Donderdag 01 Februarie 2024

Vreugde en blydskap



Goeiemôre Vriende,

Uit ‘n Windhoek waar dit heerlik koel is en die reëntjie saggies val. Hoe wonderlik is dit nie? Daar is die vooruitsig van nog baie reën vir vandag.

Vandag praat een van die pastore waarna ek luister oor hoe ons God dien. Dien ons Hom nog met blydskap en vreugde of dien ons Hom net omdat ons weet ons moet?

Wanneer jy Sondagoggend wakker word, het jy ‘n verwagting en opgewondenheid in jou hart om na die samekoms van gelowiges te gaan en te luister na die Woord van God? Wanneer jy jou Bybel lees en bid, is jy opgewonde om te sien wat Sy boodskap vir jou vir die dag is en wil jy dit met opgewondenheid oordra aan ander? Of is dit net nog iets wat jy doen omdat jy weet dit is die regte ding?

Hiermee kan ek so vereenselwig. Vir baie jare was ek ‘n diaken in die kerk, ‘n Christen ... steeds het ek baie Sondae oggende opgestaan met daardie sug ... laat ek dit net doen, want dit is wat ek moet doen.

Ons moet eerlik met onsself wees, dit is nie hoe God wil hê ons moet Hom dien nie. Hy soek nie afskeep of gedwonge aandag nie, Hy soek alles, oorgawe, blydskap en vreugde.

Dawid het agter gekom dat hy sy vreugde en blydskap waarmee hy die Here gedien het verloor het en dan skryf hy Psalm 51. Kyk na sy smeking sy versugting wat hy aan God rig.


Psalm 51: 10Laat my weer blydskap en vreugde belewe.
U het my verbrysel; laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my 'n rein hart, o God,
vernuwe my gees en maak my standvastig.
13Moet my tog nie van U af wegdryf
en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
14Laat my weer die blydskap ervaar
van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien.


Het jy jou vreugde en blydskap in jou Vader verloor? Dan het dit tyd geraak dat jy soos Dawid eerlik sal wees en sal bid om dit terug te kry. As jy net voor ploeter en dit net doen omdat jy moet, kan jy dit regtig maar los. God stel dit baie duidelik in sy woord:

Openbaring 3:15-16
Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.


As jy hierdie vers lees, kan jy nie anders om te besef dat dit vir God ‘n baie ernstige saak is nie. Kom ons doen selfondersoek en wees baie eerlik, dit is die verskil tussen lewe en dood vir ons, so ons beter dit ernstig opneem.

Jesus het die prys betaal, nou is dit ons beurt om Hom met blydskap en vreugde lief te hê en in gehoorsaamheid te leef.
Steeds staan sy belofte vas, as ons Hom lief het, het ons niks om te vrees nie.

Jesaja 41:10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.


Ek deel graag met julle ‘n gosple song wat iemand vanoggend vir my aangestuur het. Dit is een wat ek lank reeds ken, maar vanoggend net weer ‘n spesiale impak gehad het.
Mooi loop en vind jou vreugde in ons Here.

https://www.youtube.com/watch?v=ihrUIPfvTh8


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...