee sonder om te vra hoekom. Mense wat luister vir nagte om na daardie vriend of vriendin se probleme en raad gee en selfs bid. Mense wat saam met daardie persone die pad stap deur 'n egskeiding, of ongeluk, of operasie en alles doen wat hulle kan om dit vir die ander persoon so gemaklik moontlik te maak, en dan net eenkant toe gegooi word.
Meeste van die tyd sal hierdie misbruikte mens dan glo dit is hulle skuld, dit is omdat hulle nie genoeg gedoen het of genoeg gegee het nie.
Wel, dit is waar ek die regstelling vandag wil maak so aan die begin van die week, dit is nie jou skuld nie. Moet dit vir geen enkele oomblik glo nie. Jy het gedoen wat jy kan, jou vriendskap en jou tyd en jou huis en alles gegee wat jy kon. Jy is nie die oorsaak dat daardie persoon jou net so agter gelos het nie.
Die oorsaak is dat daardie persoon al die tyd selfsugtige motiewe gehad het. Jou kosbare tyd en omgee misbruik het. Jou aande of dae om na oplossings vir hulle probleme laat soek het, en die oplossings net so geneem het toe hulle gereed was om weer op hul eie voete te staan. Selfsug, is die dryfkrag van dit alles.
As jy een van hierdie misbruikte mense is, moet jy dalk aan jouself die vraag vra wat iemand eendag vir my gevra het - sal hierdie persoon vir my doen wat ek vir hulle doen?
Verstaan my nie verkeerd nie, die woord is duidelike dat ons nie mense moet net moet help omdat hulle ons weer kan help nie, maar daar is 'n verskil. Jy help mense op jou pad deur die dag, of doen 'n guns vir iemand, of kyk na hulle kinders terwyl die mamma iets dringend moet gaan doen. Ek praat nie daarvan nie.
Ek praat van vir maande en soms jare as 'n kruk gebruik te word deur iemand. Dan eendag is jy in die nood, en jy twyfel nie eers nie en skakel daardie persoon vir hulp en die antwoord is 'jammer ek is nou besig' of 'jy weet my kinders het my nou nodig of my man' Dit is gewoonlik sulke flou verskonings dat enige driejarige kind sal besef dat dit nonsens is.
Soms moet ons die woord 'nee' leer, dit kan tot ons en ander om ons se beswil wees. Hierdie misbruiker kan jou so uitput dat jy nie tyd en energie het vir die mense in jou lewe wat belangrik is nie.
Soms is jy emosioneel so dreineer deur die misbruiker se probleme, dat jy nie tyd of krag het om jou eie mense se probleme eers aan te hoor nie.
Liefde begin by die huis. Ons Vader, ons man/vrou, ons kinders, ons familie en daarna almal anders.
Die hartseer is dat ons met Christus doen wat ons nie wil hê mense moet aan ons doen nie - ons misbruik Hom wanneer dit sleg gaan. Ons bid, ons soek antwoorde in die Woord, ons luister worship musiek, maar sodra dit beter gaan, taan ons aandag en tyd met Christus.
Paulus gee vir ons 'n mooi voorbeeld van hoe ons God moet dien in Filippense.
Filippense 1:20Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
Christus moet altyd ons alles wees ...
Jesus was ons voorbeeld, Hy het niks gedoen sonder dat Hy se Vader geraadpleeg het nie ... altyd.
Gee om soos Jesus omgegee het, maar vra Hom vir 'n gees van onderskeiding om die koring van die kaf te kan skei en jou energie op die opregte mense in jou lewe te spandeer.
Die Woord leer ons ook 'soek allereers die koninkryk van God en al die ander dinge sal jy ontvang' - wees in God gesetel of dit goed of sleg gaan. Moenie God misbruik en verwag dat mense nie dieselfde aan jou sal doen nie.
Mooi loop.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking