Donderdag 29 Februarie 2024

In die skadu van die Allerhoogste

 

Goeiedag Vriende,

Hier is dit 'n mooi sonskyn dag, wat belowe om nie te warm te word nie. Ek hoop by julle gaan dit ook goed. As dit nie goed gaan nie het ek die antwoord vir julle in Psalm 91 vanoggend.

PSALMS 91

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind

1Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou 'n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
7Al val daar duisende langs jou,
tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie.
8Met jou eie oë sal jy sien
hoe die goddelose gestraf word.
9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy doodtrap.
14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.
16'n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Watter wonderlike troos en pragtige beloftes het ons nie hier nie? So maklik vergeet ons daarvan en mor en kla en weet nie waarheen nie. Die antwoorde is alles hier in Psalm 91 vervat. Dit is so pragtig. Om dit te bevestig gaan ek vir julle 'n liedjie van Blake Sheldon aanheg, luister gerus daarna.

Mag jy vandag kies om die Allerhoogste jou skuilplek te maak.


https://www.youtube.com/watch?v=kbu8YnegTF4

Woensdag 28 Februarie 2024

Groter is Hy ...

Goeiedag Vriende,

‘n Lekker oggend hier in Windhoek, ons wag vir reën en vertrou. Vandag sou die einde van Februarie gewees het in ‘n normale jaar, die jaar is dus byna twee maande oud. As ons terug kyk het soveel reeds al gebeur.

Van ons het vriende en selfs familie verloor deur die dood. Van ons het krisisse in ons eie lewens waarmee ons stoei. Die boer is dalk besig om te oes en die oes lyk sleg. Die ander boer daar in ons Namakwaland het dalk nie eers genoeg reën gekry om te kon saai nie, so van oes is daar geen sprake nie. Daar is dalk ouers wat kinders het wat met dwelms betrokke is of selfs verkeerde vriende.

Die lewe is nie net maanskyn en rose nie, dit weet ons almal mos nou al by hierdie tyd. Nou wat daarvan wil jy my nou vra.

Vanoggend wil ek jou kom herinner aan God se belofte in sy woord. Een wat jy maar kan saam dra en jou eie maak.

Romeine 8

Oorwinningslied: God vír ons — wie sal teen ons wees?

31WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?

33Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.

34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

35Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?

36Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

38Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge

39of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Hierdie gedeelte my liewe vriende vertel nie vir ons dat ons nie al die dinge wat ek vroeër genoem het in ons lewens sal hê nie. Dit belowe nie dat ons nooit teenstand, kommer, uitdagings en wat nog meer sal hê wat ons lewens omkrap nie. Dit belowe dat as hierdie dinge kom, en kom, kom hulle – sal ons God, ons Jesus, ons Heilige Gees daar wees met ons om ons te help.

As hierdie dinge kom, moet ons opstaan in ons identiteit in Christus. Ons laat soms toe dat die dinge ons oorweldig, ons laat soms toe dat mense oor ons loop, ons laat toe dat die vyand ons boelie. Ons moet eenvoudig opstaan en vir die persoon of die vyand of wat dit ook al is wat ons lewens wil versuur sê: Groter is Hy wat in my is as hy wat in die wêreld is.

Daar is niks wat ons van God se liefde en genade kan skei, behalwe ons wat self kies dat iets ons daarvan moet skei nie. Staan op in Christus, laat Hom toe om jou uitdagings vir jou op te los en stap in Sy krag wat hy aan jou gegee het deur die Heilige Gees.

 

Dinsdag 27 Februarie 2024

Die Waarheid ...

Goeiemôre Vriende,

Ek hoop julle het my darem bietjie gemis die afgelope naweek. Ons het lang naweek gehad omdat ons President uiteindelik ter aardebestel is. Wat ‘n gedoente was dit nie vir jou nie. Die lughawe was te klein vir al die vliegtuie, die paaie was geblokkeer, dit was nou vir jou ‘n bedryf.

Die hele gedoente vir die afgelope twee weke vandag President Geingob oorlede is, het my getref oor hoe mense ‘n mens kan vereer, maar dit nie doen met ons Skepper en Verlosser nie.

Die mens, hang die mens aan wat vir hom niks kan doen nie. Wat hom altyd in die steek sal laat. Wat niks werd is vir sy saligheid en die ewige lewe nie. Wat nie eers sy probleme hier op aarde kan uitsorteer nie.

Dit bring ons by vanoggend se boodskap: Wat is die waarheid van jou lewe? Of eintlik moet ek vra wie is die waarheid van jou lewe? 

Johannes praat in 3 Johannes van die waarheid.

3 Johannes 1: 4Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.

Daar is net een Waarheid en dit is Jesus ons Verlosser, Saligmaker en Koning. Dit word baie duidelik vir ons in Johannes 14 vertel deur Homself.

Johannes 14:6

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Sonder Jesus in ons lewe, is ons niks, kan ons niks en het ons niks. As jy nie ‘n Weg het waarop jy kan gaan nie, hoe gaan jy dan? As jy nie die Waarheid het om volgens te leef nie, hoe leef jy dan? En bo dit alles as jy die Lewe het wat Jesus alleen jou kan gee nie, hoe bestaan jy dan?

Die wêreld probeer soveel leuens aan ons opdis vir waarheid. Selfs mense wat hulleself as Christene voordoen kom met die bisarre idees oor dinge vorendag en die ergste is hulle sal ‘n vers in die Bybel gaan soek om dit mee te staaf, dit so verdraai om hulle teorie te pas en aan jou verkoop vir die waarheid.

Die wonder van dit alles is, as ons in die enigste Waarheid gesetel is, elke dag met ons hand in Syne loop en na Sy wil vra vir ons lewe, sal ons dadelik weet as iemand ons wil mislei.

Jy sal daardie gevoel kry dat iets nie pluis is nie – die Engelse sê dit nogal vir my mooi: daardie square peg in a round hole gevoel. Dit is natuurlik die Heilige Gees wat jou maan, ons moet net luister.

Die Waarheid is vir ons almal beskikbaar. Het jy al die Waarheid, wandel jy in die Waarheid en is jou lewe gesetel in die Waarheid?

Johannes 8: 31Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Wat ‘n wonderlike belofte? Neem vandag jou vryheid op in Jesus.

 

Donderdag 22 Februarie 2024

Ons identiteit in Christus

Dagsê Vriende,

Ons het gister namiddag ‘n bui of twee reën gehad, genoeg om my tuin nat te maak. Ons is dankbaar. Ek hoor net van die versengende hitte van die Boland en hoop dat dit beter gaan in Namakwaland. Hier by ons is alles in rep en roer, want ons President wat al die 5de oorlede is, word eers Saterdag en Sondag begrawe. Nie net kom daar Staatshoofde van regoor die wêreld nie, hulle bring nog hul eie sekureiteit mense ook saam. Dan sal die hele Namibië sekerlik optrek Windhoek toe.

Vanoggend hoor ek pastoor Rynier Nolan praat oor ons identiteit in Christus en besluit toe om bietjie daaroor meer navorsing te gaan doen. Die gedeelte wat hy gelees het was uit 1 Petrus 4 – dit handel oor wat jy nie meer moet doen nie. Ek wil egter met julle baie waardevolle inligting deel wat deur Risa Cronje baie moeite mee gedoen het met julle deel. Gaan staan gerus die verse na en skryf dit op die tafels van jou hart.

JOU IDENTITEIT IN CHRISTUS.
Jy is….

‘n Kind van God (Johannes 1:12).
Voor God geregverdig (2 Korinthiërs 5:21).
Die tempel van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 6:19).
Deur God gesalf (1 Johannes 2:27).
‘n Erfgenaam van God (Romeine 8:17).
Geseën met elke geestelike seëning in die hemel (Efesiërs 1:3).
Een gees met die Here (1 Korinthiërs 6:17).
Vry van veroordeling (Romeine 8:1).
Uit God gebore en die Bose kan niks aan jou doen nie (1 Johannes 5:18).
God se maaksel, in Christus geskep vir goeie werke (Efesiërs 2:10).
Sit saam met Jesus in die hemel (Efesiërs 2:6).
Geseën met alles wat nodig is vir ‘n godvresende lewe (2 Petrus 1:3).
Dood vir die sonde, maar lewend vir God (Romeine 6:11).


WAT JOUNE IS AS KIND VAN GOD.
Jy besit….

Die Heilige Gees (Johannes 14:16-17).
Die denkwyse van Christus (1 Korinthiërs 2:16).
Deur salwing van die Heilige Gees en jy ken die waarheid (1 Johannes 2:20).
Guns by God en mense (Lukas 2:52).
‘n Gees van krag, liefde en selfbeheersing (2 Timotheus 1:7).
Deel aan die heiliges se erfdeel in die lig (Kolossense 1:12).
Toegang tot die troon van genade (Hebreërs 4:16).
Verbondenheid aan die Vader, die Seun, en ander gelowiges (1 Johannes 1:3).
Bevryding en vergifnis van sonde (Kolossense 1:13-14).
Vrede by God (Romeine 5:1).
Genesing (1 Petrus 2:24).
Kosbare en grootse beloftes, sodat jy deel kan kry aan die goddelike natuur (2 Petrus 1:4).

WAT GOD JOU IN STAAT STEL OM TE DOEN.
Jy kan….

Enige iets hanteer, omdat Jesus jou die krag gee (Filippense 4:13).
Siekes genees, dooies opwek en demone uitdryf (Mattheus 10:8).
Met vrymoedigheid die troon van genade nader (Hebreërs 4:16).
Ontferming en genade ontvang om op die regte tyd gehelp te word (Hebreërs 4:16).
Dieselfde werke doen as wat Jesus gedoen het, en nog groter dinge, omdat Hy by die Vader is (Johannes 14:12).
Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat die Bybel noem oor jou identiteit in Christus, en al die wonderlike dinge wat joune is omdat jy aan Hom behoort.
Ek glo dat dit vir jou ‘n kykie gegee het op die wonderlike werk wat God in jou lewe gedoen het, toe jy weer gebore is.
Ek stel voor dat jy ‘n mini-Bybelstudie doen oor elkeen van die verse, sodat dit in jou hart kan insink.
Onthou, jy is wie God sê jy is.
Jy besit alles wat Hy sê aan jou behoort.
En jy kan doen wat Hy jou in staat stel om te doen.
Glo dit en leef van nou af in jou identiteit in Christus!
(c) Risa Cronje
Môre sal ons DV kyk na die dinge wat ons as Christene nie meer in ons lewens moet en mag toelaat nie. Hierdie is ‘n hele mond vol en kan jou vir ‘n maand besig hou. Neem dit vers vir vers en werk dit deur en weet wie jy in Christus is. Dan sal jy nie meer hoef iemand anders as rolmodel te gebruik nie, want Jesus is ons enigste Rolmodel.


Soos die blomme in hierdie tuin, so is ons elkeen uniek en het ons elkeen ons plek in God se tuin op aarde.

Dinsdag 20 Februarie 2024

Rentmeesterskap en vertroue


 

Goeiemôre Vriende,

Hier in die middel van die week hoop ek dit gaan goed met julle elkeen. Dat die hitte darem al gebreek het. By ons is dit maar baie drukkend, maar ons vertrou dit is die voorloper tot die reën, so ons vat dit graag.

Vandag wil ek bietjie gesels oor rentmeesterskap en vertroue.

Ek dink die beste voorbeeld daarvan in die Bybel is in Lukas 21:3. 

Lukas 21

Die klein gawe van die arm weduwee.

1EN toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.

2En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.

3En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.

4Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.

So dikwels is ons onder die indruk dat ons nie kan gee nie, want wat ons het is te min. Of wat ons het moet ons gebruik om self van te lewe, want daar is nie eers genoeg daarvoor nie.

Hierdie spreek dink ek veral ons wat reeds afgetree is aan, maar tog glo ek onder alle ouderdoms groepe is dit ‘n probleem.

God kyk nie na hoeveel ons gee nie, maar na die gesindheid waarmee ons gee. Hierdie weduwee het werklik alles gegee wat sy gehad het. Vir haar was daar nie ‘n vraag van: as ek nou my laaste gee, waarvan leef ek verder nie?

Sy het onvoorwaardelik gegee en onvoorwaardelik vertrou.

Jare gelede toe ek nog op skool was daar in Lutzville en met kategese besig was elke Sondagoggend het daar iets gebeur wat ek nooit tot die dag van my dood sal vergeet nie.

Een van my maats, was van ‘n baie, baie arm huis. Die meeste van ons het dit nie breed gehad nie, maar hulle was vyf kinders en dus het dit daar maar regtig broekskeur gegaan. Daardie jare was daar kollekte opgeneem aan die einde van die Kategese. My vriendin het haar sente en twee sente wat sy gebring het in die bordjie gegooi en die predikant van daardie tyd het haar aangekyk en gesê: Wat dink jy doen jy? Hierdie is nie ‘n kerk van sente en twee sente nie!

Wat dit aan daardie kind gedoen het, hoef ek nie aan julle te verduidelik nie, want julle sal self dit kan uitwerk. Dit is gelukkig nie ons Vader se hart nie. Dit wys Hy duidelik vir ons in Lukas 18:3.

Die volgende keer wat jy dus wil gee, of dit nou jou dankoffer in die kerk is, en of dit nou kos of klere of ‘n bemoedigende woord vir iemand is wat minder as jy het – onthou dit – God kyk nie na hoeveel jy gee nie, maar na die gesindheid van jou hart.

Is jy bereid om jou laaste te gee vir God? Glo jy dat Hy jou nooit honger sal laat nie, maar sal voorsien?

Ons God bereken nie ons omgee en gee in geldwaarde nie, maar in ewigheidswaarde. Gee dus uit jou eenvoud en min wat jy het, dit verbly Sy hart meer as die wat uit hul oorvloed gee, omdat hulle genoeg het.

Maandag 19 Februarie 2024

Jy hoef nie alleen te swoeg nie


 Dagsê Vriende,

Hier is die dag nog nie warm nie, maar ek sien die son is besig om die wolkies weg te jaag. Daar in ons Namakwaland sien ek is dit darem draaglik. Selfs die Boland se mense sal vandag weer kan asemhaal. Ek dink baie aan die boere wat nou besig is om te oes, daar op die lande in hierdie hitte.

Tog is dit ook ‘n tyd van seën. My skoonsuster se pa het altyd gesê: As die oes reg is moet ons skep. Dit is ware woorde, maar tog moet ons ook versigtig wees om nie alles alleen te probeer doen en ons self so uit te brand nie. Ons Vader het ‘n manier op ons dan te stop en ons hou gewoonlik niks van daardie stop nie.

Selfs so vroeg soos Eksodus in die Bybel, maan Jetru, Moses se skoonpa hom dat hy nie alles op homself kan neem nie. Dat hy homself die mense om hom so benadeel.

Eksodus 18: 17Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie.

18Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.


Gelukkig was Moses wys genoeg om te luister en dit het ook sy Vader se goedkeuring weg gedra, want alles het goed uitgewerk.

So dikwels hoor en sien ons ‘n familielid of vriend/in wat hulself heeltemal afsloof vir hulle beroep. Hulle kom saans laat huis toe en is soggens dou voor dag op en al weer op pad werk toe. Oor naweke word hulle geskakel om probleme op te los. Hulle het nooit tyd vir hulle families nie, nie eers vir hulle self nie.

Dit laat hulle miskien baie belangrik voel, of hulle is net so lojaal en pligsgetrou dat hulle nie kan of wil ‘nee’ sê nie. Ek was daar toe ek nog gewerk het en ek weet al lankal dat dit mens niks, maar niks in die sak bring behalwe dat jy jouself uitput nie. Onlangs het ek vir ‘n vriendin se man wat so gewerk het, naweke, laat, maak nie saak wanneer nie hy was by die werk en sy vrou moes haarself besig hou. As hy wel by die huis was, was hy so moeg hy wou net slaap.

Ek het hom eendag gevra hoekom hy dit doen en daar is gewoonlik baie redes. Niemand anders kan dit doen nie. As ek dit nie doen nie, sal niemand daaraan dink nie en so kan ek aangaan. Ek het hom ook gevra of hy dink hulle waardeer dit en hom reguit vertel dat wanneer hulle hom nie meer nodig het nie, hulle hom net so sal wegstuur. Ongeag hoe hard hy gewerk het, of hoeveel ure hy oortyd gewerk het waarvoor hy niks betaal is.

Dit alles het ek nie gedoen om hom te ontmoedig nie, maar om sy oë te probeer oopmaak dat die wêreld jou sal gebruik en ons nie altyd alles vir almal kan wees nie. Dit is nie in ons Vader se plan nie.

Ongelukkig het dit net so gebeur ... die firma het skielik kontantvloeiprobleme en wie is eerste om te moet gaan? Die een wat alles gegee het.

Daar moet altyd ‘n balans wees, en God se woord vertel ons baie duidelik, ons moet ons eerste vir Sy koninkryk beywer en die ander dinge sal volg. Ons mag maar vir God vra om ons te help dat daar nie in ‘n dag meer van ons verwag sal word as wat ons kan hanteer nie. Dan moet ons ook luister na Sy stem en mense kry om ons te help as ons voel die werkslading raak te veel. Nie probeer om alles alleen te doen om iemand te beïndruk nie.

Ons Vader verwag nie van jou om twee dae se werk in een dag in te pas nie! Elke dag vir ditself, dit is wat Hy ons leer. Bekommer jou nie oor môre nie, want die sal vir ditself sorg. Doen wat jou hand vind om te doen vandag.

Dit is ons verantwoordelikheid om na ons liggame en gesondheid om te sien. Gesondheid is ‘n gawe van ons Vader. Moet dit dus nie misbruik deur jouself te bly ooreis nie.

Onthou asseblief, ons moet niks, nie eers asemhaal nie, want dit doen ons Vader ook vir ons. Hy is ons Versorger en Voorsiener.

Sondag 18 Februarie 2024

Misbruik ...




Goeiemôre Vriende,

Ek het vroeg vanoggend al verneem dat die Bolanders weer vandag gaan uitbrand met 'n moontlike 39 grade in die Paarl. As julle ander ook so warm gaan kry, baie sterkte. Hier in Windhoek is die temperature heel draaglik.

Kom ons rek maar die maand van liefde se omgee so bietjie uit, geniet die hart blomme-krans.
Nouja net so laaannkk as wat Januarie vir almal voel, net so kort is Februarie en dit is al weer ver oor die helfte.
 
Terwyl ek so wonder waaroor ek met julle sal gesels so aan die begin van die week, kom die woord 'misbruik' by my op. Ons is mos in die maand van liefde, en hartseer soos dit is hoor ek in soveel vrouens en mans se lewens die begrip van misbruik raak.

Dit is so dat niemand van ons gemis bruik wil word nie, tog is dit lyk dit my heel dikwels so dat mense in verhoudings in gaan en dan na 'n rukkie besef een van die twee partye het dit net vir eie gewin gedoen en as die persoon se behoeftes klaar voorsien is in, beweeg hulle aan. Baie, baie hartseer.
Ongelukkig, is dit nie net in liefdes verhoudings wat dit gebeur nie, maar ook in vriendskappe en in besigheid.

Soms kom die een wat misbruik word dit nie agter nie, want dit is dalk nie finansieel nie. Die persoon se tyd word dalk misbruik van gemaak, of die persoon se gasvryheid. Of die persoon se vriendekring. Wanneer die ander persoon dan kry waarvoor hulle soek of hul doel bereik, verdwyn hulle net uit jou lewe en jy voel gekul, misbruik en gebroke.

Mense wat misbruik word, is dikwels mense met harte van goud, wat net gee en gee en gee sonder om te vra hoekom. Mense wat luister vir nagte om na daardie vriend of vriendin se probleme en raad gee en selfs bid. Mense wat saam met daardie persone die pad stap deur 'n egskeiding, of ongeluk, of operasie en alles doen wat hulle kan om dit vir die ander persoon so gemaklik moontlik te maak, en dan net eenkant toe gegooi word.

Meeste van die tyd sal hierdie misbruikte mens dan glo dit is hulle skuld, dit is omdat hulle nie genoeg gedoen het of genoeg gegee het nie.

Wel, dit is waar ek die regstelling vandag wil maak so aan die begin van die week, dit is nie jou skuld nie. Moet dit vir geen enkele oomblik glo nie. Jy het gedoen wat jy kan, jou vriendskap en jou tyd en jou huis en alles gegee wat jy kon. Jy is nie die oorsaak dat daardie persoon jou net so agter gelos het nie.

Die oorsaak is dat daardie persoon al die tyd selfsugtige motiewe gehad het. Jou kosbare tyd en omgee misbruik het. Jou aande of dae om na oplossings vir hulle probleme laat soek het, en die oplossings net so geneem het toe hulle gereed was om weer op hul eie voete te staan. Selfsug, is die dryfkrag van dit alles.

As jy een van hierdie misbruikte mense is, moet jy dalk aan jouself die vraag vra wat iemand eendag vir my gevra het - sal hierdie persoon vir my doen wat ek vir hulle doen?

Verstaan my nie verkeerd nie, die woord is duidelike dat ons nie mense moet net moet help omdat hulle ons weer kan help nie, maar daar is 'n verskil. Jy help mense op jou pad deur die dag, of doen 'n guns vir iemand, of kyk na hulle kinders terwyl die mamma iets dringend moet gaan doen. Ek praat nie daarvan nie.

Ek praat van vir maande en soms jare as 'n kruk gebruik te word deur iemand. Dan eendag is jy in die nood, en jy twyfel nie eers nie en skakel daardie persoon vir hulp en die antwoord is 'jammer ek is nou besig' of 'jy weet my kinders het my nou nodig of my man' Dit is gewoonlik sulke flou verskonings dat enige driejarige kind sal besef dat dit nonsens is.

Soms moet ons die woord 'nee' leer, dit kan tot ons en ander om ons se beswil wees. Hierdie misbruiker kan jou so uitput dat jy nie tyd en energie het vir die mense in jou lewe wat belangrik is nie.

Soms is jy emosioneel so dreineer deur die misbruiker se probleme, dat jy nie tyd of krag het om jou eie mense se probleme eers aan te hoor nie.

Liefde begin by die huis. Ons Vader, ons man/vrou, ons kinders, ons familie en daarna almal anders.
Die hartseer is dat ons met Christus doen wat ons nie wil hê mense moet aan ons doen nie - ons misbruik Hom wanneer dit sleg gaan. Ons bid, ons soek antwoorde in die Woord, ons luister worship musiek, maar sodra dit beter gaan, taan ons aandag en tyd met Christus.

Paulus gee vir ons 'n mooi voorbeeld van hoe ons God moet dien in Filippense.

Filippense 1:20Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

Christus moet altyd ons alles wees ...

Jesus was ons voorbeeld, Hy het niks gedoen sonder dat Hy se Vader geraadpleeg het nie ... altyd.
Gee om soos Jesus omgegee het, maar vra Hom vir 'n gees van onderskeiding om die koring van die kaf te kan skei en jou energie op die opregte mense in jou lewe te spandeer.
 
Die Woord leer ons ook 'soek allereers die koninkryk van God en al die ander dinge sal jy ontvang' - wees in God gesetel of dit goed of sleg gaan. Moenie God misbruik en verwag dat mense nie dieselfde aan jou sal doen nie.

Mooi loop.

Vrydag 16 Februarie 2024

Liefde is 'n leefstyl

Goeiedag Vriende,

Die week is aan sy einde en ook so die week van liefde waarmee ons van Maandag af besig was. Gisteraand sit ons na die bybelstudie wat gegaan het oor wat is die toppunt van ons Christene se lewe en een van ons ouers lede deel sy gevolgtrekking met ons: Hierdie Heilige Boek wat God se hart vir ons leer kan saamgevat word in net een woord – L I E F D E.

Hoe waar is hierdie stelling nie en reg in die kol. Die sentrale fokus en doelwit in ons lewe is liefde. Want het Jesus nie presies dit aan die Fariseërs gesê toe hulle Hom probeer vasvra het nie?>

Matteus 22:36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’


Ons as Christene het hierdie opdrag van Jesus ontvang, maar nog meer Hy het self hierdie opdrag heel eerste kom leef, die pad gestap wetende dat Hy onskuldig vir ons gaan sterf en steeds liefde bewys, liefde geleef, liefde uitgedeel en liefde vervolmaak aan die kruis.

Die rangorde van ons liefde is baie, baie belangrik.

  1. God-Drie-Enig
  2. Man/Vrou
  3. Kinders
  4. Familie
  5. Ander

Wanneer ons een van die ander voor God stel sal niks uitwerk nie, maar wanneer ons nie die liefde aan ander leef wat God ons vra nie, behaag ons ook nie ons Vader nie.

1 JOHANNES 4:20

As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.


Hierdie tel nie net vir jou broer nie, maar alle mense wat God op jou pad sit.

Om die liefde te kan leef moet ons gehoorsaam wees aan God se voorskrifte in sy woord:

Kolossense 3: 12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 
13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 
14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 
15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 
16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 
17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.


Hier is dit alles mooi uiteengesit wat God se hart is en ek laat julle met nog ‘n paar van die baie verse in die woord wat ons presies vertel hoe ons moet liefhê.

Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
Johannes 15:12


Laat liefde en trou jou nie verlaat nie;
bind dit om jou hals,
skryf dit op die tafel van jou hart,
dan sal jy genade vind en 'n goeie insig
in die oë van God en die mense.

Spreuke 3:3-4


En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

1 Johannes 4:16


Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

1 Petrus 4:8



Liefde is dus nie ‘n eendag-wonder op die 14de Februarie elke jaar nie, dit is ‘n leefwyse wat ons net sal kan leef as ons dit in Christus doen en met die hulp van die Heilige Gees.

Mooi naweek vir julle, en leef liefde waar jy gaan.

Donderdag 15 Februarie 2024

Liefde en familie

Dagsê Vriende,

Nou ja die dag van liefde is nou amptelik verby ... dit is nou volgens die wêreld se riglyne. My gebed is egter dat elke dag ‘n dag van liefde vir ons almal sal wees, want as dit nie is nie, is daar fout. God het ons elke dag lief, nie halfpad nie, maar voluit.

Vandag kyk ons na liefde vir familie.  So dikwels hoor jy van onmin en twis en vyandskap tussen familie. Broers wat nie oor die weg kom nie, susters wat afgunstig is op mekaar. Die mees algemene een is skoonmoeders wat nie met skoondogters oor die weg kom nie.

Om te begin by die skoonmoeder en skoondogter kwessie. Dit spruit natuurlik uit ‘n sin van oorbeskerming van ‘n ma uit. Sy wil die beste vir haar seun/dogter hê. Dan word alles wat die skoondogter doen gekritiseer. Die seun/dogter van die kind moet eintlik heel eerste nie sy huislike sake met sy moeder bespreek nie. Is daar ‘n probleem is tussen huweliksmaats, moet hulle dit met die hulp van die Heilige Gees uitsorteer en nie na hulle ouers hardloop nie.

Die Woord is baie duidelik daaroor dat ‘n man sy ouers sal verlaat en sy vrou sal aanhang. Hulle word dan een.

Matteus 19:5 …Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;

Die man of vrou het mos gekies om met daardie persoon te trou, niemand het hom of haar mos gedwing nie. Dus moet hierdie kind se ouers se rokspante los en by sy vrou of man staan.

Die Woord is ook duidelik oor mense wat onmin saai, want soms word daar onmin deur ouers, broers of susters gesaai teen een familie lid wat nie met hulle saamstem nie.

Daardie suster/broer/ma/pa word afgekraak en bespreek. Dit is niks anders as om ‘n kwaad te stook nie.

Spr 6:16-19 Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.

Meer as gereeld spruit hierdie optrede uit jaloesie, wat net so ‘n groot sonde is. So vroeg soos Numeri lees ons van Miriam en Aaron wat jaloers was omdat God direk met Moses gespreek het, maar met hulle deur Moses. Die uiteinde is dat God Miriam tref met melaatsheid omdat sy jaloers was, Aaron vra dadelik vir vergifnis en ontvang dit ook. Numeri 12:1-15 gaan lees dit gerus. Dit is hoe ernstig God oor jaloesie voel.

Dan is daar die probleem van afguns en verwensing tussen familielede. Die tweede gedeelte van Spreuke 17:5 spreek dit baie mooi aan.

Spreuke 17:5 Wie met 'n arm mens spot, beledig sy Maker; wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander, sal self nie vrykom nie.

Ook Jakobus vermaan ons om nie mekaar te vervloek nie.

Jakobus 3:8 Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif.

9Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.

10Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.

Deur die hele woord vind ons nog baie meer voorbeelde waarin God ons maan om eensgesind te leef, om nie kwaad te stook nie, nie kwaad te praat van ons familie of ander nie, vrede te maak as daar ‘n verskil was.

Gewoonlik kom daar eers berou as een van hierdie familie lede sterf, maar dan is dit te laat. Maak vandag vrede as jy kwaad is vir een van jou eie familielede vir een of ander rede. Ons hoef nie altyd verkeerd te wees om te vergewe nie. Al voel jy dat jy die een is wat te na gekom is, maak steeds vrede, dit is wat God van ons verwag. Jesus was ons voorbeeld – Hy was nie sondig nie, maar het steeds vir ons sondes gesterf. Is Hy vir ons daaroor kwaad, nee Hy het ons innig lief.

Moenie dat onmin, afguns, kwaadstokery jou ontneem van die tyd en liefde van jou familie nie. Ons het almal foute en maak almal foute. Die kern is dat ons moet vergewe soos God ons vergewe het, ander kan ons nie vergifnis van Hom verwag nie.

As die ander persoon nie wil vrede maak nie, vergewe jy steeds en bid vir daardie persoon se hart om te versag. Vir God is alles moontlik. 

Laat ons God se voorskrifte volg en Sy liefde leef ook teenoor ons families.

Woensdag 14 Februarie 2024

Liefde van ouers en kinders

Dagsê Vriende,

Nog ‘n pragtige nuwe môre na die heerlike reën wat ons gister gehad het. Die amptelike dag van liefde wat die wêreld proklameer het is vandag. Die besigheidswêreld glimlag breed vir al die geld wat mense vandag gaan spandeer om hul geliefdes te bederf.

Ons is besig om die hele week al na liefde te kyk. En vandag kyk ons na ons liefde vir ons kinders.
Vader God het ons as sy eie kinders aangeneem deur die offer van Jesus sy Seun aan die kruis. Verder het Hy besluit om ons te seën met kinders van ons eie.

“Toe het God hulle geseën:“ ‘Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op die land.’” Gen. 1:22.

Watter groter vreugde is daar in die lewe as om jou pasgebore eersteling in jou arms te hou? Ek onthou nog goed toe my oudste seun gebore is. Ek het vir die eerste week of meer na hierdie klein, volmaak geskape wesentjie gekyk en gekyk en gekyk. In my hart kon ek net nie by die gedagte verbykom dat God hierdie kindjie in my liggaam laat groei het nie. So pragtig en so volmaak.

Kinders is ‘n geskenk van God –

“Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
Psalm 127:3.

Kindskinders is 'n kroon vir grysaards,
en vir die kinders is hulle vader 'n eer.
Spreuke 17:6

Kinders bly nie klein nie, en in vandag se lewe is dit ‘n uitdaging om kinders groot te maak. Daar is soveel bose elemente waaraan hulle blootgestel word. Hoe sal ons dit regkry om ons kinders in God se weë op te voed?

Eerstens moet ons ‘n voorbeeld wees vir ons kinders. Daardie storie van: Moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê – dit moet glad nooit uit jou mond kom as ouer nie. Jy moet God hou jou verantwoordelik om die voorbeeld vir jou kind te leef wat jy wil hê hy of sy moet volg. Want die Engelse gesegde is baie waar: Monkey see, monkey do. Kinders volg hulle ouers van baie, baie jonk af na.

Ek sal nooit vergeet hoe my jongste seun, pas begin praat een oggend ‘n groot duisendpoot gesien het en ewe kordaat proklameer het: ‘Mamma kyk die fokkelolo’ – hoekom want hy het gehoor dat sy vader die shongololo so noem, en nie eers gereeld nie, miskien het hy dit net eenmaal gehoor. Dit is hoe die vyand werk, dit wat jou kind nie moet hoor en sien nie, sien hy eerste. Ons is so naive om te glo dat kinders so jonk soos twee en drie niks verstaan en niks weet nie. Hulle is juis soos sponse en neem alles in.

In my eie lewe kan ek so ver terug as my derde jaar dinge baie, baie goed onthou.

Ons moet dus die voorbeeld van liefde, van eerlikheid, van vrede, van opregtheid, van eerbaarheid, van lojaliteit, van betroubaarheid en nog meer vir ons kinders leef. Dit vir hulle wys, want dade spreek ver harde as woorde. Maar ook die woord van waarheid wat in die Bybel opgeteken is van jongs af by hulle inskerp.

“Hierdie gebooie...moet jy inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut.6:6–7).

My oorlede skoonma, waarvoor ek ontsettend lief vas, het altyd vertel van haar oom en sy vrou wat besluit het om nie hulle kinders te tugtig nie, maar wel om die regte voorbeeld vir hulle te wys deur hoe hulle leef.

Dan het sy vertel watter model kinders die oom en tante groot gemaak het.

Want sien die kinders het gesien hoe lief hulle ouers mekaar en God het, hulle het gesien hoeveel respek daar vir mekaar in die huis is, hulle het gesien hoe eerlikheid en lojaliteit lyk. Niemand kon hulle anders oortuig dat dit ander moet lyk nie, want hulle het elke dag die voorbeeld gesien wat hulle moet volg.

Jesus het ook vir ons die voorbeeld kom gee van hoe ‘n kind se liefde vir sy Vader of aardse ouers moet lyk. Hy het in gehoorsaamheid aan sy Vader geloop en geleef en selfs gesterf.

Dit is wel so dat ons ons kinders moet tugtig, maar ons kan net ons kinders oor dinge tugtig wat ons hulle deur ons voorbeeld van leef gewys het en hulle nie navolg nie. ‘n Kind wat alles kry, en nooit getugtig word nie is een wat jy vir die verderf grootmaak, en dit is nie in God se wil nie.

Spreuke  22:6
Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.
Die sot verag die tug van sy vader,
maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.

Spreuke 15:5
Ons as ouers sal deur God verantwoordelik gehou word vir ons kinders. Soos wat God ons Vader ons Hoof is, so is die Pappa in die huis die hoof deur God aangestel en die Mamma in die huis deur God as die versorger aangestel.

Die kind het ook ‘n verantwoordelikheid teen oor sy ouers. Die woord is duidelik daaroor. Ek plaas hier die voorskrifte van ouers en kinders uit Efesiers 4.

EFÉSIËRS 6
1 KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.
2 Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met 'n belofte —
3sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.
4En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.
5 Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus;
6nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen
7en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie,
8omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman.
9En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.

Die woord is ook duidelik oor die opdrag aan kinders oor bejaarde ouers.

Spreuke 23:22 ”Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie”

Livitikus 19:32 Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van 'n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die Here.

Nie net respek word van kinders teenoor hulle ouers verwag nie, maar ook voorsiening in broodnodige lewensmiddele.

1 Timótheüs 5:4
Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.

Baie sterk is die woorde uit die Woord as kinders nie hulle bejaarde ouers of gesin versorg nie.

1 Timotheus 5:3-4,8
As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy gesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige”

God seën ons met kinders, ons versorg hierdie kinders en dan seën God daardie kind deur sy ouers te spaar om hul wysheid aan hul kinders oor te dra.

Sonder God sal ons nooit ons kinders groot kry nie, sonder God sal ons kinders nooit die waarde van ons as ouers kan insien nie.

Die opdrag staan steeds: Wees lief vir mekaar en respekteer mekaar. Dit sal ons net kan doen as ons in die voetstappe van Jesus volg. Ons is kinders van God, daarom moet en kan ons Sy liefde uitleef teen ons kinders en teen ons ouers.

Dan sal daar nie soveel kinders wees wat vir die vyand leef nie en ook nie soveel vereensaamde ouers nie.

Dinsdag 13 Februarie 2024

Liefde tussen man en vrou


 Goeiemôre Vriende,


Weer lekker by ons gereën en ek hoef nie my tuin nat te maak nie, want ons Vader was getrou en het dit reeds vannag vir my gedoen.


Môre is dit Valentynsdag, maar ons kyk vandag na die liefde tussen man en vrou soos God dit bedoel het.


Daar is duidelike voorskrifte uit die woord hoe liefde tussen man en vrou moet lyk en ook hoekom God die vrou geskape het. Reeds so vroeg soos Genesis 2 in die Bybel met die grondlegging van die wêreld, het God gesien dat die mens alleen was.


Daar het God al dit duidelik gemaak dat die man en vrou een sal word en as ‘n eenheid sal staan, want daar word duidelik genoem dat die man sy ouers sal verlaat.


Genesis 2:22-24 En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.


Wat beteken dit? Dit beteken dat hy nie getroude man sy ouers se kant of sy vriende se kant of wie ook al se kant sal neem en teen sy vrou staan nie. Nee, dit is nie God se wil nie. God se wil is dat hulle in eenheid sal leef.


Mag man en vrou dan nooit verskil nie? Dit is onmoontlik, omdat God hulle individue geskape het. Wat dit wel beteken is dat hulle in liefde en onderlyding van die Heilige Gees hulle verskille sal uitsorteer en God sal vra om hulle te help daarmee.


Nie met ‘n geskel, geskree en slegsêery mekaar sal afkraak nie. Nie voor mense mekaar sal verneder omdat hulle nie met mekaar saamstem nie. Nie hulle huweliksprobleme met hul vriende of familie sal bespreek nie.


Hoor ek jou sê, maar jy weet nie hoe my man of vrou optree nie. Wel God weet en jy kan maar met Hom daaroor praat, hy het die oplossing en sal dit nie aan die hele wêreld verkondig nie.


Vandag is niks meer heilig nie, die mens het alles opgemors, so ook die huwelik. Dit is byna ‘n sonde as ‘n man sy vrou liefhet, dit wys en sê. Sy vriende kyk hom skeef aan, want eintlik moet hy mos saam met hulle stem dat vroue net daar is om die huis skoon te hou, kinders in die wêreld te bring en hulle te versorg en reg te wees om die man plesier te verskaf wanneer hy so voel.


Nee, dit is nie wat God se woord vir ons leer nie. Daardie siening is so reg van die satan wat net huwelike wil verwoes met sy leuens. Daardie storie van ‘maar ek het ook tyd met my vriende nodig’ – ek sien dit nêrens in die Woord van God nie en dames, dit geld ook vir ons.


Hier onder bevestig Matteus weer wat al in Genesis gesê is: die man en die vrou se lojaliteit is albei eerste in Christus en dan in mekaar.


Matteus 19:4-6
En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.


Dan kom ons by die begrip van die vrou wat onderdanig moet wees. Ongelukkig is hierdie heilige stuk waarheid al so afgewater en het dit in ‘n grap ontaard. Ongelukkig lees en word net die eerste verse aangehaal en nie die hele stuk soos wat God dit gewil het nie.


Almal hak dus vas by die vrou moet onderdanig wees ongeag! Nee, dit is nie wat God se woord sê nie. Lees dit asseblief – miskien vir die heel eerste keer in jou lewe heel deur.


Efesiërs 5 Man en vrou
21Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
22Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. 23Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. 24Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
31Daar staan in die Skrif: “Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” 32Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon.
Ja, die opdrag van God is dat die vrou onderdanig moet wees aan haar man. Kom ons kyk asseblief verder. Ek moet net hierdie verse mooi uithaal dat daar geen verwarring kan wees nie.
Efesiërs 5: 22Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. 23Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. 24Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
In hierdie gedeelte is die opdrag nie alleen dat die vrou aan haar man onderdanig moet wees nie, maar dat die man die vrou moet liefhê en nie net sommer so nie, maar wel ‘soos Christus die kerk liefhet waarvoor Hy sy lewe afgelê het’.


Hierdie klink nie vir my na ‘n liefde wat sal seer maak, na ‘n liefde wat sal afkraak, na ‘n liefde wat sal sake berokken nie. Hierdie klink vir my na ‘n liefde wat niks sal kan breek nie.


As ‘n man God liefhet, en daarna sy vrou soos wat Christus hom beveel het, sal daardie vrou onderdanig wees en sy sal dit nie eers sien as ‘n las nie. Sy sal haar man wil dien, en respekteer omdat hy ‘n man is wat in Christus se liefde wandel en handel met haar en haar kinders.


Vroue maak ook fout, hanteer ook hulle mans verkeerd, die verse hier is net soveel van toepassing op ons. Voor jy jou vriendinne van jou man se foute en probleme vertel, praat met God.


Voor jy jouself wend na ‘n ander man op wie se skouer jy wil gaan huil en voor jy weet het dit ontaard in ‘n buite egtelike verhouding wat jy goed praat omdat jy glo dit is jou reg want jou man mishandel jou – praat met God daaroor.


Wat sê die woord van ontrouheid:


Hebreërs 13:4
Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.


Ontrouheid in die huwelik is ‘n baie, baie ernstige saak. Dit is sekerlik ook die rede hoekom dit opgeteken is in Matteus en nog ander plekke dat egbreuk die enigste rede is waaroor ons mag skei.


Matteus 19:8Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. 9Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.”


Dan kom daar die ding van begeerte in. Op sosiale media en in die werklike lewe is daar vroue wat uitlokkend aantrek, of mans opsetlik probeer verlei. Kyk wat is God se siening daaroor.


Matteus 5:27 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’a 28 Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk en ’n begeerte na haar ontwikkel, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.


Hierdie roep die man en die vrou tot verantwoording. Vroue moet hulle liggame bedek en nie opsetlik mans uitlok nie. Mans as jy getroud is, is daar net een vrou wie jy mag begeer en dit is die een waarmee jy reeds een is.


Ter afsluiting kom ons by die bekende Korintiërs 13 se uiteensetting van die liefde wat nog steeds die norm is van God se liefde vir ons en ons s’n vir ons lewens maat behoort te wees.


1 Korintiërs 13:4-5
Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.


Daar is tog niks so wonderlik as om liefgehê te word nie, veral nie as daardie liefde in dieselfde maat beantwoord word nie. As man en vrou saam staan teen die wêreld en saam met God loop, is dit ‘n band wat onbreekbaar is. Die wete dat God tevrede is met jou en dat die persoon aan jou sy geanker staan in God en jou altyd sal ondersteun, wat ‘n wonderlike wete is dit nie?


Wees lief vir mekaar, soos God ons eerste liefgehad het – met ‘n liefde wat bereid was om te sterf vir ons.

Maandag 12 Februarie 2024

God se liefde


Goeiemôre Vriende,

Dit is Maandag en almal is weer aan die draf met die dag se werk. Ek hoop almal het darem ‘n ruskans gehad oor die naweek. Daar is ek nogal vasberade in my manier van dinge doen – Saterdae kan ek nog dinge doen, maar Sondae is soos ons Vader dit bestem het vir my ‘n rusdag. Dit is die dag waarop ek my batterye vir die week herlaai met geestesvoedsel en my liggaam ook laat rus.

Ek daar in ons ou Namakwaland gaan mense sekerlik nie so tekere oor Valentynsdag soos in die res van die wêreld nie. Tog wil ek graag hierdie week elke dag kyk na ‘n ander soort liefde en ek wil begin met God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom.

As ons van ons Vader se liefde vir ons praat en hoe ons weet dat Hy ons lief het, is daar een vers wat ons nooit kan mis nie:

Johannes 3:16
16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Wie is die wêreld wat hier na verwys word? Jy en ek is die wêreld, ons man of vrou, ons kinders, ons familie – alle mense op die aarde is die wêreld.


Hierdie liefde van ons Vader het nog nooit opgehou nie, deur al die eeu heen, het Hy ons nog net so lief. Selfs al het ons telke male al Sy hart gebreek, gesondig, Hom teleurgestel. Al probeer die vyand ons daagliks van Hom af weg rokkel.


Dan gee Hy ons die troos in sy Woord:

Romeine 8:35;38-39
Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?… Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

Hy wil ons liefhê, en al het Hy nie ons liefde nodig nie, is dit ook Sy grootste begeerte dat ons Hom sal liefhê.

Matteus 22:37-40
Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.
Hierdie is Jesus selfs se woorde, die Een wat gesterf het omdat Hy ons so liefgehad het en nie wou sien dat ons hoef te sterf vir sonde nie.

Daar is oneindig baie verse in die Bybel oor God se liefde vir ons en hoe Hy wil hê ons moet Hom liefhê. Hy meet ons liefde vir Hom aan ons gehoorsaamheid, aan ons afhanklikheid, aan ons verhouding met Hom. Ons wil tog tyd spandeer met die een wat ons liefhet.

Johannes 14:15
As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou.

Johannes 14:21
Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.

Laat ons dan vandag en elke dag besin oor hoe lief God, die Almagtige, ons Vader ons het en nie vergeet dat ‘n liefdesverhouding ook bestaan uit liefde wat gegee word en liefde wat ontvang word nie.

Ons het reeds God se liefde ontvang en hou nie op om dit te ontvang nie. Het jy al begin om daardie liefde te terug te gee aan Hom? Hom te eer en te dien en te dank in met jou lewe en jou liefde?

Donderdag 08 Februarie 2024

Die toppunt


Goeiemôre Vriende,

Die week is haas verby en soveel dinge het gebeur hier in Namibië. My geliefde oom Polla is oorlede, ons President is oorlede en die grootste skok van alles, ‘n jongman wat ek geken het is deur weerlig gedood. Dit alles laat ons net besef dat lewe soos ons dit ken op aarde van korte duur is.

Gisteraand het ons Bybelstudie gehad en die onderwerp was was: Wat is die toppunt van die Christen se lewe?

Ons antwoord hierop kry ons in Kolossense 1.

Kolossense 1:9 Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,
10sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,
11 en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,
12 en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig —
13Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,
14in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.
In hierdie verse sien ons wat van ons verwag word en dat God ons toegerus het daarvoor. Hy het vir ons die ‘gereedskap’ gegee om kennis van sy Woord te kry, om gehoorsaam te wees aan Sy wil, om vrug te dra, om dit alles te doen met lydsaamheid en lankmoedigheid in blydskap.

Ons Vader vra nooit iets van ons waarvoor Hy ons nie reeds toegerus het nie. Ons moet net daardie gereedskap uit die ‘toolbox’ haal en gebruik.

Vanaf vers 15 sien ons hoekom hierdie die toppunt van ons Christene se lewe is. In eenvoudige taal – die toppunt is om te strewe om soos Jesus te wees, soos Jesus op te tree, soos Jesus lief te hê.

Omdat:

15Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;
16want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.
17En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
18En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.
Jesus het ons in alles voorgegaan, die weg berei, die pad oop gemaak vir ons om daarop te loop en Hom te volg. In Johannes 15:15 word dit so gestel:
15Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Ons werk is dus om elke dag te strewe om meer soos Jesus te raak. Hy het ons die volmaakte voorbeeld gegee wat Hy van God die Vader gekry het en ook die voorreg om te vra as ons iets kortkom op hierdie weg.

Wie wil nie die toppunt in Christus bereik nie?

Mooi loop en geniet julle naweek.

Ek groet jou, oom Polla


 Ek groet jou, Oom Polla


Oom Polla, vandag is jy finaal op hierdie aarde te ruste gelê. Jy het ‘n wonderlike vol lewe gehad waarin jy op soveel mense se lewens in invloed gehad het. Jy het diep, diep spore in Natuurbewaring, wat jou passie was en sport in hierdie land getrap.

Dit was voorwaar ‘n voorreg om vir vyf jaar saam met jou te stap as jou persoonlike assistent en daarna nog twee jaar baie nou met jou te kon saam werk. In hierdie jare het ek jou baie naby leer ken. Ek het jou wonderlike vrou, tannie Chrija wat ons ook al verlaat het, leer ken, jou pragtige dogters Nardia, Tana en Christel leer ken. Veral vir Tana wat so nou in jou spore gevolg het.

Ek het die voorreg gehad om nie net op kantoor jou regterhand te wees nie, maar ook as enige een van jou familie ‘n hand nodig gehad het. Ek onthou nog hoe daar aan Nardia en Tana se troues gereël is. Die vele kere wat ons by julle huis gebraai het, nie net heerlike kos geniet het nie, maar gesien het hoe vriende vir ‘n leeftyd saam met julle gekom het. Dit is net by hierdie geleenthede, waar jy my leer rooiwyn drink het. Keer op keer sou jy vra of ek rooi wyn wil drink en dan het ek geantwoord, nee dit is sleg. Jy het my stadig geleer hoe om rooiwyn te drink en dit te geniet.

Vandag toe ek so in die kerk om my kyk toe eien ek van hierdie vriende wat nog met ons is. Hoe kosbaar was dit nie om hulle te groet en ‘n drukkie te gee so terwyl ons van jou, ons vriend en held afskeid geneem het nie.

Op kantoor was jou tafel altyd die enigste tafel in die hele Natuurbewaring wat altyd skoon was, nie omdat jy nie werk gehad het nie, maar omdat jy onmiddellik enige werk afgehandel het as dit ingekom het. Ek onthou hoe die manne soos Chris Grobler of Leon van Rooyen soms vir ‘n lêer kom soek het. Wanneer hulle dan so na jou kantoordeur toe gemik het, het ek hulle gekeer met die woorde: ‘Daardie lêer is nie in my baas se kantoor nie, hy laat nie werk op sy tafel ophoop nie.’

Jy was altyd my redding as dit by my swaar voet gekom het. Telkens het ek in die kantoor ingestap met ‘n sug, want ek het alweer ‘n spoedkaartjie gekry en al weer hopeloos te vinnig gery. Dan het jy dit dadelik van my geneem, met die woorde: ‘Marsofine, moet jou nie verder bekommer nie, ek gaan nou dadelik na Giel Nieuwoudt toe, hy sal ‘n plan maak.’ En elke keer het jy terug gekom met daardie glimlag en die nuus dat oom Giel voorwaar ‘n plan gemaak het en my boete afgeskryf het.

Die is dan ook hierdie swaarvoet-reputasie van my wat jou die dag wat jy Stellenbosch toe moes vlieg en jou paspoort by die huis vergeet het, my laat bel het van die lughawe. ‘Marsofine, bring my paspoort, maar jy moet ry soos net jy ry, die vliegtuig wag maar kan nie te lank wag nie.’

Daardie dag het ek egter nie kans gesien vir die uitdaging nie en vir Hannes gekry om die ry werk te doen. Ons het lughawe toe gevlieg met daardie blou Opel Monza, en jy het daar voor die lughawe gebou vir my gewag, maar jy was betyds en is Stellenbosch toe.

Kort nadat ek vir jou begin werk het, was ek eendag by die dokter. En die nuus het my in trane gehad, want ek was swanger en wou nie eintlik nog ‘n baba hê nie. Jy het my geluk gewens en getroos dat dit ‘n wonderlike ding is. My man was wel woedend dat ek weer swanger was, maar jy het my bly opbeur totdat ek besluit het, hierdie baba is my baba, en ek wil hom hê.


Soos die lewe maar loop, het ons nie net saam gelag nie en geniet nie, maar ook saam gehuil. Dit was mos nog die dae voor die selfoon. Ek moes die oggend vroeg Trip Travel toe gaan om vir jou ‘n vliegtuig kaartjie te gaan haal. Jy was op pad na een of ander Natuurbewarings Kongres. Ons kantoor het ‘n agter deur na die parkeerarea gehad daar by die LTA-gebou. Toe ek stilhou in die parkeer area het jy en Beaulah daar binne die deur gestaan en albei gelyk gepraat en gewys dat ek die deur vinnig moet oopsluit. Ek het gewonder, wat op aarde gaan met julle twee aan. Toe die deur oopswaai, was jou eerste woorde: Jy moet ry, Marsofine, jy moet dringend en baie vinnig ry! Een van jou kinders is baie siek. Ry dagmoeder toe!’ Dit is die dag wat Dawid wiegiedood is. Daarna was jy die een wat my daagliks bemoedig het.

Toe die nuwe bedeling en Meneer Rumpf Natuurbewaring te beurt geval het, was jy die een wat gesorg het dat hy alles moontlik weet en alles moontlik leer wat hy moes weet om sy werk te kon doen. Hy het swaar op jou gesteun, maar jy was altyd daar en altyd gewillig.

Die manne en vrou van Natuurbewaring het almal die hoogste agting en grootste respek vir jou gehad. Daarby was jy groothartig en altyd reg om te help. Toe Meneer Rumpf jou vra of jy my as persoonlike assistent sal afstaan aan hom, het jy dadelik ingestem. Nie aan jouself gedink nie, maar daaraan dat dit beter vir hom sal wees en goed vir my om bevorder te word.

Nadat ons albei Natuurbewaring agtergelaat het, het ons albei besef, dit sal altyd in ons bloed wees en het ons saam die wonderlikste byeenkoms by Daan Viljoen gereël met Natuurbewaarders wat van selfs oorsee gekom het om dit by te woon. Wat ‘n wonderlike aand was dit nie, waar almal terug geloop het saam met jou en die wonderlike herinneringe wat julle gemaak het weer opgesoek het.

Daar was na jou weer Direkteure van Natuurbewaring, maar nie een sal jou skoene ooit volstaan nie en nie een van hulle sal ooit ‘n Polla Swart wees nie, want jy was uniek en daar was net een van jou.
Jou dogters, skoonseuns, en kleinkinders sal jou mis, maar wees vir seker ek sal jou ook mis. Al het ons die laaste jare mekaar nie baie gesien nie, was jy nooit ver van my gedagtes nie, want ons harte is altyd by die natuur.

Jou nalatenskap sal vir nog baie, baie jare in hierdie land onthou word.
Rus in vrede, my oom Polla.
8 Februarie 2024

Woensdag 07 Februarie 2024

Volg in Jesus se spore


 Môre, môre Vriende,

Wonderlike, mooi nuwe dag hier in Windhoek. Ek hoop die hitte is darem nou gebreek daar in my hartland.

Vanoggend wil ek vinnig ‘n gedagte met julle deel oor valse profete. Sondag wat verby is het ons Pastoor daaroor gepraat in die onderwerp ‘Kingdom Objective’. Hy het gepraat oor so baie mense wat deesdae hulself profete en apostels en wie weet wat nog noem en mense met dwaalleringe verlei.

Gisteraand kom kuier my jongste seun vir ‘n koffie by my en hy praat met my oor ‘n vriend van hom wat baie snaakse idees oor die skepping en heelal het en glo dit word so gestaaf in die Bybel. Ek gaan dit nie hier herhaal nie, want dit is eenvoudig net vergesog en beslis nie wat God se woord vir ons sê nie. Tog tree hierdie man aan die anderkant op asof hy ‘n volgeling van Jesus is.

Maar die dinge wat hy verkondig is van so ‘n aard dat dit mense net sal verwar en geen ewigheidswaarde het nie.

Vanoggend kom praat Pastoor Des Wessels oor presies die sulkes en kwoteer die vers in 2 Korinthiers om ons te waarsku.

2 Korinthiers 11:13Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. 14En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig. 15Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.


Ons ken almal die ou uitdrukking van: Hy doen hom voor as ‘n wolf in skaapklere. Dit is nou presies wat hierdie is in eenvoudige taal.

Die eerste vraag wat ek altyd vir myself vra as mense video’s oor allerhande apostels en profete aanstuur is, het hierdie boodskap enige ewigheidswaarde of is dit net nog propaganda om mense vrees in te boesem?

Ons moet ons Vader vra vir onderskeidingsgees, elke dag, want daar is oorgenoeg en teveel mense wat eintlik vir die vyand werk en hulle voordoen as werkers vir die koninkryk. Hulle is daar om verwarring te saai, om kinders van God te kry om te twyfel in die waarheid van oor wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Om ons te laat twyfel oor die Woord van God wat vas staan.

Hulle is so slim en slinks dat hulle die Woord van God op ‘n heel ander manier vir ons opdis.

Die lank en die kort hiervan is, ons as kinders van die Allerhoogste moet op die Rots staan. Moet seker maak dat ons Sy woord ken, en moet elke dag vra vir onderskeidingsgees. Dan sal ons binne sekondes weet dat dit wat aan ons opgedis word leuens is en nie van God nie.

Kom ons loop oop oë deur die lewe, en maak die woord so deel van ons dat ons die wysheid sal ontvang om te weet wat God se woord is en wat versinsel is om ons net te verwar in hierdie tyd waar ons moet vasstaan.

Jesus het reeds vir ons die spore kom trap waarin ons moet volg, laat ons dan met ‘n vaste tred daarin loop met die Gees as ons Helper en die Woord as ons gids.

Dinsdag 06 Februarie 2024

Wees gereeds vir die Bruidegom


Goeiemôre Vriende,

Hier is dit ‘n heerlike koel oggend, met die belofte van reën. By ons in Namibië is dit mos meesal donderweer reën. Gisteraand was die weer baie swaar in die omgewing van Okahandja en ‘n jongman wat ek net twee en ‘n half maande gelede nog mee gesels het is deur die weerlig dood geslaan. Dit het my net weer laat besef dat ons tyd nie in ons eie hande is nie. Hy is die derde persoon wat ek ken wat vanaf Saterdag oorlede is. Die verskil is, hy was jonk en gesond en volgens ons menslike standaarde moes hy nog lank gelewe het.

Daar is nie tyd om te mors nie vriende, ons moet elke dag leef asof dit ons laaste dag is. Dit is al hoe ons by Jesus se voete kan bly.

Moenie vir eendag wag voor jy vir die mense om jou vertel dat jy hulle lief het nie. Moenie vir eendag wag voor jy die pad met Jesus begin loop nie – soms hoor jy jongmense sê dat hulle eers hulle lewe wil geniet en dan hul harte vir Jesus sal gee. Wat as jy die een is wat vandag kom haal word?

In Matteus 25 lees ons die gelykenis van die tien maagde, vyf wie se lampe vol olie was en gereed was toe die Bruidegom gekom het en vyf wie moes gaan olie soek en uitgesluit is toe die Bruidegom gekom het en hulle nie daar was nie.

Moenie so opgevang word in die dinge van die wêreld dat jy sonder olie gevang word nie. Maak dood seker dat jy elke dag gereed is om die Bruidegom te ontvang as Hy sou besluit om te kom.

Môre is nie vir enigeen van ons belowe nie, nie vir die wat jonk en gesond is nie, ook nie vir die wat al hul lewens geleef het nie. Om te lewe is ‘n voorreg uit ons Vader se hand elke liewe oggend.
Leef so dat jy gereed is en wag met opgewondenheid op die Bruidegom.


Ongeag watter tipe blom jy is, of jy 'n kosmos langs die pad is en of jy 'n roos in die koningin se tuin is - een of ander tyd gaan jy verwelk en dood. Blom vandag!

Ons vra 'n roos, Hy gee 'n roostuin.



Dagsê Vriende,


Heerlike koelerige oggend in Windhoek met ‘n luggie wat so wil-wil stoot. By my gaan alles klopdisselboom en ek geniet my nuwe baba katjie baie. Hy is die hele huis vol en vol manewales. Verder skryf ek heerlik aan my volgende boek, die woorde loop mooi.


Vanoggend gesels een van die pastore oor dat ons Vader nie moedswillig ons laat wag nie en net daarna praat my dagstuk oor dat God soms vir ons nee sê vir ‘n rede. Kom ons kyk bietjie daarna.


Soms voel dit vir ons asof ons Vader dinge vertraag, asof Hy uitstel om ons te antwoord. As ons kyk na Lazarus se verhaal, dan het sy suster ook gedink dat God te laat was.


Eintlik is Hy glad nie besig om enigiets te vertraag of sal ook nooit laat wees nie, miskien volgens ons menslike standaarde, maar nie volgens Sy volmaakte plan nie.


Met Lazarus wou Hy ‘n spesifieke werk doen, en daarvoor moes hy in mense oë laat wees. Hy wou nie net vir Lazarus lewend te maak nie, maar Hy wou ook die mense wat dit aanskou het se lewens verander.


Kyk na die belofte in 2 Petrus 3.


2 Petrus 3:8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.


Jy bid dalk al lank oor iets en jy voel of Hy nie op nie. Hy wil homself openbaar in ‘n manier wat ons Hom nog nie ken nie. As Hy dan opdaag doen Hy dinge groter as wat ons ooit kon dink.
Hy wil maksimum impak maak ook op jou mense om jou. Hy sal opdaag, Hy is lankmoedig en hy wil ‘n spesifieke ding vir jou doen.


Dit sluit aan by die vers in Psalm 39:13 waar Dawid tot God smeek vir hulp en voel dat God nie opdaag nie.


Soms vra ons Hom dinge wat nie vir ons eie beswil is nie, uit ons eie selfsug en begeertes. Dan is sy antwoord dalk soos vir Dawid ‘nee’, want Hy kan die groter prentjie sien en ons nie.


Psalm 39:13 13Hoor tog my gebed, Here,
luister na my hulpgeroep;
moet tog nie koud staan teenoor my trane nie,
want ek is net op u beskerming aangewese;
U alleen sorg vir my, soos vir al my voorvaders.
14Neem tog u straf van my weg,
dat ek weer bly kan wees
voordat ek heengaan en nie meer daar is nie.


Jy en ek mag ook voel dat God ons nie hoor nie of nee antwoord en voel Hy gee nie om nie. Maar eintlik is Hy besig om genadig te wees, om ons nog ‘n kans te gee, om iets baie groter vir ons voor te berei.


Net soos wat ons as ouers nie altyd vir ons kinders ‘ja’ sê nie omdat ons die gevare van die lewe ken, net so dra God ons as sy kinders se belange op Sy hart en dit beteken dus dat Hy soms vir ons sal moet ‘nee’ sê om ons te beskerm.


Daarom: Don’t give up, you are on the brink of a miracle. Trust in God, the One that holds your future in His hand.


Ons vra Hom een roos, maar Hy het vir ons 'n hele roostuin!

Sondag 04 Februarie 2024

Slegs in Christus is daar waarde


Goeiemôre Vriende,

Ek hoop dat die ergste hitte darem nou die wyk geneem het daar by julle. Hier het dit deur die naweek af en aan gereën en ons is dankbaar vir elke druppel.

Dit was ook ‘n naweek waar daar twee groot manne oorlede is. Die een is my eertydse baas, voorheen Direkteur van Natuurbewaring. ‘n Man wat vir Namibië rugby gespeel het op sy dag en diep spore in baie mense se lewens getrap het. Die ander een is ons President, Meneer Hage Geingob. Self ‘n man wat diep spore in ons land se geskiedenis getrap het en hierdie land vir byna tien jaar gelei het.

Albei hierdie manne was al in hulle tagtigs. ‘n Baie goeie ouderdom. Albei van hulle sal voorwaar deur familie, vriende en kennisse baie gemis word.

Wat is my punt vanoggend?

Ek lees vanoggend Prediker 2 en die wyse skrywer van hierdie boek in ons Vader se woord kom waarsku ons dat al ons pogings tot niks kom as dit nie van ons Vader is nie. Dat alles wat ons geniet deur ons geswoeg en gesweet steeds net ons Vader se guns en goedheid is.

Prediker 2

Vreugde en rykdom gee geen geluk nie.

1EK het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs.

2Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?

3Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik — terwyl my hart my met wysheid sou lei — en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae.

4Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant.

5Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.

6Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei.

7Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het.

8Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte.

9En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly.

10En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.

11Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

12Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat lankal gedoen is!

13Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die lig die voorkeur het bo die duisternis:

14die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.

15Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is.

16Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse net soos die dwaas!

17Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind.

18En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat ek dit moet oorlaat aan 'n mens wat ná my sal kom.

19En wie weet of hy 'n wyse sal wees of 'n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook dit is dan tevergeefs.

20Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.

21Want daar is 'n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei het; tog moet hy dit as deel oorgee aan 'n mens wat daaraan geen moeite bestee het nie. Ook dit is tevergeefs en 'n groot euwel.

22Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son?

23Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.

24 Dit is nie 'n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.

25Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?

26Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.

As ek so lees wat die Prediker skryf, laat dit my weer dink aan daardie lied wat ons soms sing:

“Wat ek het is net genade, wat ek is is net geleen ...”

Hierdie twee groot manne het baie groot dinge in hulle lewens gedoen, vir hulle families, vir hulle vriende, vir hulle medemens, en selfs vir hulle land.

Steeds kom dit tot niks as hulle nie die pad met Jesus gestap het en Hom as hulle saligmaker aangeneem het nie.

God bly ons hoogste goed, daarom is alles anders ‘n gejaag na wind as ons dit nie in Sy naam aanpak nie.

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...