Donderdag 08 Februarie 2024

Ek groet jou, oom Polla


 Ek groet jou, Oom Polla


Oom Polla, vandag is jy finaal op hierdie aarde te ruste gelê. Jy het ‘n wonderlike vol lewe gehad waarin jy op soveel mense se lewens in invloed gehad het. Jy het diep, diep spore in Natuurbewaring, wat jou passie was en sport in hierdie land getrap.

Dit was voorwaar ‘n voorreg om vir vyf jaar saam met jou te stap as jou persoonlike assistent en daarna nog twee jaar baie nou met jou te kon saam werk. In hierdie jare het ek jou baie naby leer ken. Ek het jou wonderlike vrou, tannie Chrija wat ons ook al verlaat het, leer ken, jou pragtige dogters Nardia, Tana en Christel leer ken. Veral vir Tana wat so nou in jou spore gevolg het.

Ek het die voorreg gehad om nie net op kantoor jou regterhand te wees nie, maar ook as enige een van jou familie ‘n hand nodig gehad het. Ek onthou nog hoe daar aan Nardia en Tana se troues gereël is. Die vele kere wat ons by julle huis gebraai het, nie net heerlike kos geniet het nie, maar gesien het hoe vriende vir ‘n leeftyd saam met julle gekom het. Dit is net by hierdie geleenthede, waar jy my leer rooiwyn drink het. Keer op keer sou jy vra of ek rooi wyn wil drink en dan het ek geantwoord, nee dit is sleg. Jy het my stadig geleer hoe om rooiwyn te drink en dit te geniet.

Vandag toe ek so in die kerk om my kyk toe eien ek van hierdie vriende wat nog met ons is. Hoe kosbaar was dit nie om hulle te groet en ‘n drukkie te gee so terwyl ons van jou, ons vriend en held afskeid geneem het nie.

Op kantoor was jou tafel altyd die enigste tafel in die hele Natuurbewaring wat altyd skoon was, nie omdat jy nie werk gehad het nie, maar omdat jy onmiddellik enige werk afgehandel het as dit ingekom het. Ek onthou hoe die manne soos Chris Grobler of Leon van Rooyen soms vir ‘n lêer kom soek het. Wanneer hulle dan so na jou kantoordeur toe gemik het, het ek hulle gekeer met die woorde: ‘Daardie lêer is nie in my baas se kantoor nie, hy laat nie werk op sy tafel ophoop nie.’

Jy was altyd my redding as dit by my swaar voet gekom het. Telkens het ek in die kantoor ingestap met ‘n sug, want ek het alweer ‘n spoedkaartjie gekry en al weer hopeloos te vinnig gery. Dan het jy dit dadelik van my geneem, met die woorde: ‘Marsofine, moet jou nie verder bekommer nie, ek gaan nou dadelik na Giel Nieuwoudt toe, hy sal ‘n plan maak.’ En elke keer het jy terug gekom met daardie glimlag en die nuus dat oom Giel voorwaar ‘n plan gemaak het en my boete afgeskryf het.

Die is dan ook hierdie swaarvoet-reputasie van my wat jou die dag wat jy Stellenbosch toe moes vlieg en jou paspoort by die huis vergeet het, my laat bel het van die lughawe. ‘Marsofine, bring my paspoort, maar jy moet ry soos net jy ry, die vliegtuig wag maar kan nie te lank wag nie.’

Daardie dag het ek egter nie kans gesien vir die uitdaging nie en vir Hannes gekry om die ry werk te doen. Ons het lughawe toe gevlieg met daardie blou Opel Monza, en jy het daar voor die lughawe gebou vir my gewag, maar jy was betyds en is Stellenbosch toe.

Kort nadat ek vir jou begin werk het, was ek eendag by die dokter. En die nuus het my in trane gehad, want ek was swanger en wou nie eintlik nog ‘n baba hê nie. Jy het my geluk gewens en getroos dat dit ‘n wonderlike ding is. My man was wel woedend dat ek weer swanger was, maar jy het my bly opbeur totdat ek besluit het, hierdie baba is my baba, en ek wil hom hê.


Soos die lewe maar loop, het ons nie net saam gelag nie en geniet nie, maar ook saam gehuil. Dit was mos nog die dae voor die selfoon. Ek moes die oggend vroeg Trip Travel toe gaan om vir jou ‘n vliegtuig kaartjie te gaan haal. Jy was op pad na een of ander Natuurbewarings Kongres. Ons kantoor het ‘n agter deur na die parkeerarea gehad daar by die LTA-gebou. Toe ek stilhou in die parkeer area het jy en Beaulah daar binne die deur gestaan en albei gelyk gepraat en gewys dat ek die deur vinnig moet oopsluit. Ek het gewonder, wat op aarde gaan met julle twee aan. Toe die deur oopswaai, was jou eerste woorde: Jy moet ry, Marsofine, jy moet dringend en baie vinnig ry! Een van jou kinders is baie siek. Ry dagmoeder toe!’ Dit is die dag wat Dawid wiegiedood is. Daarna was jy die een wat my daagliks bemoedig het.

Toe die nuwe bedeling en Meneer Rumpf Natuurbewaring te beurt geval het, was jy die een wat gesorg het dat hy alles moontlik weet en alles moontlik leer wat hy moes weet om sy werk te kon doen. Hy het swaar op jou gesteun, maar jy was altyd daar en altyd gewillig.

Die manne en vrou van Natuurbewaring het almal die hoogste agting en grootste respek vir jou gehad. Daarby was jy groothartig en altyd reg om te help. Toe Meneer Rumpf jou vra of jy my as persoonlike assistent sal afstaan aan hom, het jy dadelik ingestem. Nie aan jouself gedink nie, maar daaraan dat dit beter vir hom sal wees en goed vir my om bevorder te word.

Nadat ons albei Natuurbewaring agtergelaat het, het ons albei besef, dit sal altyd in ons bloed wees en het ons saam die wonderlikste byeenkoms by Daan Viljoen gereël met Natuurbewaarders wat van selfs oorsee gekom het om dit by te woon. Wat ‘n wonderlike aand was dit nie, waar almal terug geloop het saam met jou en die wonderlike herinneringe wat julle gemaak het weer opgesoek het.

Daar was na jou weer Direkteure van Natuurbewaring, maar nie een sal jou skoene ooit volstaan nie en nie een van hulle sal ooit ‘n Polla Swart wees nie, want jy was uniek en daar was net een van jou.
Jou dogters, skoonseuns, en kleinkinders sal jou mis, maar wees vir seker ek sal jou ook mis. Al het ons die laaste jare mekaar nie baie gesien nie, was jy nooit ver van my gedagtes nie, want ons harte is altyd by die natuur.

Jou nalatenskap sal vir nog baie, baie jare in hierdie land onthou word.
Rus in vrede, my oom Polla.
8 Februarie 2024

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...