Goeiemôre Vriende,
Dit is Maandag en almal is weer aan die draf met die dag se werk. Ek hoop almal het darem ‘n ruskans gehad oor die naweek. Daar is ek nogal vasberade in my manier van dinge doen – Saterdae kan ek nog dinge doen, maar Sondae is soos ons Vader dit bestem het vir my ‘n rusdag. Dit is die dag waarop ek my batterye vir die week herlaai met geestesvoedsel en my liggaam ook laat rus.
Ek daar in ons ou Namakwaland gaan mense sekerlik nie so tekere oor Valentynsdag soos in die res van die wêreld nie. Tog wil ek graag hierdie week elke dag kyk na ‘n ander soort liefde en ek wil begin met God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom.
As ons van ons Vader se liefde vir ons praat en hoe ons weet dat Hy ons lief het, is daar een vers wat ons nooit kan mis nie:
Johannes 3:16
16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Wie is die wêreld wat hier na verwys word? Jy en ek is die wêreld, ons man of vrou, ons kinders, ons familie – alle mense op die aarde is die wêreld.
Hierdie liefde van ons Vader het nog nooit opgehou nie, deur al die eeu heen, het Hy ons nog net so lief. Selfs al het ons telke male al Sy hart gebreek, gesondig, Hom teleurgestel. Al probeer die vyand ons daagliks van Hom af weg rokkel.
Dan gee Hy ons die troos in sy Woord:
Romeine 8:35;38-39
Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?… Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.
Hy wil ons liefhê, en al het Hy nie ons liefde nodig nie, is dit ook Sy grootste begeerte dat ons Hom sal liefhê.
Matteus 22:37-40
Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.
Hierdie is Jesus selfs se woorde, die Een wat gesterf het omdat Hy ons so liefgehad het en nie wou sien dat ons hoef te sterf vir sonde nie.
Daar is oneindig baie verse in die Bybel oor God se liefde vir ons en hoe Hy wil hê ons moet Hom liefhê. Hy meet ons liefde vir Hom aan ons gehoorsaamheid, aan ons afhanklikheid, aan ons verhouding met Hom. Ons wil tog tyd spandeer met die een wat ons liefhet.
Johannes 14:15
As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou.
Johannes 14:21
Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.
Laat ons dan vandag en elke dag besin oor hoe lief God, die Almagtige, ons Vader ons het en nie vergeet dat ‘n liefdesverhouding ook bestaan uit liefde wat gegee word en liefde wat ontvang word nie.
Ons het reeds God se liefde ontvang en hou nie op om dit te ontvang nie. Het jy al begin om daardie liefde te terug te gee aan Hom? Hom te eer en te dien en te dank in met jou lewe en jou liefde?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking