Goeiemôre Vriende,
Die week is haas verby en soveel dinge het gebeur hier in Namibië. My geliefde oom Polla is oorlede, ons President is oorlede en die grootste skok van alles, ‘n jongman wat ek geken het is deur weerlig gedood. Dit alles laat ons net besef dat lewe soos ons dit ken op aarde van korte duur is.
Gisteraand het ons Bybelstudie gehad en die onderwerp was was: Wat is die toppunt van die Christen se lewe?
Ons antwoord hierop kry ons in Kolossense 1.
Kolossense 1:9 Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,
10sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,
11 en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,
12 en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig —
13Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,
14in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.
In hierdie verse sien ons wat van ons verwag word en dat God ons toegerus het daarvoor. Hy het vir ons die ‘gereedskap’ gegee om kennis van sy Woord te kry, om gehoorsaam te wees aan Sy wil, om vrug te dra, om dit alles te doen met lydsaamheid en lankmoedigheid in blydskap.
Ons Vader vra nooit iets van ons waarvoor Hy ons nie reeds toegerus het nie. Ons moet net daardie gereedskap uit die ‘toolbox’ haal en gebruik.
Vanaf vers 15 sien ons hoekom hierdie die toppunt van ons Christene se lewe is. In eenvoudige taal – die toppunt is om te strewe om soos Jesus te wees, soos Jesus op te tree, soos Jesus lief te hê.
Omdat:
15Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;
16want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.
17En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
18En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.
Jesus het ons in alles voorgegaan, die weg berei, die pad oop gemaak vir ons om daarop te loop en Hom te volg. In Johannes 15:15 word dit so gestel:
15Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.
Ons werk is dus om elke dag te strewe om meer soos Jesus te raak. Hy het ons die volmaakte voorbeeld gegee wat Hy van God die Vader gekry het en ook die voorreg om te vra as ons iets kortkom op hierdie weg.
Wie wil nie die toppunt in Christus bereik nie?
Mooi loop en geniet julle naweek.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking