Dagsê Vriende,
Nou ja die dag van liefde is nou amptelik verby
... dit is nou volgens die wêreld se riglyne. My gebed is egter dat elke dag ‘n
dag van liefde vir ons almal sal wees, want as dit nie is nie, is daar fout.
God het ons elke dag lief, nie halfpad nie, maar voluit.
Vandag kyk ons na liefde vir familie. So dikwels hoor jy van onmin en twis en vyandskap tussen familie. Broers wat nie oor die weg kom nie, susters wat afgunstig is op mekaar. Die mees algemene een is skoonmoeders wat nie met skoondogters oor die weg kom nie.
Om te begin by die skoonmoeder en skoondogter kwessie. Dit spruit natuurlik uit ‘n sin van oorbeskerming van ‘n ma uit. Sy wil die beste vir haar seun/dogter hê. Dan word alles wat die skoondogter doen gekritiseer. Die seun/dogter van die kind moet eintlik heel eerste nie sy huislike sake met sy moeder bespreek nie. Is daar ‘n probleem is tussen huweliksmaats, moet hulle dit met die hulp van die Heilige Gees uitsorteer en nie na hulle ouers hardloop nie.
Die Woord is baie duidelik daaroor dat ‘n man sy ouers sal verlaat en sy vrou sal aanhang. Hulle word dan een.
Matteus 19:5 …Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;
Die man of vrou het mos gekies om met daardie persoon te trou, niemand het hom of haar mos gedwing nie. Dus moet hierdie kind se ouers se rokspante los en by sy vrou of man staan.
Die Woord is ook duidelik oor mense wat onmin saai, want soms word daar onmin deur ouers, broers of susters gesaai teen een familie lid wat nie met hulle saamstem nie.
Daardie suster/broer/ma/pa word afgekraak en bespreek. Dit is niks anders as om ‘n kwaad te stook nie.
Spr 6:16-19 Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.
Meer as gereeld spruit hierdie optrede uit
jaloesie, wat net so ‘n groot sonde is. So vroeg soos Numeri lees ons van Miriam
en Aaron wat jaloers was omdat God direk met Moses gespreek het, maar met hulle
deur Moses. Die uiteinde is dat God Miriam tref met melaatsheid omdat sy
jaloers was, Aaron vra dadelik vir vergifnis en ontvang dit ook. Numeri 12:1-15
gaan lees dit gerus. Dit is hoe ernstig God oor jaloesie voel.
Dan is daar die probleem van afguns en verwensing tussen familielede. Die tweede gedeelte van Spreuke 17:5 spreek dit baie mooi aan.
Spreuke 17:5 Wie met 'n arm mens spot, beledig sy Maker; wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander, sal self nie vrykom nie.
Ook Jakobus vermaan ons om nie mekaar te vervloek nie.
Jakobus 3:8 Maar die tong kan geen mens
tem nie; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif.
9Daarmee loof ons God en die Vader, en
daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.
10Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.
Deur die hele woord vind ons nog baie meer voorbeelde waarin God ons maan om eensgesind te leef, om nie kwaad te stook nie, nie kwaad te praat van ons familie of ander nie, vrede te maak as daar ‘n verskil was.
Gewoonlik kom daar eers berou as een van hierdie familie lede sterf, maar dan is dit te laat. Maak vandag vrede as jy kwaad is vir een van jou eie familielede vir een of ander rede. Ons hoef nie altyd verkeerd te wees om te vergewe nie. Al voel jy dat jy die een is wat te na gekom is, maak steeds vrede, dit is wat God van ons verwag. Jesus was ons voorbeeld – Hy was nie sondig nie, maar het steeds vir ons sondes gesterf. Is Hy vir ons daaroor kwaad, nee Hy het ons innig lief.
Moenie dat onmin, afguns, kwaadstokery jou ontneem van die tyd en liefde van jou familie nie. Ons het almal foute en maak almal foute. Die kern is dat ons moet vergewe soos God ons vergewe het, ander kan ons nie vergifnis van Hom verwag nie.
As die ander persoon nie wil vrede maak nie, vergewe jy steeds en bid vir daardie persoon se hart om te versag. Vir God is alles moontlik.
Laat ons God se voorskrifte volg en Sy liefde leef
ook teenoor ons families.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking