Goeiemôre Vriende,
Dit is Vrydag, die week het regtig so vinnig verby gesnel. Steeds glo ek alhoewel daar mense is wat nog nie klaar is met die werk wat hulle die week wou afhandel nie, is hulle ook dankbaar vir die ruskans.
Vanoggend lees ek Job 2 en lees ‘n baie waardevolle les raak wat Job vir ons agtergelaat het.
Job word getref deur pynlike sere as deel van die duiwel se plan om hom te laat opstaan teen God. Dit was ook nie die begin van die rampe wat hom getref het nie, hy het reeds al sy kinders en sy groot en kleinvee verloor.
Steeds het satan se plan nie gewerk nie. Job het bly staan.
Job 2:9En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”
10Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos 'n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”
Vandag weet ek nie of daar nog mense met so ‘n sterk geloof soos Job is nie. So maklik beskuldig ons God as daar iets in ons lewens verkeerd gaan. As met ons moet gebeur wat met Job gebeur het, wonder ek wat ons reaksie sal wees.
Job staan vas en vra: moet ons dan nie die slegte wat met ons gebeur ook vat as ons bereid is om al die seëning te vat wat na ons kant toe kom nie?
Wie van ons gaan sit en maak ‘n opname van al die wonderlike dinge wat God al vir ons gedoen het as ‘n ramp ons tref? Nee, ons kyk ons net vas in die ramp.
Miskien moet ons Job se perspektief op die lewe aanleer. Daar gebeur daagliks soveel wonderlike dinge met ons wat uit ons Vader se vrygewige hand kom. Dit aanvaar ons baie male as vanselfsprekend, sonder om eers daaraan te dink of Hom daarvoor te dank. Dit is ‘n heel ander saak as daar iets slegs met ons gebeur.
God ons Vader bly God – deur goed en sleg. Hy bly lief vir ons, en bly ons elke dag se maat van genade verniet gee. Ons moet in Hom geanker bly, want Hy is immers ook die Een wat ons deur die swaar tye sal dra.
Luister gerus na die lied se woorde, dit is so gepas vir hierdie boodskap.
Mag julle ‘n mooi en rustige naweek geniet.
youtube.com/watch?v=22WoEYfuZN0
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking