Donderdag 23 November 2023

Jou keuse ...


 Goeiedag Vriende,

Die week is byna op sy einde en dit is diep somer hier by ons in Windhoek. Daar is darem ‘n paar wolkies in die lug, en ons hoop hulle voorspel ‘n bietjie lafenis vir ons later.

Vanoggend wil ek bietjie stilstaan by ‘n vers in Jeremia wat ons almal sekerlik ken, maar tog vind ek dikwels dat mense net die eerste deel daarvan lees en nie die daaropvolgende verse wat net so belangrik is daarmee saam nie.

Ja, ek verwys na Jeremia 29:11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

In die eerste gedeelte van die vers 11 vertel God ons dat Sy planne vir ons goed is, dat Hy wil hê dat dit met ons goed moet gaan en ons voorspoedig moet wees in ons toekoms.

Maar die tweede deel is baie meer belangrik as ek so daarna kyk. ‘12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.’

God ons Vader weet wat Sy planne vir ons is, tog begeer Hy dat ons hom sal aanroep, sal bid tot hom. Ons afhanklikheid van hom sal verklaar. Sal vra na Sy wil vir ons lewens en nie ons eie nie.

Daarop volg die pragtige troos en belofte: ‘Ek sal julle gebede verhoor … julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.’

Is ons bereid om God se wil vir ons lewens te volg? Vra ons met ons hele hart daarvoor, bid ons tot Hom met ‘n verwagting. Of probeer ons Hom net in boelie in dit wat ons vir onsself wil hê?

Hierdie belofte is baie duidelik, daar is niks aan hierdie verse wat jy kan misverstaan of waarmee jy verward kan wees nie.

Jesus was ons voorbeeld in Getsemane … selfs daar, terwyl Hy die Seun van God, self God, bloed gesweet het van angs aan die gedagte dat Hy die beker van sonde moes drink het Hy steeds gevra …’laat hierdie beker by my verby gaan my Vader, maar nie my wil nie U wil.

Ons sal nooit in ons lewens ‘n beker soos daardie hê, wat ons so sal laat bloed sweet nie, want Jesus het dit reeds namens ons gedrink. Dus die ‘bekers’ waarmee ons sukkel sal nooit so erg wees nie, hoekom kan ons nie soos Jesus in gehoorsaamheid tot ons Vader leef en ook Sy wil in alles in ons lewens soek nie.

Die beloftes is duidelik, baie duidelik. Of ons daardie beloftes ons eie gaan maak, is ook ons keuse, die grondwerk is reeds deur Jesus gedoen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...