Goeiedag Vriende,
‘n Lekker oggend hier in Windhoek, ons wag vir reën en vertrou. Vandag sou die einde van Februarie gewees het in ‘n normale jaar, die jaar is dus byna twee maande oud. As ons terug kyk het soveel reeds al gebeur.
Van ons het vriende en selfs familie verloor deur die dood. Van ons het krisisse in ons eie lewens waarmee ons stoei. Die boer is dalk besig om te oes en die oes lyk sleg. Die ander boer daar in ons Namakwaland het dalk nie eers genoeg reën gekry om te kon saai nie, so van oes is daar geen sprake nie. Daar is dalk ouers wat kinders het wat met dwelms betrokke is of selfs verkeerde vriende.
Die lewe is nie net maanskyn en rose nie, dit weet ons almal mos nou al by hierdie tyd. Nou wat daarvan wil jy my nou vra.
Vanoggend wil ek jou kom herinner aan God se belofte in sy woord. Een wat jy maar kan saam dra en jou eie maak.
Romeine 8
Oorwinningslied: God vír ons — wie sal
teen ons wees?
31WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As
God vír ons is, wie kan teen ons wees?
32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het
nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook
alles genadiglik skenk nie?
33Wie sal beskuldiging inbring teen die
uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is
dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die
regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
35Wie sal ons skei van die liefde van
Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of
gevaar of swaard?
36Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons
die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
37Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
38Want ek is versekerd dat geen dood of
lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge
39of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Hierdie gedeelte my liewe vriende vertel nie vir ons dat ons nie al die dinge wat ek vroeër genoem het in ons lewens sal hê nie. Dit belowe nie dat ons nooit teenstand, kommer, uitdagings en wat nog meer sal hê wat ons lewens omkrap nie. Dit belowe dat as hierdie dinge kom, en kom, kom hulle – sal ons God, ons Jesus, ons Heilige Gees daar wees met ons om ons te help.
As hierdie dinge kom, moet ons opstaan in ons identiteit in Christus. Ons laat soms toe dat die dinge ons oorweldig, ons laat soms toe dat mense oor ons loop, ons laat toe dat die vyand ons boelie. Ons moet eenvoudig opstaan en vir die persoon of die vyand of wat dit ook al is wat ons lewens wil versuur sê: Groter is Hy wat in my is as hy wat in die wêreld is.
Daar is niks wat ons van God se liefde en genade
kan skei, behalwe ons wat self kies dat iets ons daarvan moet skei nie. Staan
op in Christus, laat Hom toe om jou uitdagings vir jou op te los en stap in Sy
krag wat hy aan jou gegee het deur die Heilige Gees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking