Vrydag 16 Februarie 2024

Liefde is 'n leefstyl

Goeiedag Vriende,

Die week is aan sy einde en ook so die week van liefde waarmee ons van Maandag af besig was. Gisteraand sit ons na die bybelstudie wat gegaan het oor wat is die toppunt van ons Christene se lewe en een van ons ouers lede deel sy gevolgtrekking met ons: Hierdie Heilige Boek wat God se hart vir ons leer kan saamgevat word in net een woord – L I E F D E.

Hoe waar is hierdie stelling nie en reg in die kol. Die sentrale fokus en doelwit in ons lewe is liefde. Want het Jesus nie presies dit aan die Fariseërs gesê toe hulle Hom probeer vasvra het nie?>

Matteus 22:36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’


Ons as Christene het hierdie opdrag van Jesus ontvang, maar nog meer Hy het self hierdie opdrag heel eerste kom leef, die pad gestap wetende dat Hy onskuldig vir ons gaan sterf en steeds liefde bewys, liefde geleef, liefde uitgedeel en liefde vervolmaak aan die kruis.

Die rangorde van ons liefde is baie, baie belangrik.

  1. God-Drie-Enig
  2. Man/Vrou
  3. Kinders
  4. Familie
  5. Ander

Wanneer ons een van die ander voor God stel sal niks uitwerk nie, maar wanneer ons nie die liefde aan ander leef wat God ons vra nie, behaag ons ook nie ons Vader nie.

1 JOHANNES 4:20

As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.


Hierdie tel nie net vir jou broer nie, maar alle mense wat God op jou pad sit.

Om die liefde te kan leef moet ons gehoorsaam wees aan God se voorskrifte in sy woord:

Kolossense 3: 12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 
13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 
14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 
15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 
16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 
17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.


Hier is dit alles mooi uiteengesit wat God se hart is en ek laat julle met nog ‘n paar van die baie verse in die woord wat ons presies vertel hoe ons moet liefhê.

Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
Johannes 15:12


Laat liefde en trou jou nie verlaat nie;
bind dit om jou hals,
skryf dit op die tafel van jou hart,
dan sal jy genade vind en 'n goeie insig
in die oë van God en die mense.

Spreuke 3:3-4


En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

1 Johannes 4:16


Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

1 Petrus 4:8



Liefde is dus nie ‘n eendag-wonder op die 14de Februarie elke jaar nie, dit is ‘n leefwyse wat ons net sal kan leef as ons dit in Christus doen en met die hulp van die Heilige Gees.

Mooi naweek vir julle, en leef liefde waar jy gaan.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...