Dinsdag 27 Februarie 2024

Die Waarheid ...

Goeiemôre Vriende,

Ek hoop julle het my darem bietjie gemis die afgelope naweek. Ons het lang naweek gehad omdat ons President uiteindelik ter aardebestel is. Wat ‘n gedoente was dit nie vir jou nie. Die lughawe was te klein vir al die vliegtuie, die paaie was geblokkeer, dit was nou vir jou ‘n bedryf.

Die hele gedoente vir die afgelope twee weke vandag President Geingob oorlede is, het my getref oor hoe mense ‘n mens kan vereer, maar dit nie doen met ons Skepper en Verlosser nie.

Die mens, hang die mens aan wat vir hom niks kan doen nie. Wat hom altyd in die steek sal laat. Wat niks werd is vir sy saligheid en die ewige lewe nie. Wat nie eers sy probleme hier op aarde kan uitsorteer nie.

Dit bring ons by vanoggend se boodskap: Wat is die waarheid van jou lewe? Of eintlik moet ek vra wie is die waarheid van jou lewe? 

Johannes praat in 3 Johannes van die waarheid.

3 Johannes 1: 4Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.

Daar is net een Waarheid en dit is Jesus ons Verlosser, Saligmaker en Koning. Dit word baie duidelik vir ons in Johannes 14 vertel deur Homself.

Johannes 14:6

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Sonder Jesus in ons lewe, is ons niks, kan ons niks en het ons niks. As jy nie ‘n Weg het waarop jy kan gaan nie, hoe gaan jy dan? As jy nie die Waarheid het om volgens te leef nie, hoe leef jy dan? En bo dit alles as jy die Lewe het wat Jesus alleen jou kan gee nie, hoe bestaan jy dan?

Die wêreld probeer soveel leuens aan ons opdis vir waarheid. Selfs mense wat hulleself as Christene voordoen kom met die bisarre idees oor dinge vorendag en die ergste is hulle sal ‘n vers in die Bybel gaan soek om dit mee te staaf, dit so verdraai om hulle teorie te pas en aan jou verkoop vir die waarheid.

Die wonder van dit alles is, as ons in die enigste Waarheid gesetel is, elke dag met ons hand in Syne loop en na Sy wil vra vir ons lewe, sal ons dadelik weet as iemand ons wil mislei.

Jy sal daardie gevoel kry dat iets nie pluis is nie – die Engelse sê dit nogal vir my mooi: daardie square peg in a round hole gevoel. Dit is natuurlik die Heilige Gees wat jou maan, ons moet net luister.

Die Waarheid is vir ons almal beskikbaar. Het jy al die Waarheid, wandel jy in die Waarheid en is jou lewe gesetel in die Waarheid?

Johannes 8: 31Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Wat ‘n wonderlike belofte? Neem vandag jou vryheid op in Jesus.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...