Vrydag 10 November 2023

Jou gedagtes ...


 
Goeiedag Vriende,

Ek verneem dat die hitte daar by julle aangekom het, of dan ten minste beslis in die Kaap. Hier by my is 35 warm maar draaglik, ek weet daar by julle is dit anders met die vog. Sterkte as dit by julle ook so warm is.

Gisteraand by die Bybelstudie groep waar ek inskakel, het ons gesels en gekyk na hoe gevaarlik ons gedagtes is. Dit is eintlik waar al die onheil begin. Sonder dat jy agterkom dink jy gedagtes van kwaad, gedagtes van vergelding, gedagtes van wellus en baie meer. Jou brein vorm denkpatrone, wat soos wildpaadjies in die veld is. En jou gedagtes gaan onwillekeurig op daardie paadjies as jy hulle nie doelbewus keer nie.

Kyk wat vra God van ons in Romeine 12.

1En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.


Eerstens word ons gemaan om ons as lewende en heilige offers vir ons Vader te gee.

Tweedens word ons gemaan om nie soos die wêreld te dink en te doen nie. Hoe sal ons dit regkry? Die antwoord is ook daar: ‘… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …’

Ons sal nie maklik daardie denkpatrone op ons eie verander nie. Dit mag denkpatrone wees van haat en vergelding teenoor iemand wat ons seer gemaak het. Dit mag denkpatrone wees van begeerte van iemand ander se goed. Dit mag denkpatrone wees van jaloesie omdat dit so goed gaan met iemand anders en sovele meer.

Hoe moet ons nou maak? Kom ons kyk na wat Paulus sê in 2 Korintiërs.

2 Korintiërs 10: 3Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.

4Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies

5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Nooit stry ons die stryd alleen nie. Met die hulp van die Heilige Gees kan ons dit regkry. Sodra ons hierdie verkeerde gedagte begin dink, stop ons dit. Vra ons onsself of God wat ons gedagtes sien, gelukkig sal wees met daardie gedagte. Vra ons Hom om daardie gedagte net weg te neem.

Maklik? Nee, nie maklik nie. Oor en oor totdat ons denkpatrone ontwikkel wat vir God welgevallig is.

Afrekening vir die dinge wat mense aan ons doen, behoort nie aan ons nie. Daarom kan ons elke keer as iemand ons seermaak of te na kom net na ons Vader gaan en dit net daar by Hom gaan los. Hom vra vir Sy vrede oor die aangeleentheid en nie verder ons eie lewens versuur met haat gedagtes nie.

Kom ons neem daardie negatiewe gedagtes dadelik gevange en weier om ons verder siek te maak daarmee. Dit is die dinge wat ons laat hartseer raak, laat depressief raak.

Kies vandag om jou gedagtes te leer om op paadjies van dankbaarheid, liefde, vergifnis en vreugde te stap.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...