Ek hoop julle het ‘n heerlike, rustige naweek gehad. Hier by ons was dit snikkend warm, maar ons het darem gisteraand ‘n paar druppels gekry wat dit bietjie afgekoel het.
Vanoggend gesels ek graag weer oor dankbaarheid, hoe kan ons anders? Ons het gister ons tweede dankdiens gehard en gedurende hierdie dankdiens het mense getuig van ons Koning se goedheid in die jaar wat verby is.
Een van die gesinne wat getuig het, was die van ons Namibiese Rugby kaptein wat die land gelei het tydens die wêreldbeker. ‘n Jongman met ‘n pragtige vrou en twee kindertjies.
Hy het onder andere ‘n paar jaar gelede vir vyf jaar vir Frankryk rugby gespeel. Met die wêreldbeker kom Namibië toe teen Frankryk te staan. Gedurende hierdie wedstryd, duik hy die Franse kaptein, en hulle koppe stamp teen mekaar. Dit was so ‘n hard duikslag dat die Franse kaptein se skedel gekraak het. Die Namibiese Kaptein se wedstryd eindig net daar met ‘n geel kaart wat later na ‘n rooi kaart gegradeer word nadat dit bekend word wat die omvang van die besering is.
Chaos volg vir hierdie jongman en sy familie. Buiten die teleurstelling om nie die wedstryd te kon klaar speel nie, breek die hel los in Frankryk. Hy ontvang doodsdreigemente, sosiale media ontplof soos ‘n vulkaan met allerhande lelike dinge wat hom toegesnou word.
Sy vrou en kinders word na hom geneem in die hotel. Sy vrou waarsku voor die tyd hulle seuntjie van vyf om te onthou dat sy pappa dalk kan hartseer wees omdat hy ‘n rooikaart gekry het. Die mannetjie stap by die hotel kamer in en sê aan sy pappa: Pappa, ek is jammer dat jy ‘n rooi kaart gekry het, maar dit is ok, kan ons nou gaan karretjies speel asseblief.
Hy maak hierdie hele drama wat die wêreld besig is mee, as niks af nie. Hy ken sy Pappa, en weet wie hy is en dat hy die rooikaart-situasie ook sal hanteer.
Dit is dan ook die jongman se getuienis, ongeag hoe teleurgestel hy was, hy het geweet sy Vader sal hom hierdeur ook dra.
Hebreërs 12:28Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.
Die wêreld om ons is veranderlik, maar ons God is onwankelbaar en altyd dieselfde. Kyk om jou en wanneer jy glo jy het niks om voor dankbaar te wees nie, sal jy vind daar is iemand anders wat nog minder as jy het om voor dankbaar te wees.
Doen dan weer ‘n opname en jy sal vind, dat jy ‘n oorvloed van dinge het waaroor jy moet dankbaar wees. Loop jou pad met jou hand in die van Christus, en jy sal altyd bewus wees van hoeveel jy het om voor dankbaar te wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking