Vriende,
Ek is hopeloos laat vandag. Ten minste kan ek met julle die goeie nuus deel dat dit heerlik hier by ons gereën het van gisteraand af en nog gaan reën.
Ek het eers vanoggend 'n vriendin gaan bederf op haar verjaardag wat eintlik al gister was. Sy is een van daardie mensies wat altyd besig is en altyd 'n hart vir ander het.
Ons kan altyd lekker saam lag, raad vra, bid of sommer net lekker gesels. Sy is die een persoon wat my altyd laat klink soos die wêreld se beste skrywer en lees ook elke boek wat daar uit my pen verskyn.
Ons het almal so 'n persoon nodig, iemand wat altyd eerlik en opreg is. Wat jou ondersteun in alles wat jy doen en selfs vir jou tyd maak al is hulle hoe besig.
Wat nog vir my wonderlik is van hierdie vrou en haar familie is dat hulle vir mekaar tyd maak. Haar man is 'n skoolhoof by een van die privaatskole in Windhoek, sy werk by 'n nasorg in die namiddae, haar kinders, wat almal getroud is, werk almal.
Deur die week sal sy waar sy tyd het met 'n vriendin koffie drink, Vrydae namiddae is haar en haar man sy tyd, dan gaan drink hulle alleen koffie. En naweke word daar met al die kinders saam gekuier ten minste een middag of aand.
Dit bring my terug na my siening van tyd en mense waarvoor jy omgee: as iemand of iets vir jou belangrik genoeg is, sal jy tyd maak vir dit.
Bo aan jou lys moet jou God wees, daarna jou man/vrou, daarna jou kinders en daarna die res van die mense in jou lewe.
As daardie rangorde reg is, sal jy altyd tyd vir almal hê en daar sal liefde en respek wees.
Mooi naweek vir julle.
My dank aan Solly Levi vir die gebruik van sy uitmuntende foto.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking