Goeiedag Vriende,
Heerlike wind stil dag en die Pieterpol is besig om vir my ‘n baie mooi liedjie te sing.
Vanoggend wil ek gesels daaroor om geliefdes te laat gaan. Hiermee bedoel ek nie aan die dood af te staan nie. Kom ek verduidelik.
Jare gelede, het ons besluit om ons oudste seun na ‘n hoërskool in Suid-Afrika te stuur. ‘n Skool waar hy ‘n groot keuse in sport gehad het, en ook net so ‘n groot keuse in akademie.
Hy was in die sewende hemel van geluk oor die vooruitsig om na hierdie skool te gaan. Die voorbereidings is getref en ons het die reis van 1500km aangepak. Daar was hy goed ontvang.
Toe ons hom groet en daar agterlaat moes ek maar op my tande byt om die trane terug te byt. Hoekom? Omdat ek dit nie vir hom wou moeilik maak nie. Vir die eerste paar kilometers weg van hom het ek vir die eerste en die laaste maal gehuil.
Ons kind was gelukkig. Hy het vinnig aangepas en was geliefd onder sy nuwe maats en by die onderwysers. Hy het uitgeblink op akademiese en sport gebied soos nog nooit voorheen nie.
Vriende en kennisse het gevra: hoe kry jy dit reg om jou kind so ver van jou weg te stuur?
Maklik: As my kind gelukkig is, is ek gelukkig. Hoe kan ek hom daardie geluk ontneem omdat ek selfsugtig is en hom naby my wil hou?
Soms moet ons van ons self af wegkyk as ons geliefdes veranderings in hulle lewe maak wat hulle gelukkiger sal maak. Soms moet ons dink aan hoe lekker dit sal wees as hulle gelukkig is en hulle dit gun. Gelukkig wees omdat hulle gelukkig is.
Ons is so vasgevang in hierdie wêreld waar almal net aan hulle self dink, aan hulle eie geluk dink, dat ons vergeet om gelukkig te wees as ons geliefdes gelukkig is.
Jesus was ons voorbeeld – vir Hom het dit nooit gegaan oor sy eie geluk nie, maar om Sy Vader te behaag en ander gelukkig te maak en te help.
Kom ons loop in die spore van ons Meester, kyk ‘n slag weg van onsself en wees gelukkig omdat ons mense gelukkig is, al beteken dit dat hulle dalk nie by ons is nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking