Vriende,
Vertrou julle het ‘n goeie naweek gehad. Hier by ons het dit Saterdag gereën en ons is baie dankbaar daaroor. Die laaste week in November het voorwaar aangebreek.
Vanoggend wil ek bietjie oor vrees met julle gesels. Ek hoor dat daar veral van die manne is wat sê: Ek vrees niks.
Dit is egter nie waar nie, want as jy ‘n boer is of jy nou in die Namakwaland boer met skaap, of koring en of jy nou ‘n Olifantsrivier boer is wat met druiwe, tamaties, groente of wat ook al boer – jy bekommer jou oor iets. Wat dink jy is dit anders as vrees?
Ek dink terug aan hierdie jaar en die baie water wat daar in daardie selfde Olifantsrivier vallei gelê het. Wingerde was vir lank oorstroom. Nie een maal nie, twee maal.
Die oes moet aan die begin van volgende jaar daar wees. Gaan daar ‘n oes wees? Jy sal self al hierdie antwoord kan gee … ek ken ook die antwoord want ek het vriende en familie wat daar woon en boer.
Van dit wat ek gehoor het, lyk die prentjie nie so rooskleurig nie.
Dit is nie al waaroor daar vrees is nie, dalk het jy siekte in jou familie, dalk moet jou kind volgende jaar begin werk, en jy weet nie waar sal jou kind werk kry nie. Dalk bekommer jy jou oor die invloed van politiek in jou omgewing, want dit raak jou direk.
Wat nou gemaak met al die dinge wat ons elke dag lewe noem wat vol struikelblokke kan wees. Wat nou gemaak met die vyand wat ons net wil bly oortuig dat dit nooit goed sal gaan nie, dat alles nie sal uitwerk nie, ens.
Eerstens moet jy weet in wie jou krag lê. In jou God. In die bloed van Jesus wat jou vrygekoop het.
Tweedens moet jy weet dat die vyand altyd, altyd ‘n leuenaar is en die gemors wat hy in jou oor fluister moet jy dadelik van vergeet.
Inteendeel, jy moet soos ons pastoor die ander dag gesê het hom terugstuur van waar hy kom – stuur hom hel toe, dit is waar hy hoort.
Jy kan hierdie net weet en glo as jy elke oggend wanneer jy jou oë oopmaak weet en besef hierdie dag kan ek net loop en leef met my hand in God se hand. As jy weet en besef hoe lief God jou het, en jy Hom ook lief het. Jy ook bereid is om al sy beloftes in sy woord te glo en dat Hy altyd die beste vir jou wil hê.
Ek het ‘n hele paar verse hier onder. Kyk gerus na elkeen. Daar is nog baie, baie meer in die Woord. Gaan kyk daarna. Kies vir jou een, skryf dit op ‘n papiertjie, hou dit in jou sak. Lees dit deur die dag. Glo my daar is geen beter manier as om die vyand met sy nonsens te verjaag as om hom aan God se woord te herinner nie. Dit is wat Jesus ons geleer het toe die vyand hom in die woestyn versoek het – Hy het die duiwel verjaag deur die te herinner aan God se beloftes in sy woord.
Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
1 Johannes 4:18
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou;
kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.
Ek versterk jou, ook help Ek jou,
ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Jesaja 41:10
Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
Psalm 56:4
Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.
Josua 1:9
Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.
2 Timoteus 1:7
Die vrees vir die mens span 'n strik;
maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word.
Spreuke 29:25
LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.
Johannes 14:1
Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
Romeine 8:15
Elke een van hierdie beloftes is waar, hou daaraan vas. Sorg dat dit jou anker, jou gids, jou bemoediging, jou alles is. Moenie luister na mense se negatiewe woorde nie en nog minder na die vyand s’n.
Om dit laastens mooi vir jou te verduidelik: As jy iemand onvoorwaardelik lief het en vertrou vrees jy mos nie dat daardie persoon jou sal skade doen nie.
God het jou meer lief as onvoorwaardelik!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking