Sondag 04 Februarie 2024

Slegs in Christus is daar waarde


Goeiemôre Vriende,

Ek hoop dat die ergste hitte darem nou die wyk geneem het daar by julle. Hier het dit deur die naweek af en aan gereën en ons is dankbaar vir elke druppel.

Dit was ook ‘n naweek waar daar twee groot manne oorlede is. Die een is my eertydse baas, voorheen Direkteur van Natuurbewaring. ‘n Man wat vir Namibië rugby gespeel het op sy dag en diep spore in baie mense se lewens getrap het. Die ander een is ons President, Meneer Hage Geingob. Self ‘n man wat diep spore in ons land se geskiedenis getrap het en hierdie land vir byna tien jaar gelei het.

Albei hierdie manne was al in hulle tagtigs. ‘n Baie goeie ouderdom. Albei van hulle sal voorwaar deur familie, vriende en kennisse baie gemis word.

Wat is my punt vanoggend?

Ek lees vanoggend Prediker 2 en die wyse skrywer van hierdie boek in ons Vader se woord kom waarsku ons dat al ons pogings tot niks kom as dit nie van ons Vader is nie. Dat alles wat ons geniet deur ons geswoeg en gesweet steeds net ons Vader se guns en goedheid is.

Prediker 2

Vreugde en rykdom gee geen geluk nie.

1EK het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs.

2Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?

3Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik — terwyl my hart my met wysheid sou lei — en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae.

4Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant.

5Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.

6Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei.

7Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het.

8Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte.

9En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly.

10En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.

11Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

12Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat lankal gedoen is!

13Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die lig die voorkeur het bo die duisternis:

14die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.

15Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is.

16Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse net soos die dwaas!

17Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind.

18En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat ek dit moet oorlaat aan 'n mens wat ná my sal kom.

19En wie weet of hy 'n wyse sal wees of 'n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook dit is dan tevergeefs.

20Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.

21Want daar is 'n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei het; tog moet hy dit as deel oorgee aan 'n mens wat daaraan geen moeite bestee het nie. Ook dit is tevergeefs en 'n groot euwel.

22Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son?

23Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.

24 Dit is nie 'n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.

25Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?

26Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.

As ek so lees wat die Prediker skryf, laat dit my weer dink aan daardie lied wat ons soms sing:

“Wat ek het is net genade, wat ek is is net geleen ...”

Hierdie twee groot manne het baie groot dinge in hulle lewens gedoen, vir hulle families, vir hulle vriende, vir hulle medemens, en selfs vir hulle land.

Steeds kom dit tot niks as hulle nie die pad met Jesus gestap het en Hom as hulle saligmaker aangeneem het nie.

God bly ons hoogste goed, daarom is alles anders ‘n gejaag na wind as ons dit nie in Sy naam aanpak nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...