Maandag 20 November 2023

Wat is jou verwagting?


 Goeiemôre Vriende,

Hoop julle is lekker uitgerus na die naweek. Hier is dit heerlik met ‘n ligte windjie wat met die blare speel. By julle sien ek is dit ook nie te warm nie, en daar is self voorspelling van bietjie reën.

Ek het hier aan die begin van die nuwe week vir jou ‘n vraag. Wat is jou verwagting van ons Vader die week?

Verwag jy dat dinge na die einde van die jaar toe net erger sal raak? Dat die situasies in jou lewe net op rampspoed sal uitloop? Dat jy kind dalk nie sy of haar matriekeksamen sal slaag nie? Dat jy nie met vakansie sal kan gaan nie, want die finansies is net nie daar nie? Dat daardie siek familielid net sal sieker word?

1 Korinthiers 2:9 Maar soos daar geskrywe staan:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”

en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,

dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet


Hier kom Paulus en bas ons bubble. Wat beteken hierdie vers nou eintlik? Dit beteken dat ek en jy geen idee het hoe graag God ons wil seën of van die omvang van die seëninge wat Hy vir ons het as ons Hom lief het en getrou in sy weë stap nie.

Hy ken ons harte, Hy weet of ons op Hom vertrou vir alles in ons lewe. Hy weet of ons strewe elke dag is om Sy wil te doen in alles.

Hy wil sy kinders beloon, hier op aarde al reeds. Ons is egter ons eie grootste vyande. Ons glo nie dat God ons wil seën nie. Ons glo nie dat dit vir ons beskore is dat iets goed met ons moet gebeur nie. Dat God ons wil guns gee nie.

Hoekom glo ons dit nie? Omdat die vyand jou met leuens voer en jy eerder die vyand se leuens glo oor jouself. Jy kry dit nie reg om te glo dat God jou, met al jou foute wat jy maar te goed ken, kan so liefhê nie.

Dan is dit miskien tyd dat jy meer Sy woord lees. Gaan kyk na al Sy beloftes daar vir ons, vir jou en vir my vandag nog.

Dawid het dit so mooi gesê in Psalm 16:5-6: Here, U is my lewe, U sorg vir my.

Wat ek ontvang, kom alles van U af.

6'n Pragtige deel is vir my afgemeet,

ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.


Was Dawid sonder sonde? Nee, hy was ongehoorsaam, net soos ons soms is. Die verskil is, hy het dit geweet en dit nie daar gelos nie. Hy het erken toe hy besef het dat hy gesondig het. Hy het vergifnis gevra omdat hy besef het sonder God, sonder sy liefdevolle Vader kan hy nie leef nie. Verder het hy nie toegelaat dat die vyand hom met leuens voer nie, maar sy deel geneem wat God vir hom so graag wou gee.

Kom ons luister na die stem van die Heilige Gees, kom ons erken as ons verkeerd doen en vra vergifnis. Daarna staan ons soggens op met ‘n verwagting in ons harte, ‘n verwagting om te sien wat God vandag vir ons wil doen.

Soos ‘n kleinkind wat nie kan slaap die aand voor sy/haar verjaardag nie, omdat hulle te opgewonde is om te sien watter geskenk hulle Pappa en Mamma vir hulle gaan gee.

So opgewonde moet ons wees oor die geskenke wat ons Vader ons elke dag wil gee.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...